Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
Dit was Augustus 1968. Net voor sononder, op daardie wintermiddag, het ek in my swart vlootuniform teen die voet van die Du Toitskloof-pas gestaan. Die pad was verlate, dofswart ná rëen, en die eerste reguit trajek berg-op het doodgeloop in ’n verdwynpunt aan die voet van rooi kranse. Uit die vlakte het ek ’n geluid hoor aankom – ’n inlyn-sessilinder-enjin teen hoë toere – die klank, woew-woew-woew, ’n Doppler-eggo in die amfiteater van die berge.
’n Krytwit Austin Healy 3000 , dakloos, het op my afgestorm; ’n bleek jong vrou met stromende blonde hare agter die stuur. Ek het my duim bewerig en hopend gelig. Sonder om na links of regs te kyk het sy by my verbygejaag en aan die voet van die kranse verdwyn. Toe dit stil word, en die warrelwind om my gaan lê het, kon ek deur die uitlaatgasse, haar parfuum ruik. Ek wonder soms in die laatnag watter parfuum dit kon gewees het. Maar in my hart weet ek dat dit Robert Piguet se Fracas* was.
Fracas staan alleen, nee, troon uit bo ’n groep oordadige en oorweldigende parfuums. Jy ken mos dié soort reukwaters – boonste akkoord muskus, middelakkoord muskus, basis-akkoord muskus – die soort reuk wat migraine kan aanbring as die draer voor jou sit in die kerk op ’n Februarie-oggend, en daarby al haar deurdrenkte plooie met ’n opvouwaaier probeer afkoel. Maar, natuurlik, Fracas is ’n parfuum, nie reukwater nie.
Ontwerp deur Germaine Cellier in 1948, bly hierdie meesterstuk die Mount Everest van luidrugtige parfuums. Die oomblik dat jy dit sproei, tref ’n botteragtige tuberoos, geil en ondeurdringbaar. Lees jy die komposisie na, sien ’n mens dat die boonste akkoord ook bergamot en lemoenbloeisel bevat. En slegs dan besef jy hoekom die reuk so ferm tref. Op ’n warm dag, as bye aggressief zoem, gaan ruik aan lemoenbloeisels – dis bitter na aan tuberoos – Fracas maak oop met ’n dubbeldoor-aanslag!
Die hart van Fracas het natuurlik tuberoos, jasmyn en Lilly of the Valley, laasgenoemde een van die varsste blomgeure op aarde – naeltjies (Laperoussia) uit die Klein-Karoo ruik só. As kinders het ons gaan naeltjies pluk in die lente en na my ouma se huis geneem. In haar donker voorkamer het sy hulle dan laat dryf in ’n vlak kristalbak. Die ysblou blommetjies het die huis deurtrek met slierte Lilly of the Valley en ek vermoed my belangstelling in geur en herinnering het sy beslag hier gekry.
Ná ’n uur of twee kom Fracas tot rusteen dan smeul die basis-akkoorde van sandelhout, muskus en koeskoesgras deur. Dra hierdie parfuum net vir jouself. Dra dit wanneer jy alleen wil wees. Dra dit ná ’n lang, kokende bad. Ignoreer die matroos langs die pad as jy met jou krytwit Austin Healy die bergpad vat.
In 1977 bars ’n nuwe parfuum-vulkaan onverwags uit – Yves Saint Laurent se Opium. Oosterse parfuums is al so oud soos die berge, dis uiteraard waar die kuns ontstaan het. Voor Opium was daar natuurlik Guerlain se Shalimar, vandag nog die briljantste vanielje-konkoksie op aarde. Opium was anders, want hier was ’n nuwe luukse, die koninklike rooi verpakking, die akkoorde van slegs die allerbeste kwaliteit, angelier, kaneel en peper vooraf, jasmyn en roos en ylang-ylang vasgevang bo die basis van vanielje, patchouli en skaars hars uit die woestyne van Arabië. Die nasleep van die swinging 60’s was nog in die lug, en Diana Vreeland was modegodin:
“There’s a whole school now that says the scent must be faint. This is ridiculous. I’m speaking from the experience of a lifetime.”
En toe begin die hele Suid-Afrika se N.G. Kerke na Opium ruik. My oorle skoonma van Tulbagh het, eiehandig, Yves Saint Laurant skatryk gemaak. Soos mens in die mode-bedryf kan verwag, het Madame Lauder nie op haar laat wag nie en presies ’n jaar later, 1978, verskyn haar Cinnabar. Uit presies dieselfde stal, rooi, Oosters, diep speserye en oorrompelend. Beide was reuse-marktreffers, maar markte versadig. Van die ou garde sal Opium en Cinnabar vele jong snuiters oorleef, en wie-weet, eendag, weer na vore kom.
Net toe almal weer begin vryelik asemhaal, slaan Thierry Mugler se Angel in 1992 toe. Ek onthou met rillings die gespuit in vliegtuie op eindelose internasionale vlugte. Angel het by die liter verkoop, en net voor die landing het die dames gou ’n bietjie gaan opkikker in die toilet. Met die oopmaak van die vliegtuig se deur moes die grondpersoneel gedink het dat sjokolade uitgelek het op ’n vrag oorryp tropiese vrugte. Maar watter vrugte, watter sjokolade! Almal het dit probeer naboots, maar niemand kon Angel se wonderbaarlike spanning tussen manlik en vroulik, hemels en walgend, tydloos en “trashy” ooit naboots nie.
Die naaste wat enigiemand aan Angel, of dan die ontwykende aan Angel gekom het, was Loliata Lempicka (in 1997 met haar eerste parfuum, Loliata Lempicka). Soet en stroperig en opkomende Hollywood-koekie-vars, verberg hierdie spookasem-parfuum lieflike geure. Spuit dit aan en wag geduldig, nadat die eerste karamel en hondebloed gaan lê, en dan kom Lilly of the Valley, jasmyn en heliotroop. Maar wees gewaarsku – Angel sal, in ewe maat, vriende en vyande maak.
Geen bespreking oor groot en mollige parfuums sal volledig wees sonder ’n paar randfigure nie. L’Artisan Parfumeur se Vanilia** is een van my gunsteling-grotes. Ek kan my nie indink hoekom hierdie een, en al die ander parfuums van L’Artisan, nie meer bekend is nie*. ’n Sogenaamde “indie” of onafhanklike klein parfuumhuis uit Parys, staan hulle aan die voorpunt van nuwe akkoorde en nuwe idees. Vanilia is eenvoudig net dít, nie ’n soliflore (enkelakkoord-parfuum) nie, maar ’n volledige komposisie uitsluitlik gewy aan vanielje. As Shalimar salonvanielje is, is Vanilia Madagaskar.
Met die uitreiking van Dior se Poison in 1985 kon niemand voorspel dat dit sou lei tot een van hul grootste verkopers nie. Die eerste Poison was dramaties, hard en uittartend en, net soos met Opium, ’n nuwe wegbreek van die ou reukpalet – dit het soos soetkoek verkoop. Een ná die ander het nuwe Poisons bygekom, Midnight Poison, Pure Poison, Tendre Poison, Hypnotic Poison en laastens die briljante Pure Poison Elixir in 2006. Met ’n hart van lemoenbloeisel en die allerbeste jasmyn, gedra op ’n basis sandelhout, amber, vanielje en amandel is hierdie die grootste en mooiste pêrel in die snoer – ’n helder en silwerskoon maaksel.
Laastens is daar is ook nog Gucci se Rush (verruklik oordrewe melkerige laktone en perske), Dolce and Gabbana se nuwe Eu de Toilette (wees gewaarsku – hierdie is ’n “stonker” soos Luca Turin hulle noem – dis so Italiaans soos Ferrari), Givenchy se Amarige (tuberoos vir die diskoteek) en Guerlain se hemelse Samsara (hulle maak eenvoudig nie slegte parfuum nie).
Hierdie parfuums is beslis nie vir die beginner nie, want sou jy een van hulle na ’n matriekdans dra, is jou reputasie aan flarde. Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.

Verwante artikels
-
'n Eksklusiewe uittreksel uit Dave Pepler se boek, Immergroen
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 3
Lees die eksklusiewe uittreksel uit sy nuwe boek: Klein katedrale van die veld
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se nuwe weeklikse blog - Snuf in die neus
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 1
Snuf in die neus is ‘n nuwe weeklikse bydrae oor die wêreld van parfuum. Maar dis ook méér – dit gaan oor die finale produk, maar ook oor die magdom komponente - van kosbare olies en gom tot algemene tuinplante
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Jennifer Aniston se eie parfuum - kyk die video van die bekendstelling in Harrods
SARIE - April 2010
Hollywood-liefling Jennifer Aniston sal ná 'n skeppingsproses van 20 maande haar eie parfuum, Lolavie, in April 2010 by Harrods in Londen bekendstel.
-
Kry vir jou man Bruce Willis se parfuum, dis glo die manlikste geur nóg
SARIE Julie 2010
Met al daai aksieflieks op sy kerfstok is dit moeilik om te glo dat Bruce Willis sy eie parfuum het nie.
-
Wit is die nuwe swart
SARIE Augustus 2010
Vir die lente/somer van 2010 is wit die nuwe swart!



















Kommentaar
linksoflondon het gesê:
When I first originated looking to find marketing fantastic links of london jewellery methods, I stumbled onto a lot of links london perplexing specifics, plus truth be told, I looked for tons of garbage rrn existence. Let me assist you to spot all of the links of london links high-priced jewelry for anyone opting to distribute the actual links of london in london pieces of jewelry for earnings throughout these not at all easy market linksoflondon times.
25ste Apr. 2011, 11:38thomas sabo online shop het gesê:
My best parent, dermatitis the instant the ex affected touches some kinds of thomas sabo engagement ring. A new dermatitis can be due to an allergic reaction utilised in great diversity of thomassabo fashion. Unfortunately now this tom sabo charms may just be related tobe decked out in better thomas sabo charm earrings compared with what able to come in contact with face hitting the ground with tomas sabo charms dime.
25ste Apr. 2011, 10:43