Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
Foto’s: verskaf
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
Ek het geen idee waar ek hieraan kom nie, maar ek weet verseker dat dit vroeg geplant is en diep begrawe is in my brein. Miskien is dít die oorsprong van fetisjisme, ‘n oorrompelende emosie wat aan ‘n reuk, kleur of tekstuur gekoppel word. ‘n Interessante feit is dat rubber-fetisjisme onbekend was voor die Tweede Wêreldoorlog en bes moontlik ontstaan het toe Londenaars in moltrein-tonnels moes skuil teen die verwoestende aanvalle van die Luftwaffe.Warm en bedompig het mense langs mekaar geslaap met hul rubber-gasmaskers om die nek – selfs in die teenwoordigheid van pyn en die dood funksioneer die libido onbelemmerd.
Die vraag is nou: kan ‘n emosie toegeskryf word aan ‘n reuk of geur?Ja, tog.Hier het ons te make met sinestesia, ‘n vreemde neurologiese kondisie.Uit die oer-Grieks σύν (tesame) en αἴσθησις (sensasie) is dit ‘n neurologiese kondisie waar ‘n stimulus in een sensoriese baan lei na ‘n outomatiese en onwillekeurige ondervinding in ‘n tweede sensoriese baan.Mense met hierdie kondisie kan kleur sien of reuke hoor, byvoorbeeld.Kruis-metafore kom ook algemeen voor in taalgebruik, waar ons ‘n wind as bitter kan beskryf en ‘n uur as blou.
Onlangs is ek die groot eer aangedoen om deel te neem aan die Toffie Pop Culture Festival and design conference in Kaapstad.Moedswillig en aweregs, is hierdie fees ‘n forum vir modern en uitdagende ontwerp, en ook tendense in huidige denke oor kultuur.Kyk mens na die program. is dit uiters ambisieus en dek velde soos elektronika, webontwerp, musiek en vele meer dissiplines.Ek dink dis uniek in Afrika, miskien selfs in die wêreld en dien as kruisbestuiwing vir spitsdenkers in die visuele velde.Peet Pienaar is die kreatiewe krag hieragter en mens moet hom gelukwens met sy dapperheid en visie.
Ek moes lank dink aan hoe ek hierdie idee wou aanbied, en het toe besluit om dit vir beide mans en vroue voor te stel met my gekose parfuums aan papier-toetsstrokies.Twee rye, een vir mans en een vir dames, word deur gestileerde maskers voorgestel, en elke sonde met ‘n proefbuis en papierstrokie.Daarna laat ek dit oor aan die ruiker se verbeelding, want net hier kan ons die verborge assosiasies vorm met gebeure uit ons verlede.Uiteraard is hierdie oefening persoonlik en elke besoeker moet sy eie reukbeelde vorm.
Doodsondes?In Spreuke 6:16-19 lees mens: "Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is. "Hierdie ses dinge haat die Here en sewe is vir Sy siel 'n gruwel - trotse oë; 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet; 'n hart wat onheilsplanne geraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”Vir my doeleindes lees dit: toorn, gierigheid, luiheid, trots, wellus, afguns en vraatsug.Demone soos Lucifer, Mammon, Asmodeus en Leviathan word ook aan hierdie sondes gekoppel, en veral Peter Binsfeld het in 1589 ellelange opstelle daaroor geskryf.
Sal ons met die mans (♂) begin en, een-vir-een, deur hul sondes ruik?
♂ Toorn Rien van Etat Libre d’Orange beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
Rien (niks) is alles behalwe niks.Bitter en metaalskoon is dit ‘n leer-liefhebber se droom.Dit herinner miskien aan die hemelse Bandit van Robert Piguet, maar is nog skoner, nog gevaarliker en sê op ‘n afstand: “Moenie met my sukkel nie.”
♂ Gierigheid Antaeus van Chanel beskikbaar by Red Square
In die vroeë tagtigs het ek my eerste bottel Antaeus gekoop en dit oombliklik berou.Dit was kragtig, effete en eerder vir dames bestem.Maar een ding was seker, dit was solied en verruklik met roos en jasmyn in die hart.Vandag ruik dit mak teen sommige nuwe skepsels, maar dis ongetwyfeld deur die jare beproef as klassiek.Dit ruik ryk.
♂ Luiheid Antihéros Etat Libre d’Orange beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
Ek hou niks van laventel-parfuums nie, want dit ruik altyd “gekook”.Stoom-distillasie word gebruik om die olie af te dryf en die produk is dan na my neus bederf.Net nou en dan kry mens olie van uitstaande gehalte en Antihéros is ‘n voorbeeld hiervan.Êrens in die boonste note skuil ‘n tintelende lemoengeur en dan hou dit, onderuit en suiwer - laventel op die warm somerwind teen die heuwels van Grasse.
♂ Trots Cuir de Russie van Chanel se Les Exclusives-reeks beskikbaar by Red Square
Ken jy daardie leerbaadjies wat in ‘n laslappie-patroon aan mekaar gestik is?As ‘n naat eers lostrek, is dit soos ‘n outydse sykous, en die hele ding val, roesbruin, uitmekaar.Maar miskien ken jy ook ‘n Napa-leerbaadjie uit Firenze.So ver uitmekaar is Chanel se goddelike Cuir de Russie van enige ander leer-parfuum.Die hart bestaan uit Russiese berke-sap afgekook tot ‘n donker teer en dit fluister: “Ek weet, ek weet.........”
♂ Wellus Vulva van Vivaeros
Vivaeros se webtuiste waarsku luid: “Vulva is not a perfume!”Ek stem volmondig saam.Hulle beweer dat dit ruik na die vaginale afskeiding van ‘n vrou, wagtend op haar minnaar.Soos die Engelse sou sê: “Its rather a tall order.” Die volledige vaginale afskeiding van primate bevat meer as 190 elemente, maar word gedomineer deur glas-asynsuur en botter-vette.Gemeet aan die ware Jakob, vermoed ek dat Vulva daarin slaag.As sommige mense van njabbas hou, en ander van bloukaas, dan is daar dalk ‘n nismark vir Vulva.Laat dié een my maar verbygaan.
♂ Afguns Garage van Comme des Garcons beskikbaar by Church
Garage is skaamteloos en suiwer sinteties. “Trashy” is eintlik die woord, want die verpakking is deursigtig met ‘n swart sak sigbaar daarbinne.Dit bevat aldiëde, petrol, leer en plastiek, met vreemde hout en grasgeure daaronder.Dit ruik na die droom van ‘n jong man, begeesterd deur motors: “My pa se een is groter as joune.....”
♂ Vraatsug Fat Electrician van Etat Libre d’Orange beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
Ek is gek oor Fat Electrician se etiket.
Mens benader dié geur versigtig met hierdie beeld voor jou.Maak jou oë toe en ruik – gras, grond, effe muwwerigheid, rooiwyn en muskus.Dit werk bo alle verwagting in en straal eenvoudig kwaliteit uit.Spuit bietjie aan en gaan lê voor ‘n kaggel met ‘n groot gemmerkat op jou bors.
En dan die dames (♀)
♀ Toorn Bandit van Robert Piguet beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
As ek Bandit aan ‘n vrou ruik (en dít gebeur nie aldag nie), loop ek wyd om haar.Slegs iemand met volkome vertroue en ‘n onwrikbare sin vir self sal waag om Bandit te dra.Dis brutaal en suiwer – leer in sy suiwerste inkarnasie, trots en afgesonder.
♀ Gierigheid Vent Vert van Balmain beskikbaar oorsee
Sou jy aalwynsap kan ruik, dan sou Vent Vert só bitter geruik het.Galbanum is die hars wat dit so groen en bitter maak en as ek ‘n geur moes toeskryf aan iemand soos Donald Trump se nuutste vrou, sal dit dié een wees.
♀ Luiheid Jasmin et Cigarette van Etat Libre d’Orange beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
"Instantly recognisable, taking long puffs on her cigarette and exhaling slowly, a veritable dragon-queen," het die Mail on Sunday op 2 Julie 2006 van Bette Davis gesê.Die laaste van die onbekeerlike rokers en salondames soos Colette, Bette Davis, Tallulah Bankhead, Catherine Deneuve, en Joni Mitchell verpersoonlik hierdie parfuum.Dit ruik na laatnag, dit ruik na loom, dit ruik na genoegdoening.
♀ Trots Opium van Yves St Laurent beskikbaar by Red Square
As jy kaneel, peper, lemoen en pimento strooi op ‘n middelvlak van angelier, jasmyn, roos en Ylang-Ylang en dié spul pak op ‘n basis van vanielje, benzoin en patsjoeli, kry jy ‘n wegholreaksie in ‘n reaktor.Maar as jy Yves St Laurent is, skep jy een van die parfuum-wêreld se mees dramatiese en suksesvolle parfuums ooit.Opium het die parameters van sogenaamde “Oriëntale” parfuums bepaal.Jy moet trots wees om dit te dra anders word jy eenvoudig Opium se skaduwee.
♀ Wellus Sécrétions Magnifiques van Etat Libre d’Orange beskikbaar by Metropolitain Cosmetics
Etienne de Swardt het sy loopbaan gevestig en sy naam in die geskiedenis van parfuum gevestig met hierdie diep ontstellende geur.Akkoorde van melk en van bloed, iris en sandelhout los mens sprakeloos as jy dit die eerste keer ruik.Om eerlik te wees ruik dit vir my na semen (die melk-akkoord vermoed ek) en na ‘n nat stort.Ongelukkig dwing die vulgêre etiket mens se gedagtes in een rigting, maar vergeet daarvan en ruik dit met dissipline.‘n Meesterstuk.
Verwante artikels
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se 12 parfuums vir Kersfees - ...en ‘n patrys in ‘n peerboom?
SARIE - Desember 2010 | Kommentaar: 1
Ek word skoon naar as ek winkel toe gaan. Is dit regtig nodig om teen mid-November al te hoor van Rudolph se rooi bokneus of soene onder takkies voëlent?
-
Dave Pepler se parfuumblog: "'n Tuberoos, is 'n tuberoos, is 'n tuberoos..."
SARIE September 2010
Reuke kan vet wees, of reuke kan maer wees. Suurlemoensap is maer en muskus is vet, byvoorbeeld. Die hemel weet waar ek aan hierdie aroma-klassifikasie kom, maar selfs as kind het reuk by my geregistreer as swaar of lig, groen of ryp, vet of maer.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Sarie.com-blogger Dave Pepler se besoek Ysland vir aardverwarming
SARIE - Desember 2010
Dave Pepler, aanbieder van Groen op kykNET, bewaringskenner en akademikus, ontsluit die wonderwêreld van parfuum in sy blog. ’n Besoek aan Ysland in Augustus 2010 het hom tot ’n nuwe besef gebring.
















Kommentaar
Diana het gesê:
Het dié stuk skryfwerk nou baie geniet. Hou v al die "navrosing"... ruik dit met dissipline... :-)....wow!
7de Apr. 2011, 13:47Diana het gesê:
Het dié stuk skryfwerk nou baie geniet. Hou v al die "navrosing"... ruik dit met dissipline... :-)....wow!
7de Apr. 2011, 13:47Isabella Niehaus het gesê:
Dankie Dave!! Wow ek geniet altyd jou stories en al die wonderlike inligting!! Dit voel sommer of mens deur 'n enorme parfuum woud gestap het!!
7de Apr. 2011, 11:05