Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
Soos met reise, lê daar intense vreugde in die beplanning en jy soek ‘n uitrusing versigtig uit. Laastens, parfuum. Sou jy moet kies tussen blomme of vrugte, wat sal dit wees?
Blomgeure van die nag soos tuberoos of datura was nog altyd die staatmakers, maar deesdae kan jy kies tussen ‘n gekneusde vyeblaar, granaat, lemoenskil en perske - vrugte uit die tuin van goed en kwaad. "Kies kwaad, kies kwaad!" Daar loop ‘n donker stroom van erotiek deur parfuums wat na vrugte ruik.
Gaan dit om die reuk van rypwording, gewoonlik soet en vrugtig, of gaan dit oor verborgenheid, die feit dat die soet belonging ontbloot moet word? - ek weet nie. Sagte huisies soet onder die harde skil? - ek weet nie. Die koraalpitjies van granaat tussen die wit vliesies? - ek weet nie. Al wat ek weet is dat wanneer vrugtegeure gemeng word met dierlike of menslike reuke soos muskus, melk en sekere sure, word dit ‘n kragtige verleier. Daar is ‘n donker skaduwee aan parfuum, ‘n subteks van reuk wat onverken is.
Beskou mens die kunste en musiek, is dit reeds lank bekend dat vrugte erotiese boodskappe uitdra. Die legendariese coco de mer-neut uit die Maldive-eilande het nie verniet die Latynse naam Lodoicea callypyge gekry nie; callypyg beteken "beeldskone stuitjie en die neuter is as kosbare voorwerpe in versamelings opgeneem. ‘n Soel Josephine Baker, geklee in slegs ‘n kransie trotse piesangs, het Parys aan haar voete gehad toe sy in 1927 in die Folies Bergère opgetree het.
Magritte het vrugte verewig in sy droomstudies en daar is ‘n goddelike Griekse pot in Boston se Museum of Fine Arts waar Hippodame deur Eros bedien word met ‘n mandjie vrugte; jy moet blind wees om nie die boodskap te kan lees nie.
Meeste vrugte-parfuums is luidrigtig, om die minste te sê, en ek dink ek weet hoekom. By die klassieke parfuums soos Guerlain se Mitsouko of die hemelse Cuir de Russie van Chanel fluister die geure met jou; by Gucci se Rush en Dior se Poison skree hulle kliphard. Kom ons bekyk ‘n paar van hierdie vrugte-divas van die parfuumwêreld.
Rush - Gucci: Suid Afrikaanse freesia, klojander, jasmyn, vanilje en kuskusgras? Nee, Rush ruik na melkerige perskes. Rush doen haar naam gestand en ontplof oombliklik en oorrompelend as jy dit spuit. Hierdie reuk is nie vir skaam meisies nie, en ek weet vir ‘n feit, dat sou Aspoestertjie dit aangespuit het, die koets se perde op loop sou slaan. "Not for the faint hearted".
Vanilia - L'Artisan Parfumeur: Die gesoute kok sal weet dat vanielje wat jy by die bottletjie koop ‘n kulinêre onding is. Gemaak van byprodukte in die houtbedryf is dit ‘n triestige spokie van die ware jakob. Die enkel peul in die glasbuisie is een beter, maar as jy vanielje bloots wil befeef moet jy die op straat koop in Antanarivo of Kampala. Hierdie vanielje is nog vetterig en blink en daar is ‘n riggel van houtvure agter die soet. Só ruik Vanilia, eerlik en baldadig, met warm suikerstroop daaronder.
Angel - Thierry Mugler: Toe Angel in 1992 verskyn het, het dit stoksiel-alleen gestaan. Die samestelling van emosie en geheue uit Mugler se kinderjare was uniek, veral met die basisse van heuning, sjokolade en vanielje. Dit het gou ‘n berugte reputasie opgebou as ‘n vulgêre parfuum, geskik net vir voorstedelike oppervlakkigheid. Tog het Angel oorleef as een van die beste verkopers ooit, en dit het te make met die onberispelike kwaliteit van die produk. Nie almal hou van Angel nie, maar daar is byna geen parfumista wat dit nie intens bewonder nie.
Lolita Lempicka - Lolita Lempicka: Dis net Luca Turin* wat hierdie simfoniese parfuum kon beskryf as: "The fragrance is snappy and smart, an ideal accompaniment for flirtatious banter delivered by prim girls in glasses". Vergeet "prim", vergeet "glasses" en onthou "snappy and smart". Hierdie tropiese konkoksie van pynappel en suurlemoen, te midde roos, jasmyn en hondebloed, vanilje en heliotroop daaronder, is so ‘eetbaar" dat mens ‘n skemerkelkie daarmee wil maak. Lolita Lempicka staan rotsvas on die top tien van luidrigtige parfuums.
Baghari - Robert Piguet: Piguet is veral bekend vir sy twee meesterstukke, Fracas en Bandit. Beide staan op my rak, en as die dag inspirasie soek om te skryf oor parfuum, maak ek een oop. Fracas, meer as Bandit, is seker een van die mees volkome parfuum-skeppings ooit. Jy ruik daaraan en jy vergeet van komponente, middelnote, droogword en al wat jy beleef is die vlesigheid en volkome sensualiteit. Mettertyd is meer van die 1950 klassieke herformuleer en ‘n jaar of drie gelede het Baghari verskyn. Waar Fracas en Bandit jou verblind, verlei Baghari jou sagkens met lemoen, viooltjies, iris en jasmyn. Baghari is siuwer sofistikering, suiwer styl, suiwer finesse, een van die bestes.
Jo Malone - Pomegranate Noir: Die storie wil dit hê dat Jo Malone hierdie watertand-parfuum gemaak toe ‘n vriendin in ‘n pragtige rooi aandrok verskyn het. En dis presies wat Pomegranate Noir so goed regkry - dis terselfdertyd wulps en sjiek, smeulend en laggend. Pomegranate Noir met granaat, framboos, pruim en muskus is een van my gunsteling vrugtegeure, juis omdat dit alles regkry sonder om hard te probeer.
Mauboussin – Mauboussin: Met lemoenskil, naartjie en pruim vir die bo-note, perske, ylang-ylang en roos in die middel en basisnote van amber, sandelhout en vanielje is Mauboussin die vrugtekoek van parfuums. Maar dis meer – dis vrugtekoek in Franse couture geklee, stralend en skoon.
Bron: www.perfumestheguide.com
Verwante artikels
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se parfuumblog: "'n Tuberoos, is 'n tuberoos, is 'n tuberoos..."
SARIE September 2010
Reuke kan vet wees, of reuke kan maer wees. Suurlemoensap is maer en muskus is vet, byvoorbeeld. Die hemel weet waar ek aan hierdie aroma-klassifikasie kom, maar selfs as kind het reuk by my geregistreer as swaar of lig, groen of ryp, vet of maer.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Elizabeth Taylor se verleidelike oë verkoop nou parfuum!
SARIE - November 2010
Die parfuum is vars en intiem, maar so ook die oë daaragter – dié van Elizabeth Taylor!
-
Sarie.com-blogger Dave Pepler se besoek Ysland vir aardverwarming
SARIE - Desember 2010
Dave Pepler, aanbieder van Groen op kykNET, bewaringskenner en akademikus, ontsluit die wonderwêreld van parfuum in sy blog. ’n Besoek aan Ysland in Augustus 2010 het hom tot ’n nuwe besef gebring.
















Kommentaar
buyfemale viagra het gesê:
Great work! That is the type of information that are supposed to be shared around the web. Shame on the search engines for not positioning this put up upper! Come on over and discuss with my website . Thanks =)
4de Jan. 2012, 12:22