Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
Mansmense het ‘n groot problem met liggaamsreuk.Vir die eerste dertig minute nadat hul begin sweet, ruik dit lekker en aantreklik vir vroue, veral dié wat ovuleer. Die rede hiervoor is dat vars sweet androstenol bevat, ‘n feromoon* wat chemiese seine dra van fiksheid en vrugbaarheid. Ongelukkig oksideer hierdie feromoon binne dertig minute na androstenool, ‘n reuk wat vroue vermy en gewoonlik afstootlik vind, behalwe weer by ovulasie, wanneer hulle dit gelate verduur.
Daarby het liggaamsreuk te make met dieet (dink maar aan die bykans oombliklike effek van aspersies op uriene), met genetika en met ras. Oosterlinge het verbasend min liggaamsreuk (hulle het ook minder oorwas!) in vergelyking van rasse wat hul oorsprong by die ewenaar het. Duidelik is hierdie aanpassings wat met temperatuurbeheer te doene het.
En wat van die rooikoppe?Die literatuur is deurspek van verwysings na die unieke liggaamsreuk van rooikoppe, en dit wil voorkom of daar wel redes hiervoor is. Slegs 2-4% van die wêreldbevolking het rooi hare, en die oorsprong blyk uit noord Europa te wees. Met hul ligte velle, sproete en geneties unieke samestelling, wil dit voorkom of rooi hare ‘n aanpassing is om vitamien D te bekom waar daar min of flou sonlig voorkom.Kanse is dus goed dat hul sweet effe anders mag ruik.Ek dink so.
En wat op aarde het dít met parfuum uit te waai?Wel, die deursnit Suid Afrikaanse man is steeds skrikkerig vir parfuum, met die vrees dat dit dalk mag dui op gay-wees en ook dat dit mag reflekteer op hul beeld as “aartappel-boer” pilare van die samelewing. Gelukkig lyk ons kinders meer androgeen by die dag (ek moet fyn kyk by die stomme Goths) en ouer mans gee nie meer ‘n blou duit om nie.Onlangse navorsing by die Smell and Taste Research Foundation in Chicago het bevind dat ouer mans sielkundig baat by aangename geure en dat dit hul selfvertroue aansienlik verhoog.
Ek het op ‘n dorpie in die Klein-Karoo grootgeword en in die ganse hoërskool het slegs een onderwyser na enigiets behalwe karboolseep geruik.Sal ek ooit die somerdae vergeet, sonbesies in die peperbome buite die vensters, die temperatuur bo 35 ºC, die wete dat daar ‘n loom rivier wag – voor jou slaperige oë ‘n tabelsyfers en Meneer X wat oor jou skouer loer, sy walm Old Spice die konsentrasie van primitiewe narkose... (Smell like a man, man.Yeeeehah!)
Mans wat belangstel in parfuum sal ‘n goeie begin maak met ‘n verkenning van vetiver, oftewel kuskusgras. Die allerbeste konsentraat kom uit Indië, gemaak in koperketels oor houtvure in die rivier-stad Kannauj. Ek het ‘n bottletjie uit Kannauj wat dien as my verwysing waaraan ek ander meet – die geur is groen en grond en aarts – iets vir ‘n tuinier met growwe hande.
Hier volg my gunsteling kuskus-parfuums:
Vetiver van Guerlain: Die koning, reeds in 1959 vrygestel, waaraan alle ander gemeet moet word. Vetiver begin met ligte sitrusnoot wat byna oombliklik oorgaan in ‘n kliniese kuskusgras met kruie en sandelhout in sy skaduwee. Later vervaag die kruie effens, en die basis van nat mos en leer kom na vore. Vetiver is droog, droog droog, in die selfde kraal as die hemelse Chanel No. 19, en bly neutraal en verfynd. Dit vra na ‘n somermiddag teen sononder, op ‘n vel wat heeldag buite was.
Fat Electrician van Etat Libre d’Orange: Moenie dat hierdie moedswillige naam jou afsit nie – Fat Electrician is een van die voorste kuskus-parfuums. Mens sou dit nooit sê as jy na die afgeleefde agterstewe van ‘n oorgewig werker op die etiket kyk nie, nog minder daaroor lees op die webwerf: ... “A midnight cowboy lost on city asphalt”. My eerste neus-opslag het my herinner aan ‘n klam wynkelder – daardie soet-muf reuk van grond en kurk. Dan besef jy die kuskusgras het ‘n deken van soeter mire en opoponax en dat dit van aanwending, tot dit vervaag, presies dieselfde kwaliteit behou. Hierdie parfuum sal nog lank met ons wees, kyk maar.
Grey Vetiver van Tom Ford: Elke jaar word ‘n aantal parfuum-pryse uitgeloof, sommige met meer prestige as ander. Maar een ding is seker, vanjaar het Tom Ford se Grey Vetiver skoonskip gemaak by almal. Dis ‘n verbluffende goeie parfuum, in die kenmerkende styl van Ford. Sonder tierlantyntjies, silwerskoon, en gemaak van slegs die beste bestanddele tref Vetiver jou met die opening van vars sitrus, dan kuskus en laaste kom die effe-soet amber en vanilje basis. Dit was vanaf dag een ‘n klassiek.
En so van klassieke gepraat, vroeër vanjaar het Commes des Garçons in samewerking met die Finse ontwerpers Artek, Standard vrygestel. ‘n Parfuum wat ruik na ‘n skrynwerkerswinkel, met houtskaafsels, gom, stopverf, en terpentyn? As jy weer in London kom, gaan loer in by die Dover Street Market, en koop ‘n bottle Standard. En as jou man nie daarvan hou nie? - basta! – dra dit self.
Laastens, twee ou gunsteling, uit toentertyd.Chanel se Antaeus was ‘n baanbreker met sy heuning en houtgeure, toe dit in 1981 vrygestel is. Ongelukkig was dit die mode om dit ruim aan te plak en Antaeus het bekend gestaan as ‘n sogenaamde “stonker”, sterk genoeg om honde aan’t blaf te sit.Probeer dit weer ‘n slag, net ‘n titsel is genoeg om te bevestig dat dit ‘n meesterstuk is.
Guerlain se Habit Rouge, in 1965 vrygestel, bly een van die beste mans-parfuums op aarde. Dit begin oosters, lemoen-agtig, gevolg deur hout en speserye en eindig met leer en amber.Luca Turin noem dit “Sweet dust” – presies reg.
Die gebruik van parfuum, veral by mans, kan maklik ontspoor. Daar is produkte op die mark wat ‘n stiervegter teen ‘n verwoede bul sal beskerm en vlieë van die plafon sal losmaak. Benader dus parfuum katvoet en dra dit omdat jy daarvan hou.
Dave Pepler
* ‘n Feromoon is ‘n reukstof wat individië van dieselfde spesie beinvloed.
Lees nog van Dave se snuf-in-die-neus-parfuum-blogs
Verwante artikels
-
60 sekondes met Dave Pepler
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 1
Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met 'n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf.
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
SARIE - Junie 2010
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
-
Die reuk van swart rose...
SARIE Augustus 2010
‘Parfuum praat met jou hart...en hopelik met iemand anders'- Elizabeth Taylor, Hollywood-ster.
-
Eat Pray Love–parfuum!
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
As mense nóú van Eat, Pray, Love praat, moet daar gevra word: “Die boek, die rolprent of die parfuum?”
-
Julle gunsteling parfuums
SARIE Augustus 2010
-
Kry vir jou man Bruce Willis se parfuum, dis glo die manlikste geur nóg
SARIE Julie 2010
Met al daai aksieflieks op sy kerfstok is dit moeilik om te glo dat Bruce Willis sy eie parfuum het nie.
















Kommentaar
Annamien Steynberg het gesê:
Hiehiehie! Ou mans ruik na bokram! Dit is nie iets wat jy sommer hoor nie, net by my ma wat al dood is. Ek en my man was by 'n braaivleis by vriende, Corni en Jeanette van der Merwe. Doepie en Koekie was ook daar en ons vrouens het aan die gesels geraak oor oud-word. So kom ons toe op die onderwerp van ou mans. Ek maak toe die aanmerking en se my ma het altyd gese ou mans ruik na bokram! Dit het hewige reaksies onder die mans uitgelok tot ons groot vermaak. Ek glo my ma. Ou mans ruik na bokram!
29ste Jun. 2010, 18:09