Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
Ek was doodmoeg ná die lang busrit uit Santiago en het vroeg ingekruip - selfs die latino-naggeluide van luidrugtige voetgangers en gillende kinders kon my nie wakker hou nie. Iewers ná twee het ek bewus geraak van 'n beweging teen die venster. Die nagwinde het begin waai van die Andes-voetheuwels en, mét dit, 'n sliert koppige en soet geur. Dagbreek het verklaring gebring: Die donker muur voor my kamer was latwerk, latwerk deurtrek met jasmyn in volle blom. Vir my is jasmyn die geur van die nag.
Daardie briljante maar ook diep versteurde gees, Romaine Brooks, se skilderpalet is 'n leeftyd lank deur grys gedomineer. Maar dit was altyd grys met 'n verrassing. Haar sublieme skildery La France Croisée doen twee dinge tegelyk: Dit distilleer die afskuwelike aan oorlog sonder om grafies daaroor te wees, en, tweedens, word dit 'n klassieke les in komposisie. Daardie rooi lapkruis teen die inkswart tjalie word onuitwisbaar in jou geheue vasgelê.
Net nou en dan laat sy 'n skag lig toe om haar somber doeke binne te dring. Ek kan my verstaar aan La Baronne Emile D'Erlanger geskilder in 1924. Die barones is 'n groot vrou en sy staar jou direk aan met 'n absoluut vreeslose blik. Haar roesrooi hare en knalrooi mond is die enigste kleur in die ligskag. Dra sy 'n swart pels om haar skouers, of is dit van sy?
Sy is middeljarig, want haar nek begin dit verklap - dis miskien ook hoekom die hand in die skadu is. 'n Lewe van luukse het ook die liggaam vol gemaak. Is dit skete aan 'n eens beeldskone vrou? Nee, allermins. Hierdie is die portret van 'n formidabele vrou, en dis die eerlikheid van beide die sitter en die kunstenaar wat dit een van die groot studies van die twintigste eeu maak. Die barones sou Bulgari se Jasmin Noir gedra het.

Jasmin Noir is nie net luuks nie, dis opulent. Op die oomblik van aanspuit, is dit, net vir 'n oomblik, "groen", met drakekruid en die skerp lemoenskil van bergamot. Die donker hart is van jasmyn en ylang-ylang, op 'n basis van sandelhout, vanielje en tonka. Van al Bulgari se parfuums bly dit my gunsteling (tot onlangs was dit Black, maar, om absoluut onverstaanbare redes word dit nie meer gemaak nie). Daar is niks speels aan Jasmin Noir nie - hierdie geur se seine is luukse, sofistikering en, bowenal, styl.
Die Franse fotograaf Brassaï het ook in die nag gewerk, en ook net in swart-en-wit. Skelm-skelm het hy sy onderwerpe bekruip; geliefdes in rokerige kroeë, dansers, verlore in liefde, uitputting en drank, en sopnat laatnagstrate met 'n figuur onder 'n swart sambreel. En dan, natuurlik, was daar die hoere. Korreksie, want hoere is 'n te sterk woord vir die vroue van Brassaï, liewers "madams" dan. Sy studie van La Môme Bijou is my gunsteling - die oorvol figuur, die ogies wat alles gesien het - wysheid en bitterheid in gelyke maat.
Brassaï se teerste werk is dié van paartjies in die bistro's van Parys, onverwags betrap in oomblikke van oorgawe, wellus, genot en eensaamheid, daardie verskriklikste emosie van almal, die eensaamheid binne die saamwees. Daar is 'n studie van 'n vrou in 'n hoek tussen spieëls, haar mond effe oop in die aanloop na 'n soen. Is hierdie 'n verhouding in wording, of is dit net 'n prelude tot die nag? As ek haar moes klee in 'n parfuum, sou dit L'Artisan Parfumeur se Thé Pour un Été wees. Van al die jasmyn-geure wat ek ken, is hierdie die mees speelse. 'n Kurkdroë groen tee en suurlemoen word gevolg deur 'n stadig-ontwikkelende jasmyn met hout en sagte muskus wat die langste talm. Hierdie is 'n parfuum vir verleiding, en, na my mening, die enigste jasmyn wat 'n man met vertroue kan dra.
***
My laaste keuse in jasmynparfuum moet daardie buiteperd, Jasmin et sigarette, van Etat libre d'Orange7 wees. Van alle onwaarskynlike kombinasies is hierdie een die mees radikale. 'n Mens verwag natuurlik vonke van Etienne de Swardt en as jy aan sy parfuums ruik, word dit bevestig. Sy nuutste, 'n huldeblyk aan Tilda Swinton, is verstommend, met note van naartjie, pampoen en gemmer.
Die jasmyn in Jasmin et sigarette is van die beste wat ek al ooit geruik het. Daar is jasmyn wat voller is en meer lyf het, maar hierdie een is silwerskoon en so vars soos dou. Daarby ingevou is tabak, Turkse sigaret-tabak, hout, strooi en tonka, 'n kombinasie soos geen ander op aarde. Toe ek hierdie geure nagevors het, het ek afgekom op 'n beskrywing van Jasmin et sigarette deur Marina Geigert. Gaan lees dit, dis 'n meesterlike verkenning van beide Edward Hopper se gestroopte beelde, veral Nighthawks, en een van die mees ongewone geure op aarde.
Verwante artikels
-
60 sekondes met Dave Pepler
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 1
Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met 'n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf.
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
SARIE Julie 2010
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se nuwe weeklikse blog - Snuf in die neus
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 1
Snuf in die neus is ‘n nuwe weeklikse bydrae oor die wêreld van parfuum. Maar dis ook méér – dit gaan oor die finale produk, maar ook oor die magdom komponente - van kosbare olies en gom tot algemene tuinplante
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Julle oor gewig ná swangerskap
SARIE Augustus 2010


















Kommentaar
bvlgari het gesê:
Ek is vir 5 jaar al verslaaf aan een parfuum.....en vrees die dag wat dit nie meer beskikbaar gaan wees nie.......maar sal nooit my liefde vir die al die klein juwele verloor nie. Doe voort met jou wonderlike vertellings. Isabella.
12de Okt. 2010, 10:33Isabella Niehaus het gesê:
Dave, ek lees sooooo lekker aan jou stories. Na jare as mode- en skoonheids redakteur bly dit van al die luukse my gunsteling ding...parfuum. Ek is gek daaroor om al die beautiful bottels wat ek deur die jare opgegaar het oral in my huis te he...en lief dit as gaste dit gebruik. Ek is vir 5 jaar al verslaaf aan een parfuum.....en vrees die dag wat dit nie meer beskikbaar gaan wees nie.......maar sal nooit my liefde vir die al die klein juwele verloor nie. Doe voort met jou wonderlike vertellings. Isabella.
27ste Jul. 2010, 21:10