Aletté-Johanni Winckler blog: Survivor by Skouspel!

SARIE - Oktober 2010

Ek is seker julle almal is baie nuuskierig om te hoor hoe die eerste naweek van Skouspel afgeloop het?

As ek dit nie mis het nie, is daar ‘n RSG-program: "Wat sê die dokter?" Nou maar kom ons vind uit wat hy sê. Ek dink as hierdie metafoor ‘n mond en arms gehad het sou hy my op die skouers klop en vir my vertel hoe trots hy op my is. Dis nou presies 5 weke nadat ek en die Dokter versoen het, en in hierdie tyd het ek letterlik dit wat my baba (amper) nou weeg verloor: 8.7 kg!

Dis nogmaals rof om daai mannetjie vir 5 minute in een arm vas te hou, want dis amper asof die Nazi langs my staan en my dril. My bo-arm spiere brand van hier af tot in die Kaap en dis eintlik vreemd en ongelooflik om te dink dis soveel gewig wat al gesmelt het.

Ek is seker julle almal is baie nuuskierig om te hoor hoe die eerste naweek van Skouspel afgeloop het? Wel, al wat ek kan sê was: " DIT WAS NIE MAKLIK NIE!" Ek moes nog Vrydagmiddag en Saterdagoggend kliënte sien, en ek en Lian het eers Saterdagmiddag saam met vriende deurgery. Dankie tog daarvoor want ek sou dit seker nie gemaak het as ek ‘n dag langer daar was nie. Die hotelkamer het gelukkig ‘n yskassie maar nie ‘n mikrogolfoond nie so ek kan nie my eie kossies vat om warm te maak nie en moes Saterdagaand 2 verskillende disse kamer toe bestel om een dis te kan maak wat ek wél (soortvan) kan eet.

Ja ja ja, ek moet bieg ek het die kosskaaltjie by die huis gelos en Saterdagaand was die grootte van my handpalm aansienlik groter as normaalweg, maar ek moet bieg dié bietjie rebelsheid maak die lewe opwindend! Maar julle kan verseker steeds trots wees, daai Kit-Kats en Bar-Ones in die mini bar het vir my gelê en loer en ek het hulle een vet koue skouer gegee.

Sondagoggend se ontbyt was vir my soos ‘n episode uit Survivor (en ek was NIE die aanbieder nie). Al wat ek kon eet was Bulgaarse jogurt met ‘n bietjie koffie en versoeter in om dit ‘n cappuccino smaak te gee. Almal rondom my verlustig hulle aan eiers, worsies, spek, vrugte, pappe, omelette, croissants en brode, en hier is my jogurt nog baie suur en loperig ook, en ek, baie dikbek.

Almal moes dink dat ek en Heinz ‘n lekker bakleiery aan die gang gehad het want ek was bitter jaloers op dit waaraan hy kon weglê sonder om te blik, te bloos of te bloat. Dis baie moeilik in die vakansie atmosfeer met swembaddens en watervalletjies om nie te dink aan vakansie-kos nie. Daarom is dit UITERS belangrik dat hierdie lyf uitgesorteer is teen die tyd dat ons op ons REGTE vakansie gaan (waar daar ‘n REGTE see en REGTE rotse is)

Donderdagaand het ons vriende oorgenooi en my vriendin, Eidde, het daarop aangedring om die kos te bring omdat hulle so reg in die middel van baba bad- en voedtyd aankom en hierdie mamma letterlik ‘n halfuur voor haar gaste by die huis aangekom het. Eidde is ook beste vriende met die tweede vriendin vir elke vrou: Woolworths (SARIE bly natuurlik nommer een) en saam met die lekker wyn, hoenderdis en aartappels waaraan die 3 van hulle gesmul het, is die grootste skok op my sisteem die Chocolate Marshmallow Brownie Pudding wat na 10 sekondes in die mikrogolf heelwat anders lyk as dit wat ék vir my uit die mikrogolf haal.

Dit raak nou ‘n gereelde storie dié dat ek so versoek word om te faal. Ek het selfs besluit om eerder hierdie naweek naby die dokter in my huisie te bly (nee ek het nie my man verruil nie) as wat ek sonder hom die pad vat Sun City toe. Dit kan so maklik vir my Sin City raak. Gisteraand was dit weer ‘n vriendin se verjaarsdagete in Melville. Die Portugese rolletjies en garnaal-koekies het gevloei maar ek het my steak(ie) geskat en ‘n ou slaaitjie daarby probeer laat lekker lyk...;-(

Hierdie week by die Nazi was uitdagend maar sy is darem baie beindruk met die vordering aan haar "Projek" se lyf. Wat dit moeilik maak is as sy vir ‘n week weg is, of ek is vir ‘n week weg, is daar geen stopwatch en fluitjie wat my uit die bed kry nie... So die eerste sessie daarná is gewoonlik soos die heel eerste sessie so reg in (uit) Auschwitz se kraal. Gelukkig het Heinz besluit om sy vrou te kom beskerm (en aanmoedig) en is nou saam met my in die 'konsentrasiekampie'. (Hy's ook eintlik maar lekker bang vir Hitler.)

Vriendinne, ons is dus darem al amper halfpad, en eintlik weet ek as ek meer water gaan drink en meer gereeld my tekkies gaan aantrek gaan dit baie vinniger as 5 weke vat. As ek net juffrou Bull kan nader trek sal jul sien dat die gemiddelde verlies so 1.74 kg per week is, en dit laat my by 6 en ‘n half weke wat oorbly. Ek gaan dit probeer druk vir 5 weke, m.a.w. teen 15 November 2010 moet projek 64 AFGEHANDEL wees en dit sal my net genoeg tyd laat om daai los velle lekker ferm te kry voor Desember.

Deal...or no deal?

Deal.

Verwante artikels

Galery

  • Aletté-Johanni Winckler aan die oefen
  • Aletté-Johanni Winckler aan die oefen

Kommentaar

  • My baba word more 11maande, en ek sit nog met 10kg om te verloor, nou moet ek byse ek borsvoed nog ! Maar ek moet se jy het my ook aangemoedig om ten minste elke dag bietjie te begin stap, en ek kan al klaar 'n verskil sien, in 4 weke so 3kg verloor. Vanoggend het ek begin draf tussen die stappies, en dit voel goed. My mikpunt is Two Oceans se 21km volgende jaar. Dankie vir jou blog, dit help baie om te lees! En baie geluk met jou resultate sover!

    16de Okt. 2010, 15:51
  • You can do it! amper 10kgs in 5 weke is 'n GROOT inspirasie; wys ons dit kan gedoen word! Sterkte, jy is halfpad daar!

    11de Okt. 2010, 15:21
  • Ek het vandag al jou blogs gelees! Baie geluk met wat jy al bereik het, jy is 'n voorbeeld vir so baie mense. Jy is so 'n stunning mens! Ek en my man probeer nou al vir 15 maande om swanger te raak. Na al die hormone wat so op hol is na die pille, het ek so 2 weke terug besluit ek gaan my fokus op iets anders plaas. Ek het ook vir my 'n "hitler" gekry en eet die regte klein porsies wat vir my voorgeskryf is. Ek moet nog 10kg verloor, so Desember gaan ek glad nie skaam wees om in my bikini langs die swembad te le nie... :) en as die Here wil 'n broodjie in die oond he.. :)Baie sterkte en wel gedaan!

    11de Okt. 2010, 14:55
  • Kom ons probeer weer hierdie keer!Jy kon nie my kommentaar kry nie en vertrou dat jy die keer gelukkig gaan wees!Dankie dat jy my ook aan die dr voorgestel het...WAARLIK 'n wenner...Ons gaan deurdruk my kind en ons gaan nie weertoegee en opslipppppppppp nie Trots opjou!

    11de Okt. 2010, 14:39
  • Nee hel, jy lyk al klaar goed! My baba is nou 10 weke en hierdie spaarwiel om my middel is so grillerig. Ek probeer ook nou mooi eet en oefen. Sterkte vir die laaste 5 weke!

    11de Okt. 2010, 12:05