André Le Roux: 10 dinge gelyk
"Jy knyp net die bakkie jogurt tussen jou bene vas. Maklik!"
Sy praat oor die telefoon terwyl sy in ’n kospot roer en terselfdertyd lees sy gou ’n SMS terwyl sy – “hou net gou aan” – bevele uitdeel aan enigeen binne hoorafstand – “ekskuus, waar was ons?” – en die hond onder haar voete uit verjaag.
Jy’s gewoonlik die een binne hoorafstand, nie die hond nie.
“Die vuilgoedsak! Kan jy nie sien ek praat oor die foon nie?”
Só hou sy twee gesprekke gelyktydig aan die gang (terwyl sy gou kyk of daar nie dalk ’n e-possie is nie . . .)
Multitasking, noem hulle dit. En vroue is beroemd daarvoor. Nou’s daar breinnavorsers wat sê dis ’n mite – die brein kan hoogstens twee goed gelyktydig doen, meestal net een. Jy kan byvoorbeeld TV kyk en eet of brei, maar jy kan nie TV kyk, eet én brei nie. Jy kan motor bestuur en gesels, want motor bestuur kom outomaties. Maar jy kan nie motor bestuur en op jou selfoon praat nie, al dink jy so.
En terselfdertyd ’n bakkie jogurt eet . . . nee, jy’t nie genoeg hande nie. (“Jy knyp net die bakkie jogurt tussen jou bene vas, man. Maklik!”)
Hulle het vasgestel as jy oor jou selfoon praat terwyl jy bestuur, trek jy stadiger weg en ry jy makliker in die ou voor jou vas. Dis buitendien onwettig. Trouens, ’n 2006-studie het gevind jou aandag skuif geleidelik na die selfoongesprek en weg van wat op die pad aangaan.
En probeer maar na die nuus luister terwyl jy dié rubriek lees . . . jy kan wel lees terwyl jy na musiek luister, maar dan ook nie musiek met lirieke nie. Jy gaan woorde verloor, al ken jy ook die liedjie se woorde. Die taalsentrum in jou brein word oorlaai.
Jy kan oor die telefoon gesels en ’n SMS lees, maar jy kan nie oor die telefoon praat en ’n SMS tik nie. (“Jy sal verbaas wees!”)
Jy dink jy’s besig met twee goed gelyk, maar in werklikheid moet jou brein aanmekaar eers gaan stilstaan tussen die twee of tien take. Dit gebeur weliswaar vinnig, maar dit gooi jou brein elke keer van die spoor af. Jou brein maak heeltyd: stopgaan-stop-gaan. Dis wat eintlik gebeur terwyl jy dink jy doen tien goed op ’n slag – jou aandag spring bloot blitsig van die een na die ander, maar dit vat steeds tyd.
Die resultaat: Dit neem jou langer om ’n taak uit te voer, dikwels twee keer so lank, jy vergeet makliker, en jy maak makliker foute. Die mens se korttermyngeheue is eenvoudig nie so rats nie. As iemand vir jou twee syfers gee om te herhaal is dit maklik. Probeer twintig.
In een studie is bevind studente, wat ook ywerige multidoeners is, kan op die ou einde nie konsentreer nie. Alles trek hul aandag af omdat hul breine so rondspring tussen take. Hulle kan nie die take uitmekaar hou om een daarvan behoorlik te doen nie.
Daar’s te veel informasie voor hulle, dan sukkel hulle om irrelevante inligting, wat niks met die taak op hande te doen het nie, uit te skuif. Dan raak hulle stadig.
Die nuutste navorsing via gevorderde breinskanderings het getoon jou brein kan hoogstens twee take op ’n slag uitvoer, een in elke frontale lob. Single-tasking, noem hulle dit. (“Daai navorsers het nog nie mý brein gesien nie, man.”)
Buitendien: Jy kan na jou iPod luister terwyl jy draf of daardie gym-fiets trap, maar sosiale interaksie bly in die slag. En dit maak jou ongelukkiger!
“Dit sal my gelukkiger maak as ek in die eerste plek nie soveel goed gehad het om te doen nie, ja. Ek’t nie tyd om een ding op ’n slag te doen nie! Sê dít vir daardie navorsers – hulle sit lekker in wit jasse rond en dan wil hulle vir mý kom vertel . . .
Het jy nou al die vuilgoedsak uitgesit?
“En terwyl jy daarmee besig is . . .”
Verwante artikels
-
5 Boekminute met André le Roux oor sy nuutste boek: Kan ek maar aan jou selluliet vat? + VIDEO-ONDERHOUD
SARIE - Oktober 2010
Kyk net wat raak hy kwyt!
-
André le Roux - Op die vrou af: Dodelike passiedoders (vir hom)
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 2
Die oomblik is reg, die atmosfeer is reg, die weer is reg, die liefde lê gereed om te blom . . . dan gebeur iets wat die passie net daar dood.
-
André le Roux oor haar alewige om-te-doen-lysies
SARIE - Oktober 2010
-
André le Roux oor lang hare...
SARIE Julie 2010
-
André le Roux oor liefde met die eerste oogopslag
SARIE - Oktober 2010
-
André le Roux Op die vrou af: Dodelike passiedoders (vir haar)
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 3
Jy staan in die deur en maak ’n beweging. Jou sokkies gly op die vloer, maar jy behou jou balans. Baie behendig, dit lyk asof jy so pas van êrens uit die lug geland het.
-
André le Roux skryf: Die telkaart in haar kop
SARIE Augustus 2010
-
André Le Roux: "Vrouens shop in groepe"
SARIE - November 2010
-
André le Roux: Die ding met lysies
Sy hou die lysie op een van twee plekke in die huis waar sy gereeld kom
















Kommentaar