Aletté-Johanni Winckler blog: "Feeskos, roosterkoeke, terte... ek't staande gebly!"

SARIE September 2010

Liewe vriendinne, kom ek begin sommer deur te sê dat indien hierdie die eerste keer is dat jy my Projek 64-blog lees, wil ek jou asseblief sommer net daar en dan in jou leesspore stuit.

Jy gaan nie lekker weet wat aangaan nie en ek gaan lyk soos 'n selfvoldaande, obsessiewe vrou wat behep is met kleinlikhede (wel eintlik GROOT-likhede). So, asseblief begin eerder by die begin en volg die proses, die emosies, die trane, die drama en intrige (soos met 7de Laan).

Nou goed, vir die res van my vriendinne (en daar is selfs 'n paar vriende) wat elke weet so ONGELOOFLIK ondersteunend en opbouend is hier is die weeklikse uitreksel en status van Projek 64.

Julle weet nou ek was vir 'n week weg na Kimberley, Kuruman en dit voel soos elke ander stad in Suid-Afrika wat met 'n "K" begin! Toe ek laasweek Maandagoggend toe op my eie skaaltjie klim was ek toe altesaam so  5.9kg ligter. Met ander woorde stadig maar seker kom daai een beentjie darem al in albei my broekspype van vroeër.  Ons was skaars 'n paar dae by die huis toe vat ons weer die pad na Innibos in Nelspruit.

Nou, enige Suid- Afrikaner wat al by 'n kunstefees in ons mooie land was, sal weet dat slaaie, lemoenpampoentjies en blomkool nie eerste prioriteit op die spyskaart is nie.

Maar kom ons begin by die begin. Daar aangekom (ons het in familie se huis gebly), wag daar vir ons 'n heerlike tuisgebakte quiche in die yskas. Net daar en dan moes ek al quiche om nie betrokke raak by hierdie versoeking nie.

Terwyl die res van ons span hulle verlustig het aan die spinasie-en-feta, het ek en die Dokter in die hoekie gesit en kuier. Heinz se klankman se vrou, Denell, wil ook graag met die Dokter kennismaak, maar het besluit om te wag tot ná die naweek (WAT 'n BAIE WYSE BESLUIT WAS), want blykbaar gaan sy eerder bykans dood voordat sy moet uitmis op "Kobus se gat". Ek weet dit klink snaaks, veral as 'n mens in ag neem dat haar man se naam Petru is, maar Kobus (en sy gat) is blykbaar by elke fees in die land te vinde. En wat hy verkoop is klaarblyklik die moeite werd om te volg van KKNK, na Bethal se Aartappelfees, na Brits se Aarbeifees, na Innibos en Aardklop (om net 'n paar van ons land se 88 offisiële feeste te noem).

Die man lok sy klante met roosterkoeke wat gevul is met enigiets waaraan jy kan dink! Daar is ontbeende ribbetjie en kaas, konfyt en kaas, en ek is seker selfs slaptjips en kaas op daardie spyskaart. Die hele naweek loop ek sulke draaie om die kos stalletjies, net te bang dat ek dalkies met Kobus moet kennis maak.

Dit sal kompleet voel of ek die Dokter verneuk met Kobus se gat? So stap ons op en af in die gangetjes by die stalletjies en verlustig my aan die mense met die chips on a stick en bakkies vol van mini doughnuts. Elke nou en dan spring daar iemand voor jou in met 'n bakkie vol van klein blokkies grondboon-brittle vir elkeen om te proe - nes die slang met die appel in die tuin van Eden. Ek staan sterk en dink hard aan hoe ek Desembermaand met my nuwe kleiner bikini op die strand gaan lê. (Gelukkig maak bikini-broekies rekmerke op boude toe)

Maar teen Saterdagaand wys Denell my uit wat eintlik die heeltyd lewensgroot voor my staan.

Ja, julle het reg geraai: Kobus en sy kolossale gat. Denell voel eintlik sleg dat sy my bewus gemaak het daarvan en belowe plegtig dat hulle nie voor my verder daarvan sal praat nie en ook gladnie voor my daarvan sal eet nie.  Dit het toe nou nie so uitgewerk nie en 'n paar ure later sit sy, Petru en Heinz elk met een (en 'n halwe) roosterkoeke in die hand terwyl ek met my mooiste seuntjie rondloop en dink aan Desember!

Wel, ek het staande gebly, te midde van die koeke en terte en al die ander hartverskeurende sondes wat my probeer verlei het. Ek en die Dokter is (vir eers) aan die heup verbind. En hopelik een van die, wel, weke, is daar nie meer 'n heup om aan verbind te wees nie!

So vriendinne, julle beter bid. Hierdie week is dit Aardklop EN SKOUSPEL en ek weet nie eintlik hoe hulle die Dokter in ons kamer by Sun City gaan toelaat nie, ek sal maar net sê dit is 'n NOODSITUASIE!

Ek hou julle op hoogte.

P.S So by the way, na vanoggend se ontmoeting met die skaal is daar altesaam 6.7kg weg. Met ander woorde, vir julle wat nog nie vir juffrou Bull ken nie, daar is nog 13.3kg en so 6weke oor...You do the math! 

Verwante artikels

Kommentaar

  • Waar is jy my inspirasie? ek LOVE jou blog en kan nooit wag om te sien hoe ver jy gekom het nie......in 'n mate help dit my ook om gemotiveerd te bly. Sterkte en ek hoop jy skryf sommer vinnig weer!!!!

    7de Okt. 2010, 15:17
  • Dis skokkend dat ek ook nou tot die besef kom, aangesien vandag die 1e Oktober is, dat daar net 9 weke oor is voor die 1ste troue in Desember, dan nog 'n week vir 'n 2de troue in Desember, Kaap, vakansie! Eish.. Nee kyk - ons kan net eenvoudig nie aanhou om langer verskonings te maak nie!!! Hou aan inspireer!

    1ste Okt. 2010, 12:29
  • Hey Maat... Ek is nou sommer honger!!! Haha. Grap net. Wil net die positiewe deel van Aardklop en Skouspel vir jou uitlig. DENELL PALMER is nie daar nie so Kobus en sy Gat en al die wonderlike (eintlike sonde) terte en koeke gaan jou nie pla nie. Baie trots op jou en baie dankie vir die inspirasie. Volgende keer is dit my beurt om in die hoek te sit saam met die dokter! Geniet Aardklop en Skouspel! Liefies vir Lian!

    30ste Sep. 2010, 07:20
  • Ek geniet jou blog verskriklik Alette! Kan nie wag om elke week die update te lees nie. Haal my hoed af vir jou deursettingsvermoe,het self 10kg om af te skud teen Desember,maar ai,een kyk na 'n stukkie suiker en al my weerstand verkrummel!Het ook 2 kinders,6 en 3, en dit is die laaste een se 10kg wat ek net nie afgeskud kry nie. You go girl!

    29ste Sep. 2010, 19:16
  • Go Lette - GO!!!

    29ste Sep. 2010, 10:31
  • Ek deel absoluut jou pyn!! My baba is net so oud soos joune, en ek moes maar ook 'n plan maak, wil baie graag Desember met sus en die twee ouer klonge op die Kaapse strand baljaar sonder om te lyk soos 'n drillende jellievis op droe grond! Aardklop is in ons tuisdorp en eks 'n groot Kobus se gat Addict! Weet net iewers in Potch is 'n medesuster wat wye draai om die gat loop, en die enigste ou lafenissie by die Klipdrift tent sal water of Sprite Zero wees!

    29ste Sep. 2010, 10:15
  • Wow ek is so bly vir jou!! Ek weet hoe moeilik dit is as almal om jou die lekkerste kos eet en jy kan nie! Ek moes my kos Kersfees, nuwejaar en selfs op my 21st eet en dit was hel! (Daar was soms aande wat ek selfs gedroom het ek eet sjokolade :-) ) Ek studeer nog en dit was vir my so moeilik om my ou kossies elke dag saam te neem kampus toe (...koue kos eet) en om dan nog te moet kyk watse lekker kos al my ander vriendinne langs my eet. Soms het ek gevoel ek wil net tou opgooi...maar om elke week te sien hoe 'n paar gram afval het ek maar net myself moed in gepraat en gedink ek is nou in dit...ek het nou al 'n paar weke deur gemaak, so hoekom al daai harde werk net so weg gooi?? Ek is nou so 4 maande van die dieet af...en 25kg ligter! Vasbyt dis regtig die moeite werd!!!!!!

    28ste Sep. 2010, 16:37
  • Waar kan ek hierdie dokter van naby leer ken?

    28ste Sep. 2010, 16:16
  • Hi Alette-Johanni, Ilani hier van PE. Ek en my man het ook verlede week met die dokter se dieet begin!!! Moet eerlik se, dis nie maklik nie, maar ons gaan uithou. Hy het teen Maandag(na 'n week op die eetplan) 4kg verloor, en ek het maar net 2,2kg verloor:-((((. Daar is vir ons gese dat mans vinniger verloor as vrouens so ek gaan maar net MOET vasbyt en nie moed verloor nie.Ons wil altwee 10kg verloor en as ons so volhou sal dit nog 3 weke wees, en dan begin die "re-feeding"plan wat dit glo baie makliker gaan maak. Ek wil net vir jou se jy is rerig 'n inspirasie vir my en ek kan nie wag om elke week 'n "update" van jou te kry nie. Jy doen BAIE goed sover, en hou so aan!!! Ons is in dieselfde bootjie en ons gaan NIE sink nie!!! VEG VOORT!!!!Groete van die winderige PE.

    28ste Sep. 2010, 16:01
  • Ek's WOES trots op jou!!!!

    28ste Sep. 2010, 15:17
  • Ai Alette Ek weet presies hoe jy voel. My baba is nou amper 8 maande oud. Ek het ook 25 kg opgetel. Ek het tot dusver 19kg verloor. Ek is ook moeg om vet te wees, en wil desember maand in 'n bikini klim. (ek sal dit nogal like as mense kan se, Sjoe jy lyk goed vir 'n nuwe mamma) Maar - ek gaan ook nou met Dr. Cohen begin. Gaan koop ook vir jou die boek: The Gabriel Method - John Gabriel. www.gabrielmethod.com. Dit werk rerig.! Sterkte, ek weet hoe moeilik dit is om veral op te staan en te gaan oefen, veral na 'n moeilike nag met baba. Maar ek glo dit vet is ons vrouens se straf vir die appel in die tuin van eden ;-).

    28ste Sep. 2010, 15:01
  • Allette, Ek haal my hoed vir jou af. Ek het twee kiddies, dogterjie 6 en seuntjie nou 2. Ek het nog so 10kg om te verloor. wil ook teen desember dit regkry. Ek volg nou nie die dokter nie, maar eet gesonder en doen oefening. Lees jou blog en jy hou my ook gemotiveerd. Dit is moeiliker om seuntjie se vetjies na swangerskap te verloor as met my meisiekind, maybe ook omdat ek ouer is.. Sterkte en jy is great!!

    28ste Sep. 2010, 14:02