Martie se blog: "Vlieg soos ‘n arend"
Soms sê ek vir my kinders: “Kyk of julle McDermot sien ...” Dan maak ek ‘n onwettige U-ie in die middel van een van Parys se nou strate wat die verkeershoof stil sal skok.
Ek ry anderdag agter 'n tannie in Johannesburg met 'n netjiese plakkaat in haar agterruit.
“I am driving within the legal speed limit, so don’t hoot at me.”
Af in Conrad Drive. In die regterkanste baan.
My vingers tik op die stuurwiel terwyl ek kan voel hoe my kaakgewrig in spasma gaan. Mens mag nie hoot nie, maar die plakkaat sê niks van shoot nie.
Ek kon sweer sy ry net 40 km per uur. En daar is 'n sperstreep. Voor die tannie is die pad oop soos die Liewe Heer se genade. Daar is nie aankomende verkeer nie ...
Sal ek?
Ek is 'n ou Joburg-bestuurder. Mens leer moeilik 30 jaar se gewoontes af.
Jy moet weet hoe om vinnig deur verkeer te vleg, die kortpaaie ken en jou kar in ’n skoenboks kan parkeer.
Dis nou die dilemma waarmee mnr. McDermot, Parys se streng verkeershoof sit.
Hy het my al twee keer persoonlik aangespreek: “Dame, reëls is daar om te gehoorsaam.”
Ek sukkel om by Parys se verkeerstempo aan te pas.
En moenie hier die woord tempo met spoed verwar nie. Veral nie in die week nie.
Mense bly hier omdat hulle afgetree is, ge-downscale het of omdat hulle met vakansie is.
Hulle is nie hier om haastig te wees nie.
Oor naweke is hier heelwat jong latte wat saans tussen die kuierplekke rondjaag en baie bikers waarvan sommiges glo hulle moet 'n do-nut voor die Spar spin of tussen die potholes in die hoofstraat deur wheelie.
Maar in die week is my gunsteling-frustrasie die dierbare omies en tannies met die ou grys koppies wat net-net bokant die stuurwiel van hulle ou Mercedesse uitsteek.
“Ach schweet!” Soos my tieners sou sê.
Ja “schweet”, tot jy probeer om in etenstyd al die nodige inkopies in te prop.
Die probleem lê by my. Hulle was eerste hier.
My liefste ouma Tina was onlangs in Polokwane se koerant oor haar bestuurderslisensie op 83 weer hernu is.
“As jy my vra, het hulle haar en haar bruin Datsun afgeneem om die res van die dorp te waarsku hoe haar kar lyk sodat hulle uit moet swaai as hulle haar gewaar,” het ‘n onsensitiewe familielid gespot.
Hy mag dalk 'n punt beet hê want Ouma Tina het omtrent al ses maande na haar heupbesering met haar driewielkarretjie geloop voor sy agtergekom het die ding het brieke soos 'n fiets. Sy gooi daai ou lyfie so vooroor en dan loop sy. Bietjie skewerig, maar sy laat waai.
Maar nou een aand bel sy my in trane.
“My kind, ek het ‘n vreeslike ding oorgekom. Ek het 'n ghrênd kar gestamp.”
Sy het bietjie wyd geswaai uit 'n parkeerplek. Sy is nou bevrees dat hulle haar lisensie gaan terugvat. Ek moes belowe ek sal haar kom uitbail uit die tronk.
Sy kon glo lekker voet in die hoek sit in haar jong dae. Sy het nooit reguit na 'n vakansieplek gery nie en haar vier kinders op avonture op al die afdraaipaaie oor berge en dale geneem.
Ek wens ek kan eendag soos sy op 83 wees. Ek weet ek gaan ook dan in my karretjie moles maak op die paaie.
“Ag, eintlik ry Mamma klaar soos Ouma,” sit my kinders my na die hartseer oproep oor die ghrênd kar op my plek.
Ek vermoed hulle geniet heimlik my bestuurstyl. Nie roekeloos nie, maar vol avontuur. Daar is een skuins afrit in Gordonweg, Johannesburg wat ek, toe hulle klein was, altyd met bietjie meer spoed moes afry. Dan het ons al drie “whieeeee!” geskreeu. As ons nou daar ry, doen ons dit steeds.
Maar nou woon ons op Parys en hier sal ek maklik vir hulle sê: “Kyk of julle McDermot sien ...”
Dan maak ek 'n onwettige U-ie in die middel van een van Parys se nou strate wat die verkeershoof stil sal skok.
“Mamma!” gil hulle dan kamma geskok.
Maar ek respekteer mnr. McDermot vir die handhawing van reg en geregtigheid op ons dorp se paaie. Regtig.
Ek weet nie waar my geit agter 'n stuurwiel vandaan kom nie. My pa was 'n streng leermeester.
Ek en fotograaf Phyllis Green praat anderdag oor hoe wild mens soms met die Beeld pool karre, sulke wit Toyotas, moes ry om voor die ander koerante op 'n misdaadtoneel te wees. Ek het in 'n stadium die onprysenswaardige rekord gehou van die hoogste spoedboete met 'n Beeld-kar. R900. In die jare tagtig.
Miskien het my bestuurvernuf by die koerant 'n knou gekry, maar ek neem my ma ook kwalik.
Mamma het nie die voorbeeldigste bestuursgewoontes nie. En my kinders moes hul ouma in Johannesburg se besige strate op pad van die skool af telkens maan teen padwoede.
“Watter vinger moet Ouma nou weer oplig?” het my Christelike moeder een dag vir my beïnvloedbare kinders gevra toe sy 'n taximan iets in vingertaal wou vertel.
My pa het 'n groen Ford Granada gery waaraan niemand mag geraak het nie. Dit het net in die motorhuis staan en blink. Ons het die kar om die een of ander rede die Goue Arend genoem.
Een dag lui my foon by Beeld.
“Snik!” Hoor ek aan die anderkant. En nog 'n droewige “snik!”.
“Jou pa gaan my skei...”
Ek jaag na die plek waar sy die ongeluk gemaak het. Toe ek om die draai kom, staan die Goue Arend soos 'n gekweste roofvoël windskeef gestamp. Olie en water loop by die enjin uit.
My ma het gedink sy gaps gou die arend vir 'n plesierritjie na die een of ander kunswinkel.
Hy het toe nooit weer gevlieg nie, maar dit was so hittete of ons het 'n egskeiding in die familie gehad.
Verwante artikels
-
Martie blog: "Meetsnoere van genade"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Daar moet iets met my verkeerd wees, dink ek. Hoekom sien ek die mens agter die situasie so maklik raak? Is ek dan 'n sucker vir oortuiging? Of het ek al 'n les geleer?
-
Martie blog: "Ons merries verstaan mekaar"
SARIE Augustus 2010
Ek weet nie hoeveel suikerklontjies Versigtig op 'n middag eet nie, maar met elke soetigheidjie kyk ons mekaar betekenisvol in die oë. Ons merries verstaan mekaar.
-
Martie Swanepoel blog: "Ipekonders"
SARIE September 2010
Pomp pomp pomp. My arm raak lam van die druk. Shhhhhhhh, blaas die bloeddrukarmband af ... “Haai vrou, leef jy nog?”
-
Martie Swanepoel blog: "Olyfhemp"
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 9
Ek het vanoggend weer die versnipperde hemp, wat die hospitaal vir my gegee het, onderin my kas raakgekyk en probeer dink wat noem mens ‘n item waaraan jy so klou? Want dis nié ‘n troosbersie nie.
-
Martie Swanepoel blog: Blogband
SARIE Augustus 2010
Ian Roberts kyk my nuwe digitale bandopnemertjie verdag aan.“Nou hoe weet ons dit wat ons nou praat, is in daai dingetjie?”
-
Martie Swanepoel blog: Destruction before creation
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Hoe om jouself reg te ruk en die lewe ten volle aan te pak
-
Martie Swanepoel blog: Gebed op 'n teerpad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die man wat op die motorsitplek worstel om asem te kry, is iemand se geliefde. Die sweet stroom van sy gesig af en dit lyk of hy besig is om 'n epeleptiese aanval te kry.
-
Martie Swanepoel blog: Gunste en gawes
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Die vrou rammel aan en ek probeer keer dat my mond nie verder oophang nie. Toe my ken net duskant my décolleté is, kry ek 'n woord in...
-
Martie Swanepoel blog: Hartskok
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek staan tussen die twee hospitaalbeddens in die harteenheid se intensiewe waaksaal. Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor.
-
Martie Swanepoel blog: Mevroutjie val toe weer
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 10
Ek kry myself geweldig jammer. Ek wens iemand kon 'n lawende lappie vir my voorkop bring. Ná 'n halfuur bel ek op my sel my kind in haar kamer...
-
Martie Swanepoel blog: Reünie
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
Ek sluk sommer 'n groot sluk wyn en proes byna daaraan. Wat verwag jy as jy hoor die outjie wat in standerd vier langs jou gesit het, is nou 'n male stripper?
-
Martie Swanepoel blog: Rissie-wrap!
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 4
In die aroma van rissie en knoffel lê ek soos ’n chorizo-worsie wat in glad wrap toegewikkel is – en ek voel behoorlik hoe die vet wegsmelt.
-
Martie Swanepoel blog: Vier kerse
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 4
“Die kepe langs my mond word al dieper. As ek myself in ’n spieël vang en ek sien daai kepe, wil ek huil. Maar dis die mond van ’n vrou wat al genoeg suurlemoene geëet het.”
















Kommentaar
Ilse het gesê:
Lekker gelag! R900 in die jare tagtigs, nogal! Dit wil gedoen wees!
26ste Aug. 2010, 21:53Judy Lessing het gesê:
Ai hoe kry ek nou 'n traan in my oog oor "Die Goue Arend". Dit was darem Pappa se eerste Ghrend kar.
26ste Aug. 2010, 16:18