Martie Swanepoel blog: Gunste en gawes
Die vrou rammel aan en ek probeer keer dat my mond nie verder oophang nie. Toe my ken net duskant my décolleté is, kry ek 'n woord in...
Nou een oggend klop 'n vrou wat ek nog net een keer ontmoet het aan my deur. 'n Bondel papiere onder die arm.
Sy groet vriendelik en vra hoe dit gaan. Ek kry nie tyd om haar te vertel ek voel regtig ellendig nie.
"Jong, ek wil hê jy moet gou my kind se opstel regruk. Dis 'n baie belangrike opstel en ek weet nie of ek orals my woorde reg ingespan het nie. En my taalgebruik is horribaal! Ek het tot twee-uur vanoggend aan die ding geskryf ..."
Sy rammel aan en ek probeer keer dat my mond nie verder oophang nie. Toe my ken net duskant my décolleté is, kry ek 'n woord in.
"Ek is eintlik op deadline en ek is hondsiek."
"Dit sal nie lank neem nie, ek belowe. My kind is in haar tweede jaar en sy moet 'n goeie punt kry!"
My brein, wat saam met my kop zoei van die lae bloeddruk, probeer sin maak uit wat die vrou nou net gesê het.
Ek vermoed sy probeer my vertel sy het haar kind se tweedejaar-opstel vir Afrikaans-Nederlands geskryf en ek moet dit fantasties laat klink sodat die lui klein brat 'n goeie punt kan kry. En, sy voel vere dat ek hondsiek is.
Ek wens eintlik ek paas voor haar uit. Maar sy sal sweerlik die potlood en die bondel papiere gereed hê as ek my oë oopmaak.
"Jong, soos ek gesê het ..." My woorde val op dowe ore.
"Ek los dit in elk geval hier by jou as jy netnou beter voel."
En woerts trek sy met haar luukse 4 x 4 weg.
Na die tyd vererg ek my eers oor die "Net gou regruk". Die vrou se man is 'n gesiene kontrakteur. Dalk moet ek hom bel en vra of hy "net gou" my 80-jarige huis sal kom regruk terwyl ek die taak wat sy vrou vir sy lui kind geskryf het, "net gou regruk".
Ek is bereid om my beginsels vir so 'n deal bietjie te buig.
Ek kan ook nie help om te wonder wat van die arme skoolkinders gaan word vir wie die vrou se dogtertjie eendag Afrikaans moet gaan gee nie.
"O ja, en sê vir julle mamma's as hulle die opstelle skryf, moet dit asseblief nie langer as 150 woorde wees nie ..."
My nuuskierige inbors laat my tog 'n paar paragrawe van die 4 x 4 koningin van tweedejaar-opstelle se skryfsel op papier lees.
Ek snak opnuut na my asem. Dit sal my ten minste 'n week neem net om te probeer verstaan wat die vrou probeer sê!
"Net gou ..." Verbeel jou.
Iewers het seker 'n advertensie verskyn dat my werk my nie besig genoeg hou nie.
'n Verlangse kennis bel uit die bloute.
"Haai, hoe gaan dit? Ek dreig al lánkal om jou te bel. Jy is darem een van my gunsteling-mense ..."
Uiteinde van die gesprek is dat sy eintlik wil hê ek moet 'n verslag wat sy moet ingee, herskryf.
Ek is nog besig om die inligting te verwerk toe sy nog heuning-om-die-mond-taktiek vir 'n meer oortuigende effek ingooi.
"Hoe gaan dit met jou twee pragtige dogters en daardie oulike man van jou?"
Dis net toe dat ek die gaping van 'n leeftyd kry.
"Jong, my een pragtige dogter is eintlik 'n seun wat nou matriek skryf en my oulike man sit al twee jaar met sy sterre in die hemel ... en o ja, hoeveel woorde moet ek vir jou herskryf? Ek vra R2,50 per woord ..."
Ek neem aan ek is nie meer een van haar "gunsteling-mense" nie.
Verwante artikels
-
Martie blog: Ek kan in Frans hoes
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek kan omtrent Mevrou Spogbuurt se duur krone op mekaar hoor klap. Haar mond is die eerste keer in ’n uur toe.
-
Martie se blog: "Vlieg soos ‘n arend"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
Soms sê ek vir my kinders: “Kyk of julle McDermot sien ...” Dan maak ek ‘n onwettige U-ie in die middel van een van Parys se nou strate wat die verkeershoof stil sal skok.
-
Martie Swanepoel blog: "Balanseer-toertjie"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Hoe lank kan jy op ‘n tou balanseer? Ek praat van die tou van die lewe wat gespan is tussen punt A en punt B. Soos hoog in die dak van ’n sirkustent. Mens loop treetjie vir treetjie. Jou hande klem om jou balanseringstok.
-
Martie Swanepoel blog: "Ipekonders"
SARIE September 2010
Pomp pomp pomp. My arm raak lam van die druk. Shhhhhhhh, blaas die bloeddrukarmband af ... “Haai vrou, leef jy nog?”
-
Martie Swanepoel blog: "Photoshop die zits!"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 4
Kom ek vra jou nou eerlik. As 'n vrouetydskrif 'n foto van jou neem en jy het daardie dag 'n aaklige zits op jou neus. Sal jy wil hê die fotograaf moet dit uit photoshop?
-
Martie Swanepoel blog: "Sny die leisels"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
'n Vriendin se kleuter het behoorlik neulend aan haar rokspante gehang. Ek onthou nog goed haar woorde: "Ek wonder wie van ons is die gelukkigste. Ek wat altyd weet waar my kind is, of jy wat heeltyd jou kind uit die hoogste boom moet gaan haal."
-
Martie Swanepoel blog: Destruction before creation
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Hoe om jouself reg te ruk en die lewe ten volle aan te pak
-
Martie Swanepoel blog: Die Bar op De Aar
SARIE - Desember 2010 | Kommentaar: 3
Almal weet daar is 'n bar op De Aar. Maar daar is ook 'n Toyota stasiewa. En ek en inspekteur Dirk soek sy eienaar.
-
Martie Swanepoel blog: Dink-siekte
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 4
Die dokter het blykbaar nie ’n sin vir humor nie en is geskok. Ek dink hy oorweeg dit om die foon op te tel en die mense met die straight jackets te bel.
-
Martie Swanepoel blog: Gebed op 'n teerpad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die man wat op die motorsitplek worstel om asem te kry, is iemand se geliefde. Die sweet stroom van sy gesig af en dit lyk of hy besig is om 'n epeleptiese aanval te kry.
-
Martie Swanepoel blog: Hartskok
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek staan tussen die twee hospitaalbeddens in die harteenheid se intensiewe waaksaal. Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor.
-
Martie Swanepoel blog: Maureen se laaste Kersfees
SARIE - Desember 2010
Ons het Kersmiddag by Maureen gaan kuier. Ek en Ma Tina het haar hande en voete met room gesmeer en parfuum aan haar gespuit.
-
Martie Swanepoel blog: Nagsluiper
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Ek het lank 'n stryd teen ontwykende slaap gestry voor ek aanvaar het ek is 'n nagdier en die wondere van die nag ontdek het.
-
Martie Swanepoel blog: Reine gedagtes
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 6
Wat het ons hier? Die Warrior Pose? Ek wonder hoe Judas sal voel as ek voor hom in dié pose gaan staan ... (Hy sal waarskynlik dink ek is stapelgek! But who cares?)
-
Martie Swanepoel blog: Rissie-wrap!
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 4
In die aroma van rissie en knoffel lê ek soos ’n chorizo-worsie wat in glad wrap toegewikkel is – en ek voel behoorlik hoe die vet wegsmelt.
-
Martie Swanepoel blog: Tuin van hoop
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Ek weet nie of die een of ander wyse hom al daaroor uitgespreek het nie, maar ek glo elkeen wat deur 'n diep lewenskrisis gaan, behoort 'n tuin te plant.
-
Martie Swanepoel blog: Verraad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die dag as jy besef die man wat jy op die hoogste troon gesit het omdat hy jou stukkende hart weer kom laaf het, is ’n verraaier... daardie dag bars jou lewe soos ’n helium ballon.
















Kommentaar
tessa het gesê:
liewe ouers - arme martie! :-) bly jy het die een vrou darem op haar jis gegee. en die 4x4 - jou bankbesonderhede onder aan die vraestel geskryf? geniet jou blogs baie. liefde uit upington.
20ste Sep. 2010, 09:36Tanya O'Connor het gesê:
OH my oh my! Party mense WIL net nie luister nie! Moes ook die ander dag so 'n antwoordjie uitpluk toe ek "gedwing" is om te "erken" dat ek aan baby blues ly! Mense rammel en rammel net voort sonder om te luister of laat ek liewer seg te wil luister!
17de Sep. 2010, 06:22