Koos van der Merwe: Laaste sê hunkering en verlang
Ek was nie regtig lus om te gaan nie, maar hoe stry ’n man nou teen skoonheid, en veral die soort skoonheid waarmee jy al meer as twee decades getroud is?
Ek was nie regtig lus om te gaan nie, maar hoe stry ’n man nou teen skoonheid, en veral die soort skoonheid waarmee jy al meer as twee decades getroud is? Hoekom nou gaan luister na Afrikaanse liedjies in Frans? Laat die Franse daarna gaan luister. ’n Lied het ’n siel. Vertaal jy hom verloor jy die siel. ’n Lied se wortels lê in sy eie grond. Verplant jy hom kwyn hy.
Só het ek gemurmureer in my gedagtes, terwyl ek gedweë ingestem het om na SARIE se Afri-Frans-konsert in die Klein-Karoo te gaan luister. Doen dit vir die vrede. Doen dit vir die liefde. Verdra die onoorspronklike, vertaalde sameflansing. Só het ek heimlik en onkundig getob oor die twee uur van marteling wat voorlê. Wat ’n mens darem nie alles sal doen vir jou geliefde nie . . .
Om voor te berei vir die veruitheemsde affêre het ons eers ’n regte Afrikaanse drama, deur ’n regte Afrikaanse skrywer, met regte Afrikaanse akteurs gaan kyk. Ek het Chris Barnard al in die laerskool begin lees en ek kon nie wag om vir die soveelste keer oorrompel te word deur sy meesterlike, speelse manier om die donker dinge van die hart te vertel nie.
In die ope lug het ons gesien hoe die son oor die mooie Karoo gaan lê. Hy het sy rus verdien. Geen feesganger sou ooit kon kla dat hy nie sy deel gedoen het om te sorg dat niemand by die KKNK verkluim nie. Die amfiteater was ’n entjie buite Oudtshoorn. Dit het geruik na plaas. Alles was die mooiste vaal, omtrent die kleur van die eerste storie van Chris Barnard wat ek gelees het: “Die Swanesang van Majoor Sommer.” Ek onthou hoe my st. 4-gemoed verkrummel het. Ek onthou die eerste teue aan die bittersoet beker van somber stories. Ek treur nou nog oor majoor Sommer. Hoekom maak mense so met mense?
En toe word dit donker in die Karoo. ’n Skoot klap. Iemand sterf in Chris se storie. In Afrikaans. En ek is gereed vir Afri-Frans.
Hoe en wanneer my vooroordeel gewyk het, weet ek nie. My vrou reken dit het meer te make met hoe die Franse dametjie gelyk het as hoe die liedjies geklink het. Hier kom wysheid te pas. Jy maak seker jy vertel die Afrikaanse skoonheid langs jou hoe mooi sy lyk. Verder swyg jy.
Sekere herinneringe is so diep ingeëts in die binneste dat ’n mens dit net daar binne wil los. Om dit uit te haal en daaroor te praat is byna ’n onreg. Gewone mense kry dit nie maklik reg om te vertel van verwondering nie. Om te sê hoekom blydskap soms die hartseerste ding in die wêreld is. Hoe vertel jy vir iemand van verlang wat nie ’n naam of ’n rede het nie? Ek onthou die presiese oomblik toe ek jare gelede die eerste keer na die melancholiese klanke van Leonard Cohen geluister het. Op Saldanhabaai. My pa het nog geleef. En sy musiek het myne geword. Ook my eerste Bob Dylan-belewenis sal ek nooit vergeet nie. ’n Vriendin het vir my die bandjie geleen. Ek het dit nooit teruggegee nie. Ek kon nie. Hoe gee jy iets terug wat jou in besit geneem het? Dié sonde sal my hopelik vergewe word.
Skoonheid. Verwondering. Betowering. Oorrompeling. Hierdie is nie luukses nie. Dis die water en asem en kos van die siel. Iets in ’n mens weet op ’n aand soos daardie aand in die Klein-Karoo dat daar ’n hunkering is na ’n mooiheid wat groter is as die lewe. Sonder hunkering verloor ons hoop. Die volmaakte pyn van hunkering is ons behoud. Soos ’n ontwykende beminde gee dit ons ’n rede om te wees. ’n Rede om te wil. ’n Rede om te glo in môre.
Die musiek het oor ons gespoel. Asof vanuit die hemel. Byna wreed. Geen mens kon dit weerstaan nie. Hardebaard Karooboere het trane afgevee. En gejuig. En gesug. En verlang.
Ja, ons is skepsels van verlange. In ons wese weet ons daar is meer. En mooier. Musiek is ’n eggo. Van ’n plek. Ons sal bly verlang. Tot die groot konsert begin. En ek wil daar wees.
Verwante artikels
-
Geure van die hart
SARIE September 2010
-
Koos van der Merwe - "Gaan loop onderdeur die maan"
SARIE Augustus 2010
-
Koos van der Merwe: Laaste sê om onder deur die maan te loop
SARIE - Junie 2010
Jy kry oggendmense en jy kry aandmense. Oggendmense se gedagtes, gemoed en energie is glo beter nader aan sonsopkoms en aandmense s’n nader aan sonsondergang.
-
Koos van der Merwe: Preek van die lewe
SARIE - Desember 2009
Preke kom soms vanuit onverwagse oorde.
-
Koos van der Merwe: So sonder jou oë, laaste sê
SARIE Augustus 2010
So onder ’n mens se oë gebeur dit. Terwyl klein meisietjies oral om jou met poppe speel en modderkoekies bak en vir swiets kom vra.
-
Koos van der Merwe: ’n Ongewone waarskuwing, laaste sê
Ná amper drie dekades van byna elke Sondag die preekstoel bestyg, het ek al geleer sommige mense kan nie dink dat ’n prediker sy sout werd is as hy nie met smaak en mag en mening kan preek van oordeel, straf en verdoemenis nie.
-
Spring! Koos van der Merwe se Laaste sê
SARIE - April 2010 | Kommentaar: 1
’n Agttiende verjaardag bring ’n mens dramaties nader aan die wêreld van volwassenes.
















Kommentaar