Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
Die landskap van parfuum is groot en kompleks. Dis byna soos in Chile, waar jy heeltyd bewus is van die Andes, 'n skim teen die oosterlike horison, met duiselingwekkende pieke en stomende, smeulende vulkane. Hierdie parfuum-landskap is natuurlik neusgebonde en olfaktories, en juis daarom lei dit direk na verbeelding, in die ware sin van die woord. Net 'n atoom of twee van 'n geur kan jou wegvoer na plekke, wellus, liefde en pyn - in hierdie landskap word ons waarlik aan die neus gelei.
In parfuumland is daar die groot berge, die hoogste kruine van hierdie landskap. Guerlain , Chanel en Dior het van die hoogste pieke, maar, soos met ware berge is hulle lankal oorwin en alle roets na die kruin is reeds ontdek. Dink aan Guerlain se Jicky (1889), Coty se Cyphre (1917), en Chanel se legendariese #5 (1921) - almal parfuums wat tot vandag beskou word as onverbeterlik en subliem. Sederdien het die meeste parfumiers variasies op hierdie klassieke temas geskep en die genre versadig. Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar.
En toe, in die jare tagtig, kom die "new kids on the block" skielik na vore, beide in die vorm van splinternuwe chemiese konkoksies, wat die ou blom- en harsgeure briljant kon naboots, sowel as 'n jong en slim generasie van chemici. Ek onthou die revolusie wat Davidoff se Cool Water veroorsaak het in 1988. Calone , 'n baie eenvoudige koolstofverbinding (C10H10O3),ruik na 'n vars see-brander en waatlemoen, en het oornag 'n gunsteling-noot van Dior, Kenzo, Calvin Klein en Issey Miyake geword. Onlangs het Dolce & Cabbana 'n suksesvolle variasie hiervan, Light Blue, uitgereik. Calone is oombliklik herkenbaar as jy dit een maal geruik het en persoonlik voel ek dat die water-tema nou holrug gery is, want ek ruik dit eenvoudig oral. Ten spyte van hierdie historiese agtergrond word nuwe kombinasies daagliks bekendgestel en, nog nooit in die geskiedenis was die parfuum-mark so dinamies en interessant nie.
Hier volg 'n paar uitsonderlike nuwe-generasie-parfuumhuise met voorbeelde van hul interessantste skeppings. Nee, eintlik lieg ek oor laasgenoemde, want hierdie voorbeelde is almal van my gunstelinge:
Jo Malone. In 1994 het Jo Malone haar eerste winkeltjie in Londen oopgemaak, met 'n verskeidenheid van oliekolonies, gegeurde kerse en ruimteverfrissers. In daardie dae het al haar geure 'n element van bekendheid gehad omdat dit sterk herinner het aan die geykte lugverfrissers op winkelrakke. Mettertyd het die samestellings al hoe meer innoverend geword, die bestanddele beter en suiwerder. Maar eers onlangs het Jo Malone waarlik volwasse geraak met boeiende parfuums. In 2005 verskyn Pomegranate Noir Cologne en tot vandag bly dit my gunsteling. Dis winters en uiters kompleks, met die vrank-soet geur van 'n ryp granaat op 'n middelnoot van harsgeure en 'n basis van muskus en hout. Pomegranate Noir Cologne vra 'n gedekte tafel, net vir twee, voor 'n oop houtvuur met rooiwyn en wildsvleis. As dit nie moontlik is nie, sal 'n groot bed met gestyfde linnelakens ook die ding doen.
Later, in 2007, verskyn Amber and Lavender, 'n kombinasie wat my totaal onkant gevang het. Ten beste hou ek nie van laventel nie, want dit ruik vir my altyd na toiletblokkies. Maar hierdie laventel is briljant, en saam met die bo-note van naeltjie en Lilly-of-the-valley word dit misterieus. Daar is nog baie ander waardige parfuums in hierdie reeks, maar probeer ook Nectarine Blossom & Honey Cologne, White Jasmine and Mint en Red Roses Cologne, 'n briljante skepping wat die oomblik perfek vasvang wanneer jou snoeiskêr die lang steel van 'n douvars roos knip en die blom se geur meng met dié van 'n gekneusde blaar.
Juicy Couture. Die webwerf van Juicy Couture lyk na die binnekant van Lady Gaga se handsak. Net 'n tiener kan hierdeur werk sonder om 'n skeelhoofpyn te kry, want hier is geen teken dat dit enigsins iets meer is as efemere tienermodes nie. Maar, kyk bietjie onder Fragrance and Beauty, en soek dan na Viva La Juicy Eau de Parfum. Die bottel is über-"trashy", met pienk linte, fopgoud-armbandjies en 'n wapenskild van chi-chi-hondjies. En die inhoud is absoluut wonderbaarlik. Dis groen tuberoos, grenadella en sitrus op 'n basis van karamel-geure. As vriende iets wil saambring uit New York, laat dit Juicy Couture wees.
Penhaligon. So van reis gepraat, as jy weer in Londen kom, loer in by Penhaligon , een van die oudste parfuumhuise in Engeland. Mens kan skaars glo dat hulle reeds in die 1800's parfuum aan Koningin Victoria voorsien het, en tot vandag mededingend bygebly het. Probeer Victorian Posey, 'n effens outydse maar klassieke blom-cyphre, met interessante bo-noot-geure soos galbanum, viooltjie, en roos as middelnoot, en onder gevolg met grasgeure en eikemos. Meer moderne geure soos Anthology en Elixir is ook 'n snuf werd.
Gucci. Parfuum het laat gekom by Gucci, 'n eeuoue Italiaanse modehuis wat legendes soos Audrey Hepburn en Jacqueline Kennedy geklee het. Maar toe dit kom, het hulle eenvoudig geen foute gemaak nie - alle Gucci-parfuums is solied. Gaan ruik weer aan Gucci Pour Homme, een van die allerbeste mansparfuums op die mark wat, na my mening, ewe goed aan 'n vrou sal ruik. En dan is daar Gucci Rush. Rush is só oordadig met geure van melkerige perske, haarsproei, katjiepiering en vanielje - alles saamgeboender in 'n gek mengsel wat reg ruik. Dra Gucci Rush as jou kêrel soos 'n jong John Travolta lyk (of soos 'n huidige John Travolta).
La Prairie. La Prairie is al jare bekend vir hul eksklusiewe, en daarby gesê, bitter duur velsorgprodukte. Mettertyd het hulle ook die parfuum-arena betree, maar hul eerste produkte is nie altyd goed ontvang nie. Gemeet aan die klassieke Franse het invloedryke kenners soos Luca Turin somtyds selfs die draak gesteek met La Prairie se pogings. En toe kom Life Threads. Drie soliede parfuums, Silver, Platinum en Gold, hemels verpak, het skielik die groot liga betree. Van die drie is Silver by verre die interessantste. Silver is 'n "groot" tuberoos-parfuum, effe droog, met groen note, jasmyn en sandelhout.
Later vanjaar verskyn nog drie Life Threads, naamlik Emerald, Ruby en Sapphire, en ek is gelukkig om reeds monsters te hê. Ek voorspel dat hierdie drie net so goed as die eerstes ontvang gaan word, en dat Emerald bestem is om klassiek te word. Life Thread Emarald is groen en droog en kompleks en, soos ander groen klassieke parfuums soos Chanel se No 19 en Balmain se hemelse Vent Vert, sal dit perfek pas by 'n man.
Verwante artikels
-
'n Eksklusiewe uittreksel uit Dave Pepler se boek, Immergroen
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 3
Lees die eksklusiewe uittreksel uit sy nuwe boek: Klein katedrale van die veld
-
'n Geur vir elke vrou
SARIE Augustus 2010
Daar is nie net een geur wat ’n vrou se gevoelens kan vasvang nie, glo La Prairie.
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se nuwe weeklikse blog - Snuf in die neus
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 1
Snuf in die neus is ‘n nuwe weeklikse bydrae oor die wêreld van parfuum. Maar dis ook méér – dit gaan oor die finale produk, maar ook oor die magdom komponente - van kosbare olies en gom tot algemene tuinplante
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Eva Longoria stel haar nuwe parfuum bekend
SARIE September 2010
Nou kan almal 'n bietjie van Eva dra.
-
Julle gunsteling parfuums
SARIE Augustus 2010
















Kommentaar