Martie Swanepoel blog: "Balanseer-toertjie"
Hoe lank kan jy op ‘n tou balanseer? Ek praat van die tou van die lewe wat gespan is tussen punt A en punt B. Soos hoog in die dak van ’n sirkustent. Mens loop treetjie vir treetjie. Jou hande klem om jou balanseringstok.
Jy voel die taaiheid van die harpuis wat jy aan jou hande en voete gestof het vir beter klou krag. Ver langs hoor jy die toeskouers onder jou besorg fluister.
Jy skep moed want jy vorder goed. Die toeskouers begin ontspan.
Maar dan begin die tou onder jou effens wankel.
In paniek wonder jy of jou veiligheidsharnas behoorlik vas is.
Daar is 'n koord van omgee wat geliefdes aan jou harnas vasgegespe het. Jy weet die vangnet gaan jou vang voor jy die grond tref. Maar jy wil nie val nie. Want dit beteken jy sal wéér moet opklim. Miskien het jy nie die moed om weer te begin loop nie. Jy het al 'n paar keer geval, maar hoeveel keer gaan jy die krag gaan hê om nog 'n keer te probeer? Die mense op die houtbankies van die sirkus is seker ook al moedeloos oor jy nie jou balans kan regkry nie.
Ek ry sesuur die oggend van die Vrystaat af oor die Vaalrivier op die N1 Noord. Net na die Soccer City afrit by Soweto dam die verkeer op.
'n Man met 'n pimped up car stoot my byna van die pad af.
Ek balanseer vernuftig op my tou
Ek neem die 14de Laan afrit en gaan drink eers koffie by Olivia's. Ek stap behaaglik deur die reusagtige blommewinkel en ruik aan die een bos vars blomme na die ander.
Na 'n uur gaan doen ek 'n goeie voorlegging vir 'n kookboek. Ek was lanklaas so opgewonde oor 'n projek. 'n Redaksievergadering later die oggend verryk my siel.
My balans is vandag goed!
Met 'n glimlag ry ek na 'n liefdadigheidswinkel om enamel-skottels vir die kookboek te gaan soek. (So seker is ek ek gaan die projek kry).
Blykbaar mag net vier mense mag op 'n keer in dié winkel ingaan. Hulle is bang vir winkeldiefstal. Voor my staan 'n man en 'n vrou.
Ek vra die bejaarde vrywilliger by die deur na tien minute of ons nie maar mag ingaan nie. Die winkel lyk vir my binne baie rustig.
"Jy kan inkom, maar hulle moet buite bly."
Ek is oorbluf. "Maar hulle was voor my hier."
"Dit was jou kans. Nou kan jy maar ook buite bly."
My ore wil nie die onbeskoftheid glo wat ek hoor nie. Die man wil nie die swart paartjie hul beurt gun nie. Nou wil hy my ook nie laat ingaan nie. Hy draai sy rug moedwillig op ons.
Die tou wankel gevaarlik onder my
Ek besluit ek gaan nié stilbly nie.
"Jy het nié die reg met my of enigiemand anders so te praat nie. Ek gee nie om hoe oud jy is nie, jou gedrag is totaal onaanvaarbaar."
Die man se aggressie en vlaag onbeheersde woede skop my wind uit.
Die paartjie staan gedwee eenkant, maar ek stap weg.
My maag trek in dadelik 'n spanningspasma en ek bewe van skok.
Ek klou vir al wat ek werd is aan my balans
Met die pak vorms van een van Johan se polisse stap ek by ons gesin se mediese praktyk van meer as 20 jaar in. Melville geluide vul my met heimwee.
Dr. Wayne is lankal nie meer daar nie. Die dokter wat die vorm vir my invul, blaai deur ons dik legger. Ek sien Johan se handskrif voor op die legger en my keel raak dik.
In daardie legger is die kinders se skete van babatyd tot in hul tienerjare. My kwale ook. Spanning, angs en anti-depressante.
Die dokter maak 'n pynigende lys van al die behandelings wat Johan in 20 jaar ondergaan het. Hy skryf later in die kantlyn. Elke detail steek 'n gat in my siel.
"He was a wonderful man ..." Ek weet nie hoekom ek dit voor die vreemdeling sê nie.
Hy gee 'n boks tissues vir my aan.
Ek hoor die toeskouers hulle asems optrek
Met die vorms in my handsak stap ek na die bekendheid van die apteek op die hoek.
"Ek weet nie hoe ek by die huis gaan kom nie," sê ek vir die apteker wat my agterstewe vir dekades met vitamiene B inspuitings geprik het.
Sy laat my op 'n stoel sit en gee my twee pienk pille om te drink.
My wankelrige balans herstel effe
Ek ry op die N1 Suid verby Soweto.
Ek sien die storm in die verte, maar dis asof dit nie registreer nie.
Rukwinde laat my kar heen en weer oor die pad swaai. Ek klou aan die stuurwiel terwyl dit voel of blitse die aarde om my oopskeur.
Die wind waai my van die pad af iewers naby die Potchefstroom afrit.
My maagpyn laat my vooroor krul en my kop op die stuurwiel rus.
Hoeveel jaar kan 'n mens huil oor dieselfde ding seerkry?
Ek weet nie wanneer die storm oorgewaai het nie.
Verbasend voel ek die tou nog onder my voete
Die lug is grysblou met donkerblou wolke waardeur die son breek. Dit maak lang pienk strepe oor die horison. Sonstrale vang net die punte van die berge in die verte.
Dit voel of die prentjie vir my eksklusief geskilder word.
In die kom voor my lê Parys. My trane-dorp, my gesond-word-dorp.
As ek my groot houthek agter my toeskuif, spring Tequila en Quinne met oorstelpte vreugde my klere vol modder. Mens sou sweer ek was 'n jaar weg.
"Hallo Mamma! Het Mamma vir ons iets gekoop!"
Ek pak die halsbandjies vir die hasies uit en ek en my kinders lag saam oor die belaglike "hasie-speelgoed" en appel- en kersie gegeurde saagsels wat ek ten duurste by die eksklusiewe troeteldierwinkel in Sandton gekoop het.
My tone klou stewig aan die tou. Ek het dit vandag gemaak.
Verwante artikels
-
Martie blog: "Ons merries verstaan mekaar"
SARIE Augustus 2010
Ek weet nie hoeveel suikerklontjies Versigtig op 'n middag eet nie, maar met elke soetigheidjie kyk ons mekaar betekenisvol in die oë. Ons merries verstaan mekaar.
-
Martie blog: Ek kan in Frans hoes
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek kan omtrent Mevrou Spogbuurt se duur krone op mekaar hoor klap. Haar mond is die eerste keer in ’n uur toe.
-
Martie Swanepoel blog oor Aardklop-kunstefees: "Mieliewoede"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 7
Ek wou eintlik net 'n grys broek kom koop. Ek was nie voorbereid op 'n heruitbreek van die Boere-oorlog in een van Aardklop se tente nie.
-
Martie Swanepoel blog: "Ipekonders"
SARIE September 2010
Pomp pomp pomp. My arm raak lam van die druk. Shhhhhhhh, blaas die bloeddrukarmband af ... “Haai vrou, leef jy nog?”
-
Martie Swanepoel blog: "My strykyster verstik"
SARIE - Oktober 2010
By die huis gaan sit ek die klip wat sê ek moet die lewe aangryp in die tuin neer. "Ja, oukei, oukei ... ek verstaan nou jou boodskap!" praat ek met die klip. Koos kyk my aan asof hy dink ek het nou finaal my varkies verloor.
-
Martie Swanepoel blog: "Photoshop die zits!"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 4
Kom ek vra jou nou eerlik. As 'n vrouetydskrif 'n foto van jou neem en jy het daardie dag 'n aaklige zits op jou neus. Sal jy wil hê die fotograaf moet dit uit photoshop?
-
Martie Swanepoel blog: "Sny die leisels"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
'n Vriendin se kleuter het behoorlik neulend aan haar rokspante gehang. Ek onthou nog goed haar woorde: "Ek wonder wie van ons is die gelukkigste. Ek wat altyd weet waar my kind is, of jy wat heeltyd jou kind uit die hoogste boom moet gaan haal."
-
Martie Swanepoel blog: Destruction before creation
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Hoe om jouself reg te ruk en die lewe ten volle aan te pak
-
Martie Swanepoel blog: Gebed op 'n teerpad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die man wat op die motorsitplek worstel om asem te kry, is iemand se geliefde. Die sweet stroom van sy gesig af en dit lyk of hy besig is om 'n epeleptiese aanval te kry.
-
Martie Swanepoel blog: Gunste en gawes
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Die vrou rammel aan en ek probeer keer dat my mond nie verder oophang nie. Toe my ken net duskant my décolleté is, kry ek 'n woord in...
-
Martie Swanepoel blog: Hartskok
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek staan tussen die twee hospitaalbeddens in die harteenheid se intensiewe waaksaal. Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor.
-
Martie Swanepoel blog: Nagsluiper
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Ek het lank 'n stryd teen ontwykende slaap gestry voor ek aanvaar het ek is 'n nagdier en die wondere van die nag ontdek het.
-
Martie Swanepoel blog: Reine gedagtes
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 6
Wat het ons hier? Die Warrior Pose? Ek wonder hoe Judas sal voel as ek voor hom in dié pose gaan staan ... (Hy sal waarskynlik dink ek is stapelgek! But who cares?)
-
Martie Swanepoel blog: Tuin van hoop
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Ek weet nie of die een of ander wyse hom al daaroor uitgespreek het nie, maar ek glo elkeen wat deur 'n diep lewenskrisis gaan, behoort 'n tuin te plant.
-
Martie Swanepoel blog: Verraad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die dag as jy besef die man wat jy op die hoogste troon gesit het omdat hy jou stukkende hart weer kom laaf het, is ’n verraaier... daardie dag bars jou lewe soos ’n helium ballon.
















Kommentaar
Tanya O'Connor het gesê:
Woorde ontbreek my totaaaaaal! x
28ste Okt. 2010, 15:25