Dave Pepler-blog: Die huis van Chanel het vele kamers
Die twee sit net buite bereik van die wit lig van die loopplank. Daardie wit lig wat plooie, rimpels en lewervlekke so meedoënloos uitlig.
Haar heuningkleurige hare is perfek gesny, hofknaapstyl en 'n reuse-donkerbril versteek haar oë. Die uitrusting is ingetoë, byna neutraal, perfek gesny uit 'n outydse kamstof. Om haar bleek nek, 'n eenvoudige string amberkrale. Hy, net so bleek, is uitgevat in swart, maar ernstige swart, swart met mening. Sy silwer hare is teruggetrek in 'n stertjie, en daar is geen teken van sy oë agter die pikswart bril nie. Om die hals, 'n dun kettinkie, die hande verbloem in vingerlose donkerpers napa-handskoene, rygveters aan die buitekant.
Anna Wintour vanAmerikaanse Vogue en Karl Lagerfeld van Chanel langs die loopplank - tussen hierdie twee word daar bepaal hoe die wêreld se rykes en beroemdes die volgende jaar gaan lyk. Twee totaal ondeurdringbare figure - eet hulle somtyds roosterbrood met marmalade, sal hulle op 'n Sondag in slaapklere rondslons, vir 'n hele dag sonder grimering loop? 'n Mens sal nooit weet nie. Want beide is lewende legendes - gode van styl en mode. Sal hy ruik na Chanel se Égoïste, kruie van Provence en vrugte en sy, na No. 19, groen en kurkdroog?
Maar selfs sonder Lagerfeld, ja, selfs sonder Coco, die briljante vrou wat hierdie modereus begin het, sal Chanel altyd bekend wees vir slegs één produk - die legendariese parfuum Chanel No. 5. Luca Turin* sê daarvan: Alone among fragrances known to me, it gives the irresistible impression of a smooth, continuously curved, gold-coloured volume that stretches deliciously, like a sleeping panther, from top note to drydown.
Ek vind No. 5 interessant, maar nie boeiend nie. Die oordaad aan aldeïdes pla my neus, die wonderbaarlike roos en jasmyn ten spyt. Onlangs het Chanel hul No. 5 herbesoek, en No. 5 Eau Premier uitgereik. En nou verstaan ek hierdie legende, skielik is die aldeïdes in toom, die balans perfek. Ek dink terug aan die 1960's toe ek as jong seun 'n swart-en-wit-foto-advertensie van No. 5 in Life Magazine gesien het - Marilyn Monroe in profiel, 'n weerlose hand teen haar bleek nek, een skouerband van haar lamé-rok los oor die bo-arm, die parfuum in die ander hand. Êrens het ek gelees dat sy 'n eetlepel No. 5 in haar badwater gegooi het - en as jong kind het dit my geil verbeelding gevaarlik op hol gehad, nagte aaneen.
In teenstelling met baie ander groot parfuumhuise, is Chanel uiters konserwatief met nuwe uitreikings. 'n Mens verwag so elke tien jaar iets nuuts, en dis gewoonlik die moeite werd om daarvoor te wag. Gaan kyk gerus op hul webwerf, die totale aanbod vir vroue bestaan uit No. 5, Allure, Coco, No. 19 en Cristalle - my peroonlike gunsteling is No.19, wat ek vermoed baie goed aan 'n man kan ruik. By die mans-geure is daar Allure Homme, Allure Homme Sport, Antaeus (my gunsteling, sien vorige blog), Platinum Égoïste en die briljante Pour Monseur.
Is dit al wat 'n mens van Chanel se parfuums kan sê? Nee, 'n duisend maal nee. By enkele plekke op aarde, waarvan Kaapstad een is, kan jy van die mees goddelike parfuums op aarde belewe. Sou jy weer by die Kaapse Waterfront aanland, loop reguit na Edgars se Red Square, draai slap links by die deur en stap Chanel se boetiek binne. Regs agter teen die muur staan 'n bleek toonbank met klassieke Chanel-bottels, voor dit, keramiek-reukstawe.
Die Les Exclusives-reeks van twaalf geure is seker een van die merkwaardigste monumente van die kuns van die parfumier. Luister na die name - Bois des Iles, 31 Rue Cambon, 28 La Pausa, Bel Respiro (om vry asem te haal!), Coromandel en Sycomore. Mag ek voorstel dat jy begin by Sycomore, koeskoesgras gevoer tot sy mees hemelse. Cuir de Russie dan? Leer natuurlik, maar soos jy dit nog nooit vantevore geruik het nie - dis gemaak met die afgekookte sap van Russiese berke. Dit is só luuks, só opulent dat jy dit alleen wil dra - die hoogtepunt van dekadensie.
Les Exclusives is nie soseer parfuums nie, maar eerder fyn studies in akkoorde. Almal is delikaat, selfs efemeer, maar dit maak hul nog meer spesiaal. As No. 5 as 'n simfoniese reuk beskou kan word, groot en kompleks, is Beige of Bios des Iles kamermusiek, elke noot duidelik en intiem.
Ek het 'n plan. Sou jy in die noorde van Kaapstad woon, en jou man wil Nuweland toe vir rugby, verras hom. Vra om saam te gaan. Net voor die wedstryd ontwikkel jy 'n skeelhoofpyn, wag tot hy verkas, en jaag dan reguit na Chanel in die Waterfront. Koop dan éénmaal in jou lewe 'n meesterstuk. Spuit dit aan, en wag dat hy terugkom ...
* Turin, L. & Sanches, T. 2008. Perfumes: the guide, Profile Books, Londen.
Verwante artikels
-
Dave Pelpler Blog: Looopneus in Londen
SARIE - Maart 2011
Die dag na Kersfees stap ek en Sarah die Tate Britain binne, op pad na haar eerste ontmoeting met Francis Bacon se oorrompelende “Three studies for figures at the base of a crucifiction”.
-
Dave Pepler blog, Snuf in die neus: Sewe doodsondes
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 3
Van die sewe doodsondes weet ek slegs hoe wellus ruik. My neus vertel my dit het 'n effe olierige reuk, byna soos vars botter, met ‘n ondertoon van gekneusde gras.
-
Dave Pepler blog: Die blondine in die kryt-wit Austin Healey
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Nee, hulle vra om ’n vrou wat ’n soliede sin van self het, en wat haar nie steur aan wat die mode voorskryf nie.
-
Dave Pepler blog: Die donker skaduwee van parfuum - Verbode vrugte
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Op ‘n hoogsomer-aand, na ‘n lang bad, het jy ‘n uur voor jou metgesel opdaag. Daar wag ‘n ete, miskien ‘n fliek en dan - wie-weet?
-
Dave Pepler blog: Die geur van groen
SARIE Augustus 2010
Hoe ruik groen?
-
Dave Pepler blog: Die nuwe landskap van parfuum
SARIE Augustus 2010
"Van die laaste "oud-wêreldse" skeppings was Yves Saint Laurent se Opium, en kort daarna Estee Lauder se Cinnabar."
-
Dave Pepler blog: Esteé Lauder – so Amerikaans soos pampoentert
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Tolbosse het oor die pad gewaai, êrens suid van Laramy. Ver, ver teen die westerse horison kon ek die sneeubedekte Rockies sien en ek verbeel my dat die Grand Tetons deur sliert mis sigbaar was.
-
Dave Pepler blog: Hermès - draagbare Franse kultuur
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Seville op ‘n somermiddag en die kwik staan op 48 grade Celcius - die stad is doods want die siesta het almal platgetrek.
-
Dave Pepler blog: Jasmyn – geur van die nag
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
Net voor ek gaan slaap het, het ek my kamervenster oopgemaak. Bewus van die ysige winde wat snags afsypel van die Cordillera de la Costa, het ek ekstra komberse oor die geborduurde beddeken getrek.
-
Dave Pepler blog: Kaprisieus en dapper - État libre d’Orange
SARIE - November 2010
Kamp is nie noodwendig tentopslaan langs die Vaalrivier nie, of om jou karavaan na Keetmanshoop te sleep nie.
-
Dave Pepler blog: Snuf in die neus deel 2
SARIE - April 2010
Hoe breek jy weg van die bekende botteltjies op jou spieëlkas?
-
Dave Pepler blog: Tydloos soos Babe Paley
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Só het die uitnodiging gelees na ‘n geleentheid wat New York in 1966 tot stilstand gedwing het. Die gasheer, ‘n besope en giftige skrywer, was een van die sosiale katalisators van sy tyd.
-
Dave Pepler parfuum-blog: Ou mans ruik na bokram
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
Ou mans ruik na bokram, en jongmans na nat strooi. En rooikoppe na gekneusde gras?
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Die reënboog van reuk
SARIE - Mei 2010
Dis maklik om kleur vas te pen, want ons het mos die rëenboog; geen wonder dat daar onlangs gevind is dat gesofistikeerde tale ryk is aan kleurbeskrywings nie.
-
Dave Pepler se Snuf in die Neus: Katjiepiering
SARIE - Mei 2010
Ek het vergeet hoe jonk ek was toe ek vroeg een oggend, in die lente van 1984, die lang kronkelpad opgestap het na die Alhambra in Granada, Spanje.
-
Parfuumflieks
SARIE September 2010
Parfuum-advertensies word al hoe meer soos fliekproduksies benader – en hoe dan anders as wêreldbekende regisseurs verantwoordelik is vir die skep van die produksies.
















Kommentaar