Martie Swanepoel blog: Ek kaap’n vliegtuig
Iets in my het geknak en ek het besluit die vlug na Dar es Salaam gaan nié sonder my vertrek nie.
Met my sak onder my arm het ek oor die aanloopbaan na die vliegtuig begin hardloop met 'n horde histeriese doeanebeamptes agter my aan.
Irma vra my vanoggend waar kry ek die pragtige silwer handgemaakte suikerlepel.
Toe vertel ek haar die storie van 'n engel.
Ek voel koue rillings toe ek in my ou dagboek lees ek het Amina op 6 November 1999 ontmoet.
Vandag is dus 'n goeie dag om haar storie te vertel.
Amina Tesha Mongi het aan ontbyttafel in 'n hotel in Dar Es Salaam my hand geskud. Ek was in haar land as deel van 'n span wat modelle vir die destydse Face of Africa program op M-Net gaan soek het.
Sy was een van daardie mense met aangebore styl. Naas M-Net se verteenwoordiger in Tanzanië was sy ook radio-omroeper en eienaar van 'n modelagentskap. 'n Enkelma wat water trap. Die enigste broodwinner van 'n uitgebreide familie.
Ek het langs Amina in 'n volgepakte Afrika-bus gesit toe ek die nuus kry dat my man 'n hartaanval gehad het.
Ons het 'n halfuur tevore op Kilimandjaro-lughawe aangekom en was op pad na Arusha in die Noorde van Tanzanië waar ons modelle sou ontmoet. Ons sou daarna na Mwansa by Victoria-meer gaan voordat ons na Dar es Salaam sou terugkeer en van daar terug na Suid-Afrika.
Amina het die bus laat stilhou en my my bagasie uit die hoop negosie en tasse op die dak help grawe.
Selfoon in die hand het sy dadelik vir my vlugte probeer reël terug Suid-Afrika toe. Sy het met 'n taxibestuurder onderhandel en hy het met ons teen 55 000 Tanzaniese sjielings (toe sowat R500) teen 'n skrikwekkende spoed in die motreën lughawe toe gejaag.
Die vliegtuig waarmee ons gearriveer het, was op die punt om weer op te styg, maar daar was geen manier waarop Amina die lughawebestuur kon oortuig om my plek te gee op die leë vliegtuig terug na Dar es Salaam nie.
Om te sê ek was histeries van frustrasie en kommer, is lig gestel.
Johan het drie jaar tevore 'n ernstige hartaanval gehad en ek het geweet hoe groot die gevaar met 'n tweede aanval was. Die nuus kon my op geen slegter plek op aarde getref het nie. Ek kon nie maklik deurkom na die Morningside kliniek se waakeenheid nie en het by tye geen idee gehad of my man nog leef nie.
Met 'n groot gesukkel het Amina vlugte vir die volgende dag gereël.
Ek sou die volgende oggend van Arusha-lughawe ('n teerblad met 'n eenvertrek-lughawegebou) met Precision Air na Dar es Salaam vlieg. Daar sou 'n bode vir my 'n kaartjie gee vir die Air Kenia-vlug wat binne minute sou vertrek en ook 'n kaartjie vir 'n SAL-vlug wat binne 'n uur ná my aankoms uit Kenia sou vertrek.
Sesuur die oggend was ek en Amina na 'n slapelose nag op Arusha -lughawe. Die gebou was nog toegesluit en donker. Ons het 'n oop deur gekry en begin ligte aansit.
Teen halfsewe het passasiers begin aankom, maar daar was nog geen teken van personeel of 'n vliegtuig nie.
'n Lughawebeampte het sewe-uur ongeërg kom aankondig dat die vlug nie meer van Arusha sou vertrek nie, maar wel van Kilimandjaro, sowat 55 km daarvandaan.
My wese het gaan stilstaan. Ek het geweet dat as ek een van die vlugte waarop ek vir daardie dag bespreek was, sou mis, ek nog vier dae in Tanzanië sou moes bly. Dit sou my mal maak!
Tydens die tweede taxi-jaagrit tussen Arusha en Kilimandjaro het ek gevoel soos iemand wat in 'n nagmerrie vasgevang is en iemand druk die repeat knoppie aanhoudend.
By die lughawe moes ons hoor my bespreking op die vlug is nooit deurgevoer nie. Daar was trouens 35 mense vir die agttiensitplek-vliegtuig bespreek.
Amina se vlug na Mwansa sou binne minute vertrek. Sy het desperaat vir my 'n plek op 'n ander vlug probeer reël. Maar nog voor die reëlings bevestig was, moes sy vertrek.
Ek kon die magteloosheid op haar gesig sien toe ons afskeid neem. Sy het my net stil vasgedruk en deur die doeane beweeg.
Iets in my het geknak en ek het besluit die vlug na Dar es Salaam gaan nié sonder my vertrek nie. Met my sak onder die arm het ek oor die aanloopbaan na die vliegtuig begin hardloop met 'n horde histeriese doeanebeamptes agter my aan.
Ek het in die vliegtuig geklim en geëis om die vlieënier te spreek. Hy was half verdwaas en geskok oor die histeriese vrou wat sy vliegtuig probeer ''kaap''.
Mooipraat met die passasiers het nie gehelp nie. Al was my krisis hoe groot, wou nie een van hulle hul sitplek afstaan nie.
Uiteindelik het die twee vlieëniers 'n ongewone besluit geneem. Ek sou kon saamvlieg as ek bereid was om op die vloer te sit.
Ek was 'n huilende spektakel voor die (soos ek in daardie stadium gevoel het) gevoellose gehoor op die vlug.
Op Dar es Salaam-lughawe was daar geen teken van die bode met my kaartjies nie en ek het hom met 'n onverstaanbare Swahili-foonkaart probeer bel.
Desperaat het ek die lughawebestuurder se kantoor gehardloop. Ek kan nie onthou wat ek alles vir hom gesê het nie, maar hy het my met spesiale begeleiding tot op die vliegtuig geneem. Sónder 'n vliegtuigkaartjie.
Tydens die vlug na Nairobi het ek soos 'n zombie gevoel. Gedreineer van emosie en krag. Op die lughawe het ek in trane uitgebars toe ek die SAL-toonbank haal. Ek was op pad huis toe. Ek het van pure spanning 'n bottel Happy en 'n bottel Issey Miyake parfuum by die Duty Free op die vlug gekoop.
Na 32 uur het ek gehawend, maar darem welriekend langs Johan se bed in die waaksaal gestaan. Dankbaar dat hy buite gevaar was.
Ek het vir weke gesukkel om met Amina kontak te maak. Ek het aangeneem sy was besig.
Ek het vir haar die silwer suikerlepel as geskenk gestuur, maar dit het onoopgemaak teruggekom.
Na vele oproepe het ek vasgestel Amina is kort ná ons laaste dag saam in 'n motorongeluk dood.
My hart het gebreek vir haar seuntjie en gesin.
Ek het al dikwels gedink aan my angsbevange ure saam met dié kalm vrou. Ek het nog nooit in my lewe soveel gebid om hulp nie. Ek was byna geskok oor God my paadjie so moeilik gemaak het. Kon Hy nie maar my vlugte seepglad laat verloop het nie?
Eers later het ek besef God hét vir my hulp gestuur. 'n Engel in die vorm van 'n Afrika-jappie met 'n selfoon.
'n Engel wat nou tuis is.
Verwante artikels
-
Martie Swanepoel blog oor Aardklop-kunstefees: "Mieliewoede"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 7
Ek wou eintlik net 'n grys broek kom koop. Ek was nie voorbereid op 'n heruitbreek van die Boere-oorlog in een van Aardklop se tente nie.
-
Martie Swanepoel blog: "Kantelende seën"
SARIE - Januarie 2011
Ek staan langs die swembad en staar na my dak. Hoe langer ek kyk, hoe groter word die gapende gat in die middel van my huis.
-
Martie Swanepoel blog: "My strykyster verstik"
SARIE - Oktober 2010
By die huis gaan sit ek die klip wat sê ek moet die lewe aangryp in die tuin neer. "Ja, oukei, oukei ... ek verstaan nou jou boodskap!" praat ek met die klip. Koos kyk my aan asof hy dink ek het nou finaal my varkies verloor.
-
Martie Swanepoel blog: "Photoshop die zits!"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 4
Kom ek vra jou nou eerlik. As 'n vrouetydskrif 'n foto van jou neem en jy het daardie dag 'n aaklige zits op jou neus. Sal jy wil hê die fotograaf moet dit uit photoshop?
-
Martie Swanepoel blog: "Sny die leisels"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
'n Vriendin se kleuter het behoorlik neulend aan haar rokspante gehang. Ek onthou nog goed haar woorde: "Ek wonder wie van ons is die gelukkigste. Ek wat altyd weet waar my kind is, of jy wat heeltyd jou kind uit die hoogste boom moet gaan haal."
-
Martie Swanepoel blog: Destruction before creation
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Hoe om jouself reg te ruk en die lewe ten volle aan te pak
-
Martie Swanepoel blog: Die Bar op De Aar
SARIE - Desember 2010 | Kommentaar: 3
Almal weet daar is 'n bar op De Aar. Maar daar is ook 'n Toyota stasiewa. En ek en inspekteur Dirk soek sy eienaar.
-
Martie Swanepoel blog: Dink-siekte
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 4
Die dokter het blykbaar nie ’n sin vir humor nie en is geskok. Ek dink hy oorweeg dit om die foon op te tel en die mense met die straight jackets te bel.
-
Martie Swanepoel blog: Gebed op 'n teerpad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die man wat op die motorsitplek worstel om asem te kry, is iemand se geliefde. Die sweet stroom van sy gesig af en dit lyk of hy besig is om 'n epeleptiese aanval te kry.
-
Martie Swanepoel blog: Hartskok
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek staan tussen die twee hospitaalbeddens in die harteenheid se intensiewe waaksaal. Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor.
-
Martie Swanepoel blog: Koffie soapie
SARIE - Maart 2011 | Kommentaar: 2
Die hunk van 'n akteur sit reeds vir my en wag in die koffiewinkel. Hy sien my, staan op en omhels my.
-
Martie Swanepoel blog: Maureen se laaste Kersfees
SARIE - Desember 2010
Ons het Kersmiddag by Maureen gaan kuier. Ek en Ma Tina het haar hande en voete met room gesmeer en parfuum aan haar gespuit.
-
Martie Swanepoel blog: Mevroutjie val toe weer
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 10
Ek kry myself geweldig jammer. Ek wens iemand kon 'n lawende lappie vir my voorkop bring. Ná 'n halfuur bel ek op my sel my kind in haar kamer...
-
Martie Swanepoel blog: Nagsluiper
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Ek het lank 'n stryd teen ontwykende slaap gestry voor ek aanvaar het ek is 'n nagdier en die wondere van die nag ontdek het.
-
Martie Swanepoel blog: Ons MOET trou!
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 12
“En nou vir ’n bomskok, ek dink ons moét trou ...” Daar in die Mimo’s om elfuur die oggend op ’n Donderdag staar ek vir die man oorkant my.
-
Martie Swanepoel blog: Reine gedagtes
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 6
Wat het ons hier? Die Warrior Pose? Ek wonder hoe Judas sal voel as ek voor hom in dié pose gaan staan ... (Hy sal waarskynlik dink ek is stapelgek! But who cares?)
-
Martie Swanepoel blog: Reünie
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
Ek sluk sommer 'n groot sluk wyn en proes byna daaraan. Wat verwag jy as jy hoor die outjie wat in standerd vier langs jou gesit het, is nou 'n male stripper?
-
Martie Swanepoel blog: Rissie-wrap!
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 4
In die aroma van rissie en knoffel lê ek soos ’n chorizo-worsie wat in glad wrap toegewikkel is – en ek voel behoorlik hoe die vet wegsmelt.
-
Martie Swanepoel blog: Tuin van hoop
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Ek weet nie of die een of ander wyse hom al daaroor uitgespreek het nie, maar ek glo elkeen wat deur 'n diep lewenskrisis gaan, behoort 'n tuin te plant.
-
Martie Swanepoel blog: Verraad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die dag as jy besef die man wat jy op die hoogste troon gesit het omdat hy jou stukkende hart weer kom laaf het, is ’n verraaier... daardie dag bars jou lewe soos ’n helium ballon.


















Kommentaar
Corne L het gesê:
Wonderlike verhaal, Martie. Ek het sommer gehuil aan die einde toe ek lees sy is in 'n ongeluk oorlede. Die armband deel het my darem weer laat lag.
14de Des. 2010, 16:29Martie Swanepoel het gesê:
Toe die twee dronk manne langs my op die vliegtuig kom sit, het ek gedink, ag nee, dis al wat ek nou nodig het! Hulle het die vliegtuig leeggesuip terwyl ek in 'n patetiese bondel sit en ween het. Die twee het my skynbaar baie jammer gekry en 'n Dior armband vir my gekoop. Nogal op die een se kredietkaart! Ek wonder of hy kon onthou vir wie hy die dure armband gekoop het toe hy uiteindelik sy state kry. Maar dis die gedagte wat getel het! As een van julle se mans tien jaar gelede 'n armband op sy kredietkaart vir 'n geheimsinnige vrou gekoop het, dis ekke. Jou man het nie 'n skelmpie nie!
4de Nov. 2010, 10:22Judy Lessing het gesê:
Ek onthou die gebeurtenis soos gister. Onthou jy nog dat een van jou mede passasiers op SAL vlug vir jou juwele van Duty Free gekoop het omdat hy jou so jammer gekry het? Jammer oor Amina, sy is nou 'n regte engel.
3de Nov. 2010, 09:20