Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
Hier en daar het ‘n pronghorn, daardie bleek springbok van die Amerikaanse prairies, sy kop gelig toe my motor verbyry. Na links, ooswaarts, was daar niks, eenvoudig niks en die bleek gras en die hemel het sonder horison versmelt.
En toe, in die verte sien ek ‘n knoets lae geboue, ‘n windskeef muskietboom daaragter. Geleidelik, soos ek nadergery het, het die detail verskerp – twee brandstofpompe, ‘n paar leë konkas, ‘n flenters bakkie met ‘n issegrimmige hond op die voorste sitplek, en die lang, plat gebou. Bo die sifdeur was ‘n knetterende neon-bannier: “Mothers”. As jy eenmaal “A ballad of a sad café” gesien het, kan jy só ‘n plek mos nie misry nie.
Mother, sy van “Mothers”, het oor die toonbank geleun, haar ken gestut op ‘n skurwe elmboog, oë genael aan ‘n sneeustorm op ‘n swart-en-wit TV-stel en sonder om op te kyk het sy gesê “Howdy”. Toe ek om ‘n koppie koffie vra was die antwoord “Ye got it”. My oog vang ‘n vensterbank met drie terte, nog stomend. “And those?” vra ek - “Apple, rhubarb and punkin”.
Ek bestel die “punkin” en Mother slof na my tafel met flou koffie, ‘n reuse sny pampoentert en langsaan, 'n klont goudgeel geklopte room. Alles het meteens bymekaargeval – warm varsgebak, koffie, Mother, ‘n pad na nêrens en Steely Dan wat Babylon Sisters sing. Na weke van alleen-reis en van stowwerige motelkamers was ek vry en tuis by myself.
Wie sou ooit kon dink dat iemand in Amerika ‘n parfuum sou kon maak, nog minder klassieke parfuums. Die Franse het die mark so volledig oorheers dat dit ondenkbaar was dat ‘n reuk gelyk aan Chanel se Cuir de Russie, Robert Piguet se Bandit of Guerlain se Mitsouko nie uit Grasse of Parys verrys het nie. Toe, in 1953 tref Esteé Lauder se Youth Dew die mark. Vandag ruik die oorspronklike (later deur Tom Ford aangepas) effe soet, miskien “koekie-rig”, maar hier was ‘n maaksel met murg in haar pype. Pragtig aanmekaargesit, met duidelike bo-, middel- en basisnote, rol die geur van magnolia/gemmer, deur jasmyn en ylang-ylang na die fondament van amber, sandel, sjokolade en kuskusgras. Êrens tussenin is daar ‘n donker roos. Die res van hierdie storie is, soos die Egelse sê, is “history”.
Die vrystelling van Yves Saint Laurent se Opium in 1977 was van die keerpunte in die geskiedenis van parfuum. Hierdie oorweldigende parfuum, so nuut, so fabelagtig in die ware sin van die woord, het die wêreld soos ‘n kartets getref en een van die grootste verkopers van alle tye geword. Knap op haar hakke verskyn Esteé Lauder se Cinnabar in 1978, die Aspoestertjie van Opium se lelike suster. Cinnabar was net so goed, solied en nuut maar is verban tot die skaduwee van Opium. Deesdae ruik dit effe outyds, net soos Opium, maar steeds verras dit met daardie magtige opening van lemoen en naeltjie, op ‘n kerkbasaar-walm van kaneel en dan, laastens, die vanielje en sandelhout.
Die huis van Lauder is glad nie skaam om nuwe produkte op die mark te lanseer nie want, soos Esteé self ‘n leeftyd lank gedoen het, glo hulle onwrikbaar in hul produkte en bemark met drif. Die verskeidenheid produkte is verstommend en net aan dames-parfuum lyk die lys só:
Aliage, Azurée, Beautiful, Beautiful Love, Beautiful Sheer, Beyond Paradise, Beyond Paradise Blue, Cinnabar, Dazzling, Estée, Intuition, Knowing, Pleasures, Pleasures bloom, Pleasures delight, Pleasures exotic, Pleasures intense, Private Collection Amber Ylang Ylang, Private Collection Jasmine White Moss, Private Collection Tuberose Gardenia, Pure White Linen, Pure White Linen Light Breeze, Pure White Linen Pink Coral, Sensuous, Sensuous Noir, Spellbound, Tuscany Per Donna, White Linen, Youth-Dew.
En hoe op aarde kies mens uit hierdie gegeurde bondel? Maklik. Hier volg my gunsteling Esteé Lauders:
Private Collection Tuberose Gardenia. Alhoewel dit nie in my versameling voorkom nie, stap ek hierdie juweel nooit mis nie. Beide tuberoos en katjiepiering staan bo-aan my lys van hemelse geure, en hierdie-een is doen beide volledig gestand. Luca Turin het gesê dat dit hom byna ‘n leeftyd geneem het om agter te kom dat katjiepiering ‘n sampioen-noot bevat. Vreemd? Ja, tot jy aan ‘n vars blom ruik, en dit jou soos ‘n hamerslag tref – muwwerig en grond-agtig tussen die soet.
En tuberoos? By tye ruik dit byna afstootlik, leeragtig en warm, maar wag vir die volledige aanslag en die “Full Monty” oorweldig jou. In Private Collection Tuberose Gardenia word die parfuum verdig met lemoenbloeisel in sy hart, en angelier en vanielje in die basis. As daar slegs een Esteé Lauder op jou rak staan, dan moet dit dié een wees.
Sensuous. Alhoewel reeds in 2008 vrygestel, is Sensuous steeds een van my “geure van die jaar”. Dis ‘n romerige samestelling met lae van tuinblom-geure wat moeilik vasgepen kan word, deurspek met hemelse houtgeure. Alhoewel dit ‘n wegbreek was van wat ek tipiese Lauder-geure noem, is daar steeds ‘n watermark van hierdie huis te bespeur, en ek dink dit lê in die magnolia/jasmyn/ylang-ylang akkoord. Die enigste ding wat my weerhou daarvan om dit ‘n meesterstuk te noem, is ‘n effe oordrewe soetheid – daarsonder sal dit hemels wees.
Beyond Paradise. Dit was nog nooit die doelstelling van parfumiers om die natuur na te boots nie want dis eenvoudig te maklik – distilleer rose, gooi dit in ‘n bottle en noem dit: Rose! Kortpaaie is die domain van die makers van siellose seep en kamer-verfrissers, maar parfumiers prikkel die verbeelding omdat hulle met abstraksies werk. ‘n Skimp van rose, versluier tussen mos en bas is veel meer subtiel en vorm ‘n spel tussen neus, brein en geheue. Dis juis om hierdie rede dat Beyond Paradise so briljant is, want jy is nooit seker wat juis só hemels ruik nie. Min mense weet ook dat, tussen snuffies eksotika skuil die lemoengeur van ons eie Amatungulu, ‘n num-num uit Natal. Al ruik dit nie goed aan jou vel nie, koop eenmaal Beyond Paradise sodat jy altyd kan weet hoe ‘n meesterstuk inmekaargesit is.
Pure White Linen. Wat Opium gedoen het vir oosterse parfuum, het White Linen gedoen vir die Westerse beheptheid met kraakskoon anonimiteit. Die reuk van songedroogte wasgoed, daardie efemere reuk van warm vesels en wind, verdwyn oomblikke nadat jy die wasgoed binneneem. White Linen het die mark soos ‘n brander getref en sedert 1978 verkoop dit by die swembadvol, want die aldeïdes daarin is die perfekte nabootsers van varsheid. Met die sukses daarvan het nabootsers by die dosyne probeer om net iets van hierdie pionier te steel maar White Linen bly die vuurtoets.
Met die jare het variasies gevolg, en toe, in 2006, Pure White Linen, my gunsteling. Diep in hierdie juweel skuil heliotroop en ek vermoed dis wat die parfuum uit die wasgoedmandjie lig en in ‘n lentetuin plaas.
Ek dink dat Esteé Lauder te veel parfuums op die rak het, en dit verdun die koper se aandag en verwar sy neus. Maar, tussen al die flesse skuil daar van die mees briljante parfuums wat nog ooit geskep is. Met jou volgende parfuum-safari, moenie vergeet om Esteé Lauder by te loop nie – hulle is uitmuntend gemaak en so Amerikaans soos pampoentert.
Dave Pepler
Verwante artikels
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se parfuumblog: "'n Tuberoos, is 'n tuberoos, is 'n tuberoos..."
SARIE September 2010
Reuke kan vet wees, of reuke kan maer wees. Suurlemoensap is maer en muskus is vet, byvoorbeeld. Die hemel weet waar ek aan hierdie aroma-klassifikasie kom, maar selfs as kind het reuk by my geregistreer as swaar of lig, groen of ryp, vet of maer.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
















Kommentaar
Home Heating het gesê:
Thank you amazing blog, do you have twitter, facebook or something similar where i can follow your blog Sandro Heckler
23ste Feb. 2012, 19:21Lee het gesê:
Ek is mal oor Dave se parfuum blog - kan nooit wag om die volgende een te lees nie! Ek gaan snuffel gereeld in die winkels rond op soek na die geure waaroor hy so lekker skryf.
28ste Sep. 2010, 18:36Isabella Niehaus het gesê:
Dave mens so lees so lekker aan jou stories!!!! Dankie daarvoor.
27ste Sep. 2010, 10:11