Dieetkundige Mariza Blog: 'Dieetbehandeling vs dieetmishandeling'
Drie letters verskillend. Derduisende slagoffers... and counting!
Ek het net verlede week met die vraag en antwoord sessie weereens besef hoe groot die nood is. Dankie julle vir al die vrae. Jammer dat ek nie by almal kon uitkom nie. Ek gaan plan maak vir meer tyd. Ek sal ook die kwessies wat meer as een keer kop uitsteek een vir een takel in die blog.
Ek moet egter eers hierdie week iets van my hart afkry. Ek moet om verskoning te vra.
Jammer! Sarie, Marie en Hester (julle wat verlede week geskryf en gevra het, ook Linda, Katrien en Wilmien wat al deurgeloop het! Julle is geFRUSTREERD! MOEDDELOOS, BEKOMMERD oor gesondheid en gewig. (Ja – ook ander kwessies – maar daar was verseker ʼn groot gros vrae oor ‘gewig’!) Soveel van julle is waarskynlik die slagoffers van dieetmishandeling.
Dis feit. Nagevors. Bewys. Dis BAIE maklik om iemand maer te maak. Dis baie moeilik om hom maer te hou.
HOEKOM?
Ek dink dis tot ʼn groot mate die waterskeiding tussen dieetbehandeling en mishandeling: Is daar ‘HOEKOM’ gevra?
Dokter, ek is vet! Ek sukkel. Kry dié inspuiting. Leptien. Ja – sal help. Maar as jy klaar is met die leptien? (Het iemand gekyk of ondersoek ingestel of leptien hoegenaamd jou probleem is of nie?). Gaan jy vir altyd ingespuit word? Dokter ek is insulienweerstandig. Hier’s ʼn pil. Dit werk só’. Dieetkundige ek moet my dieet aanpas. Kom ons sit jou op ʼn lae vet/lae GI dieet. Maak seker jy eet genoeg groente en vrugte.
En jy’s nog steeds vet en gefrustreerd. Miskien het jy 2 kilogram verloor. Of niks.
Bogenoemde ‘behandelinge’ is nie noodwendig verkeerd nie. Die groot vraag is egter – het iemand gevra: HOEKOM?
Vergewe maar as ek op tone trap.
Dieetkundiges, dokters en spesialiste word tradisioneel opgelei om ʼn diagnose te maak. Insulienweerstandigheid, diabetes, Cholesterol, Polisistiese Ovariële Sindroom ens.) Dan word die diagnose gebruik om ʼn behandeling voor te skryf wat nagevors is om in die oorgrote meerderheid van persone met die spesifieke stel simptome ʼn ‘verandering’ teweeg te bring. Die behandeling moet effektief wees om die simptome aan te spreek. Dit word genoem ‘EVIDENCE BASED MEDICINE’. Dit is nie ʼn slegte ding nie. Maar HOEKOM is ek nog steeds vet – al gebruik ek die medikasie? Hoekom sukkel ek nog steeds met my bloedsuiker? Prikkelbare derm? Menstruasie?
Kry die knoop – of jy sal maar net aanhou sukkel. Hoekom het jy in die eerste plek gewig opgetel? Hoekom het jy in die eerste plek insulienweerstandigheid ontwikkel. Hoekom het jy in die eerste plek diabetes ontwikkel. Hoekom het jy in die eerste plek gesukkel met jou menstruasie. Hoekom het jy in die eerste plek nie genoeg energie gehad om te oefen nie!
En dit is nie die hele antwoord nie – maar verseker deel van die antwoord: Een van die mees BASIESE behoeftes van die menslike liggaam – VOEDINGSTOWWE – staan heeltemal te ver agter in die ry van behandelingsopsies.
Hoe beïnvloed ʼn onderliggende lae Vitamiene A inname jóú metabolisme - jy eet mos nooit meer botter en eiers nie. Is jou groot probleem nie dat jy vitamiene D gebrekkig is nie? Ons dra mos almal heeltyd sonskerm? (Vit D speel ʼn belangrike rol in o.a. insulienweerstandigheid en skildklierwanfunksie). Kry jy genoeg olie in van neute om jou hormone te vervaardig – of eet jy net 10 op ʼn slag – want dit maak mos vet en jy onthou nie om weer neute te koop nie. Is jy onderliggend heeltemal ‘suur’ want dis makliker, vinniger en goedkoper om brood te eet as om ʼn groenteslaai te maak...en buitendien hou jy nie van groente nie?
Ek vra omverskoning as niemand nog hierdie belangrike aspekte as deel van jou ‘ dieetbehandeling’ ondersoek het nie maar ek moet ook vra – wat is die rol van vorige ‘diëte’ in jou situasie: Die laaste keer wat jy 14 kilogram in 4 weke verloor het – het iemand gekyk of hoeveel daarvan om jou buik was? Supervinnige gewigsverlies is gewoonlik te wyte aan spierweefselverlies wat fantasties op die skaal lyk – maar VERSKRIKKING in jou lyf saai! En dit is ʼn retoerkaartjie na die volgende dieet.
Ja – daar is baie rede tot bekommernis – soveel dieetmishandeling en oneffektiewe dieetbehandelinge. En ongelukkig is daar nie ʼn ‘eenvoudige’ oplossing nie. Dít het ek al gesê. Dít hou my nederig.
Lees asb. die artikel in SARIE GESOND Somer 2011 oor redes anders as dieet waarom jy nie gewig verloor nie. Dis net die punt van die ysberg. Maar dis ʼn begin. Al laat dit jou net minder hopeloos voel. Dit is ook al beter.
Intussen tot jy jou ‘ knoop’ gevind het – probeer solank dink: Beter eet – nie DIEET nie.
Tot volgende week.
Mariza van Zyl RD
Geregistreerde Dieetkundige
Meer wenke by www.betereet.co.za
Verwante artikels
-
Dieetkundige Mariza blog: 'Is tussen-in eet jou ondergang of redding?'
SARIE November 2011
Hoe durf jy? Het ek gewonder. Jy wat maer is met jou ‘skinny’ jeans, plat maag en perfekte hare. Jou kinders is nooit laat nie (of jy het nie), jou motor breek nooit nie, jy het altyd tyd vir ʼn gesonde ontbyt.
-
Dieetkundige Mariza blog: Eet liewer koek as brood!
SARIE November 2011 | Kommentaar: 1
Wat? Kannie wees nie! Ek nooi jou vir ‘n lekker koppie tee... en ‘n stukkie koek!
-
Dieetkundige Mariza blog: Tem jou honger só
SARIE Oktober 2011 | Kommentaar: 7
Ek is HONGER. Vir meeste mense op dieet is dit die duiwel vermom! Met reuke, geure en beelde van alles wat ‘verbode is’ word jy listig verly deur HONGER wat jou nooi om te faal.
-
Mariza se dieet-raad: 'Elke vrou het sjokolade nodig ...'
SARIE Oktober 2011
Mariza van Zyl is 'n geregistreerde dieetkundige, gewapen met 20 jaar se ondervinding, baie ure se navorsing en stories van duisende mense wat kom raad vra het. Kom lees haar blog en deel in haar kennis om beter te kan eet.
















Kommentaar
Mariza van Zyl RD BeterEet het gesê:
Dankie Sandra - dikwels is dit van onskatbare waarde om net by hierdie punt te kom waar jy nou is!
23ste Nov. 2011, 17:15SandraVR het gesê:
Mariza, baie dankie vir jou bydrae tot my "sanity", vir jare lank voel ek al skuldig oor ek net weer al die gewig en nog meer op tel, nie die selfbeheersing het om te bly eet soos die sogenaamde maintenance plan voorskryf nie, nie die energie het om te oefen nie ens. Ek is ook een van daardie wat dieet mishandel is, meestal met heelwat input van my eie kant af, want uiteindelik is dit ek wat die keuses maak. Gesondheid is ook vir my 'n krisis en dis ook heelwat verwant aan my, nou heelwat meer as ooit te vore, ekstra kilogramme. Ek was baie moedeloos om nou die dag op die internet te lees dat gewigstoename eerder as gewigsverlies my voorland is na die galblaas operasie wat oor 2 weke vir my voorlê. Plus maak nie saak wat ek doen nie, en ek eet nogal nou versigtig as gevolg van die galblaas probleem, ek net steeds bly gewig optel. My voorneme is om in die nuwe jaar na herstel by 'n dieetkundige aan te klop, is daar iemand wat uitstaan as deeglik wat jy kan aanbeveel in Windhoek?
23ste Nov. 2011, 10:55