Dave Pepler se Snuf in die Neus: Donker geure, wilde geure
As jy na ‘n roos wil ruik, dra een, en as jy na ‘n deurmekaar-tuin wil ruik, koop goedkoop reukwater.
Maar sou jy belangstel in reise van die verbeelding en in verkennings van jou intieme self, dan moet jy begin eksperimenteer met die randfigure van die parfuum-wêreld. Eers onlangs het parfumiers en dapper entrepreneurs begin wegbreek van die vasgepende note en families (sien vorige blog) en radikaal nuwe konkoksies begin maak. Van al die donker geure, troon Bulgari se hemelse Black bo almal uit ...
Hy het die ruigtes van Bwindi Impenetrable Forest binnegeglip en ure later teruggekom met ‘n handjie vol droë stokkies. Toe sy vuurtjie lekker brand, het hy dit gesmoor en laat rook, en toe begin hy sing vir die bye. Ons het gewag in die skaduwees van die boom waar hy die uitgeholde stomp opgehang het. Eers een-vir-een, en toe in strome en stringe het die bye gekom, saamgekoek, en die uitgeholde stomp binnegetrek. Die rook, soet en dun, het vir dae aan my gekleef, en nou weet ek waar Bulgari Black se rook-noot vandaan kom – ‘n stil skemer in die trope.
En die hars? Dis die reuk van ‘n vars wond aan ‘n akasia.
Niks op aarde ruik soos Black nie. Daar word gesê dat die boonste noot uit tee en rook bestaan, maar die staalagtige rook en hout tref jou eerste, soos dié in ‘n enkelmout-whiskey. Dan kruip rubber die houtagtige walm binne – kou aan die uitveër aan ‘n vars skerpgemaakte potlood, en ruik dan aan die mes – jy sal die idee kry. Daarna neem dit lank voor Black gaan lê in sy amber basis, waar dit talm, lank en koppig.
Jy moet Bulgari Black in ‘n motor dra, op ‘n warm Sondagmiddag; ‘n motor soos ‘n 1951-Mercury Coupe, met wit wieltooisels, leersitplekke en ‘n V8-enjin. ‘n Louche Charlie Sheen in ‘n wit T-hemp aan die stuur, en Sissy Spacek, haar sproeterige vel byna deursigtig. Sy wag dat hy haar moet neem na die skadu van ‘n wilg teen ‘n rivier wat vlak en wyd is. Bulgari Black is vir Badlands gemaak.
Nog beter, Nobokov sou gaande gewees het oor Black, en Lolita sou dit dra.
Van die pioneers van “anderse” geure is die klein, maar hoogs gerespekteerde L’Artisan Parfumeur een van die allerbestes. Ek vind dit moeilik om ‘n gunsteling hier uit te sonder, maar as daar een reuk is wat ek sal wil saam met my neem na ‘n afgeleë eiland, sal dit die merkwaardige Dzing wees. Dit ruik na die soet gom van ou boeke op ‘n houtrak, met gemmer en muskus wat eers later verskyn. Dis eenvoudig ‘n briljante maaksel. L’Artisan het ook Dzonka, Timbuktu, Premier Figuer en vele ander unieke geure – ek wens ek kon almal op die rak aanhou, want dit vorm ‘n wêreldreis deur die eksotika van reuke. Die enigste plek in Suid-Afrika waar dit beskikbaar is, is Beau Ici in Willowbridge, Durbanville.
Dan is daar is deesdae ‘n enfant terrible van die parfuumbedryf. Etienne de Swardt, ‘n Suid Afrikaner, het taamlik onlangs begin parfuum maak onder die bannier van Etat Libre d'Orange – die eerste ding wat jou opval by die webtuiste is die mandala-opskrif “Parfuum is dood – viva parfuum!”. Geen wonder nie, want mens hou jou hart vas as jy na die name begin kyk – Sécrétions magnifique, een van die mees ontstellende reuke aan my bekend, Delicious Closet Queen, Fat Electrician, sekerlik van die beste koekoesgras-parfuums op aarde en Rien (Niks), my gunsteling uit hierdie reeks. Die nuutste vrystelling, Like This, ‘n huldeblyk aan Tilda Swinton, het geure soos pampoen en gemmer daarin. Malligheid? Nee, bes moontlik die toekoms van parfuum in ‘n enkel bottel. Hierdie verstommende parfuums is beskikbaar by Metropolitain Cosmetics in Gauteng.
Laaste, en miskien die vreemdste reuk wat ek al raakgeloop het, is die über-radikale Vulva. Miskien is dit beter dat lesers maar self gaan kyk waaroor dit gaan – die naam alleen waarsku dat dit ongewoon is en die inskrywing op die webtuiste verklaar finaal: “It is the feminine, erotic, intimate scent for your own smelling pleasure”. Mens is glad nie seker wie die teikengroep vir hierdie reuk is nie, maar miskien is hierdie die finale aanslag teen klassieke parfuum wat gewoonweg die agtergrondreuke van die mens probeer verbloem, en ‘n dapper poging om die liggaam se eiesoortige geure te vier. Wees gewaarsku, wend Vulva lig aan en moenie dit dra na ‘n braaivleis by die bure nie.
Iemand wat aspekte van hierdie skadu-wêreld met groot elegansie betree, is Maritza Breitenbach, met haar pas verskene boek The cookie book - unveiling the woman’s secret.Ek beskou dit as baanbrekerswerk en wil voorstel dat alle ma’s en hul jong dogters dit lees, en dan aangee na die pa’s en kêrels. Gee hul dan genoeg tyd om te herstel.
Dave Pepler
Verwante artikels
-
'n Eksklusiewe uittreksel uit Dave Pepler se boek, Immergroen
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 3
Lees die eksklusiewe uittreksel uit sy nuwe boek: Klein katedrale van die veld
-
60 sekondes met Dave Pepler
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 1
Dié stories fokus grootliks op inheemse plante en elkeen word met 'n nostalgiese anekdote ingelei en in pragtige, liriese Afrikaans beskryf.
-
Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se nuwe weeklikse blog - Snuf in die neus
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 1
Snuf in die neus is ‘n nuwe weeklikse bydrae oor die wêreld van parfuum. Maar dis ook méér – dit gaan oor die finale produk, maar ook oor die magdom komponente - van kosbare olies en gom tot algemene tuinplante
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.


















Kommentaar
Karen S het gesê:
Baie dankie vir hierdie ongelooflike interressante blog...Ek wag in spanning vir elke nuwe artikel! Ek is gelukkig genoeg om in Parys te bly, en snuffel gereeld rond na buitengewone geure wat mens hier redelik maklik opspoor. Het laasnaweek na Etat Libre d'Orange toe gegaan om uit te vind waaroor al die bohaai nou eintlik gaan, en toe ek die "infamous" Sécretions Magnifiques ruik kry ek net daar en dan my eerste hot flush! Dit is by verreweg die mees oorspronklike chemiese geur wat ek al geruik het! Tilda Swinton se bydrae tot die reeks sal ek in die wintermaande graag wil uitprobeer, in die hitte wat ons deesdae beleef verkies ek Eau d'Orange Verte van Hermès. My heel gunsteling parfuums is Habit Rouge en Shalimar van Guerlain...dis 'n baie spesiale dag as mens op die reuk van jou drome afkom! Ek sal baie graag wil weet wat jy dink van Yves Saint Laurent se M7 en Kiehl's se Original Musk. Sien uit na die volgende episode! Lekker snuffel!
2de Jul. 2010, 22:34