Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
Daar is 'n ander kamp, 'n instelling of gevoeligheid wat duidelik herkenbaar is vir dié wat lewe uit die skaduwees bekyk. Kamp is 'n versameling van gekrapte en onbruikbare Luisa Tetrazzini-plate wat net liefde vertoon word, 'n dame op jare, met bevrore hare wat koketteer en haar soos 'n tiener gedra, of Liberace se klavier, sonder Liberace. Daarby is dit 'n fout om te dink dat kamp uitsluitlik 'n gay fenomeen is. Ja, die gay gemeenskap is voorste eksponente van hierdie instelling, maar die apogeum van onwillekeurige kamp kan iets soos volkspele wees. "Eers draai die ou vroutjie, en dan draai haar ou man......"
As jy in dié verskynsel belangstel, is daar geen beter plek om te begin as by Susan Sontag se seminale essay "Notes on camp", gepubliseer in 1964. Luister bietjie:
"Die hele punt aan kamp is om die ernstige te onttroon. Kamp is speels, anti-ernstig. Meer presies, kamp behels 'n nuwe, meer komplekse verhouding met "die ernstige". Mens kan ernstig wees oor die ligsinnige, en ligsinnig oor die ernstige".
Maar selfs meer belangrik:
"Kamp is die verhemeling van "karakter". Die stelling is van geen belang nie - behalwe, natuurlik, vir die persoon (Gaudi, Cecil B de Mille, Crivelli, de Gaulle ens) wie dit maak. Wat die kamp oog waardeer is die eenheid, the krag van die persoon".
en ook:
"Mense wat hierdie instelling deel, lag nie vir die ding wat hulle as kamp bestempel nie. Kamp is 'n teer gevoel".
Laastens is kamp behep met die androgene (Quentin Crisp en Boy George), met lyding (Candy Darling) en die femme fatale (Greta Garbo).
Etat Libre d'Orange se verskyning op die parfumm-mark was meteorites. Net op die verpakking af kon mens merk dat 'n splinternuwe mag hier aan die werk was, kaprisieus en dapper. Meeste van die etikette is deur 'n wêreldvreemde duo, Ich & Kar ontwerp - mens se tone krul van die lekkerte. Die kleure is primer, die lyne sterk, en die boodskap direk op die man af soos by die volgende etikette:
Don't get me wrong baby - I don't swallow: 'n toe-oog kus al la Roy Lichtenstein, Vierges et Toreros (Maagde en Toreros): 'n gefrommelde laken met 'n knal-rooi bloedkol en Putain des Palaces (Hotelhoer): 'n swart sirkel met 'n sleutel wat 'n vlesige slot binnedring. Gaan kyk gerus by http://www.etatlibredorange.com/fr/index.html as jy die volledige versameling wil sien.
Die vraag kom nou op of mens Etat Libre d'Orange enigsins ernstig kan opneem met dierdie lighartige en oordrewe speelsheid, die pop-aanslag en 'n webtuiste wat drup van pers-prosa. Sonder enige huiwering kan ek sê dat hierdie parfuumhuis heel moontlik onthou sal word as van die baanbreker van die nuwe eeu. Met 'n snel-groeiende sintetiese komponent-palet probeer vandag se alchemiste om parfuum te vernuwe met abstrakte "anti-parfuums" en geur-fantasmas, konkoksies wat ruik na roes, sellofaan of klippe - 'n goeie voorbeeld hiervan is L'Artisan Parfumeur se Dzing en Comme des Garcons se Odeur 53. Etat Libre d'Orange kry dit keer-op-keer reg om smeulende en verruklike parfuums uit tradisionele material te skep - parfuums wat waarlik grensverskuiwend is.
Verlede jaar verskyn Like This, 'n huldeblyk aan Tilda Swinton. Me Swinton is natuurlik 'n briljante aktrise, maar daarby is sy eenvoudig die perfekte kandidaat vir Etat Libre d'Orange se visie. Plankdun en bleek, androgeen en rooikop, is sy 'n bewegende ontwerp. Ek onthou haar in die bevrore landskappe van Sally Potter se Orlando, 'n vergete meesterstuk, met Quinton Crisp as koningin Elizabeth. Dan ruik ek aan Like This met gemmer, pampoen en lemoen, op 'n basis van muskus, gourmand en speserye en besef dat dit presies doen wat goeie parfuums vermag - ek word verplaas na winter en die vertroosting wat sekere kosse bring - daardie gevoel van tuiswees by jouself.
Daarteen is Rien (niks) so droog en abstrak dat mens eers moet dink voor jy kan besluit waarheen dit jou neem. Rien is 'n klassieke leer-parfuum wat gemaklik in dieselfde kraal as Robert Piguet se Bandit geplaas kan word, maar waar Bandit bitter is, is Rien sweterig. En nét daar maak dit die parfuum menslik in teenstelling met Bandit wat intimideer, en Chanel se goddelike Cuir de Russie wat verlei. Rien sê alles deur niks te sê nie.
Jasmin et Cigarette ruik na jasmyn en sigarette. Verbaas? Ja, dit is verbasend want die jasmyn is van die allerbeste kwaliteit en die sigaret is tabak, nie as nie. Hierdie is 'n retro-parfuum, geskep vir die aanhangers van Bette Davis, Rita Hayworth, Merlina Mercouri en Simone Signoret. Kom oor die eerste skok en ruik weer - diep in die parfuum skuil daar absoluut van hooi, die efemere geur wat Serge Lutens se Chergui so onvergeetlik maak.
Rossy de Palma is 'n roos-soliflore. Tot onlangs het ek nie veel van soliflores gehou nie want al wat hulle doen is om die natuur na te boots. As jy van rose hou, dra een aan jou lapel. Kenners van die films van Almadovar sal Rossy de Palma ken, daardie uitbundige aktrise wat grotendeel uit neus en tande bestaan. Sy is "larger than life", sing, dans, modelleer, staan vir die onderdruktes en is só oortuigend as aktrise dat sy haar buitengewone en lomp liggaam total transendeer. Presies dít doen hierdie parfuum want daar is 'n metaal-agtige riggel versteek wat jou net effens onrustig maak. Rossy de Palma is die volkome kompliment aan Rossy de Palma.
My laaste keuse uit die reeks van Etat Libre d'Orange is die infame Secrétions Magnifiques. Op die naam af klink dit animaal, miskien gewaagd, maar as jy eers die etiket gadeslaan weet jy hier kom moeilikheid. Op 'n avakado-groen agtergrond staan 'n pienk penis kiertsregop en spuit 'n krans bleek druppels na bo. Meer duidelik kan dit nie - hier is 'n reukstof (mag mens dit parfuum noem?) wat na semen ruik. Versigtig plaas jy 'n druppeltjie op jou vel, blaas daaroor en ruik dan versigtig. Ek ruik nattigheid, olie, en tog ook versteekte blom-aromas - 'n effe-soet weergawe van die reuk as jy 'n wasbak uitskrop met 'n nuwe skropsponsie - daardie skoon reuk van rou metaal. Secrétions Magnifiques staan stoksiel alleen in die parfuumwêreld en selfs Luca Turin het dit uitgesonder as een van die top tien vreemde reuke op die mark. 'n Baanbreker vir 'n klein gehoor.
*Hou Etat Libre d'Orange dop want hulle het kamp omvorm in kuns. Eendag sal hulle onthou word, saam met die huise van Guerlain, Dior en Chanel, as die ware meesters van vernuwing in die parfuum-bedryf. Ek twyfel vir geen oomblik hieraan nie.
*In Suid Afrika beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
Verwante artikels
-
'n Eksklusiewe uittreksel uit Dave Pepler se boek, Immergroen
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 3
Lees die eksklusiewe uittreksel uit sy nuwe boek: Klein katedrale van die veld
-
60 sekondes met Dave Pepler
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 1
Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met 'n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf.
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se parfuumblog: "'n Tuberoos, is 'n tuberoos, is 'n tuberoos..."
SARIE September 2010
Reuke kan vet wees, of reuke kan maer wees. Suurlemoensap is maer en muskus is vet, byvoorbeeld. Die hemel weet waar ek aan hierdie aroma-klassifikasie kom, maar selfs as kind het reuk by my geregistreer as swaar of lig, groen of ryp, vet of maer.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Sarie.com-blogger Dave Pepler se besoek Ysland vir aardverwarming
SARIE - Desember 2010
Dave Pepler, aanbieder van Groen op kykNET, bewaringskenner en akademikus, ontsluit die wonderwêreld van parfuum in sy blog. ’n Besoek aan Ysland in Augustus 2010 het hom tot ’n nuwe besef gebring.
















Kommentaar