Martie Swanepoel blog: "Photoshop die zits!"
Kom ek vra jou nou eerlik. As 'n vrouetydskrif 'n foto van jou neem en jy het daardie dag 'n aaklige zits op jou neus. Sal jy wil hê die fotograaf moet dit uit photoshop?
Ek weet nie van iemand wat met 'n puisie wat 'n skaduwee gooi op 'n foto wil verskyn nie. Nie een van my vriendinne wil nie. Ek het hulle gevra. En ons is nie 'n hoogs ydele klompie vroue nie.
'n Vreeslike katgeveg en debat het onlangs op 'n koerant se webblad en op Facebook gewoed nadat 'n anonieme blogskrywer onder meer te velde getrek het teen vrouetydskrifte wat foto's photoshop.
Dis glo nie die ware beeld van vrouwees nie.
Miskien verstaan ek vroue verkeerd, maar ek glo ons het almal 'n tikkie ydelheid in ons. (Ek ken ydele mans ook.)
Ons smeer ons vlekkies toe met onderlaag. Ons tik rome aan om die plooie te verbloem.
Is daar 'n verskil tussen dit en photoshop?
Ek wed jou die blogskrywer verpes ook happy snappy's waarop sy onversorgd lyk.
Dit laat my dink aan die vrou wat gesê het ek is so gelukkig om by die huis te werk. "Jy sit seker heeldag in jou nagklere en pantoffels en werk."
Hoekom wil ek heeldag in my pejakkies wees? Ek is mos nie siek nie? Die dokter sal beslis die dosis van my anti-depressante moet verhoog die dag as ek dit doen.
Natuurlik sit ek soms saans met my nagklere en 'n glas wyn by die rekenaar. Maar dis oor ek wil, nie oor ek lui is om mooi aan te trek en grimering aan te sit nie.
Die feit dat ek in die stilheid van my tuiskantoor my lippe rooi maak, beteken ek doen dit vir myself. Ek bespuit my met duur parfuum en geniet dit om goed te voel. Dis mos deel van vrouwees?
Nou weet ek nie of ek 'n vreeslike ydele mens is nie, maar toe die SARIE span 'n week gelede na my huis gekom het om 'n foto van my te neem vir die Kersfeesboek, het ek beslis die uitrusting gekies waarin ek die maerste lyk. Ek is deur 'n grimeerkunstenaar onder hande geneem en ek het fotograaf Phyllis Green opdrag gegee om asseblief die swart kringe onder my oë en die rooiheid van my oë met photoshop weg te dokter. En, ek het vir ons stylredakteur gesê: Faantjie, jy beter jou tweede ma goed laat lyk anders onterf ek jou!
Hoekom moet die SARIE leser met my uitgeputte voorkoms gekonfronteer word? Dis mos nie hulle skuld dat ek die vorige nag laat gewerk het nie?
Of moet ons in die onderskrif van my foto skryf: Martie Swanepoel het vanjaar groot inspirerende kopskuiwe gemaak. (Ongelukkig lyk sy op die foto effe gedaan ...)
Ek verkies om 'n beeld na buite uit te straal dat ek gesteld en trots is op my voorkoms.
Is dit 'n vals beeld na buite?
Ek het mos nie vir Phyllis gevra om met photoshop vir my 'n middel te skep of om my wenkbroue te lig sodat ek 10 jaar jonger lyk nie?
Dis opgeleide professionele mense soos grimeerkunstenaars, stiliste en fotograwe se werk om mense wat in vrouetydskrifte verskyn, afgerond en mooi te laat lyk.
Jy betaal mos duur vir jou glanstydskrif. Jy wil hê dit moet jou inspireer.
Ek weet nie van jou nie, maar ek wil asseblief nie 'n aktrise se selluliet sien nie.
Steek ons haar ware vrouwees weg as ons dit met 'n vleiende rok of photoshop bedek?
My beskeie mening is dat die anonieme blogskrywer voortaan weeklikse skindertydskrifte moet koop as sy die naakte waarheid oor sekere glansmense wil sien. Daarin kan sy sien hoe hulle grimering gesmeer is na 'n nag se gefuif en hoe hulle soms vergeet om hulle onderarmhare te skeer.
Dis nie juis die soort foto's wat my sal inspireer om my vrouwees te geniet nie.
Dis waar die woord aspireer inkom.
Ons het nie almal modellywe nie en ja, ons wens soms ons kan so lyk. Dis mos nie verkeerd om die wens te hê om jou voorkoms te verbeter nie?
Maar 99,99% van vrouetydskriflesers is tog nie so laf om hulself uit te honger om soos 'n model te lyk nie.
En nee, ons voel nie soos mislukkings omdat ons nie soos modelle en aktrises lyk nie. Genade, ons is tog intelligente vroue met 'n goeie skoot emosionele intelligensie ook!
Die meeste van ons aanvaar ons lywe soos dit is en voel vervuld en gelukkig met vetrolletjies en selluliet en al.
Maar ons neem ons darem elke Maandag voor om weer te dieet ...
Ons skep nie 'n wan beeld van vroulikheid as ons verkies om ons vetrolletjies privaat te hou nie. Dit gaan oor selfrespek.
Kom ek vra jou nou eerlik. As 'n vrouetydskrif 'n foto van jou neem en jy het daardie dag 'n aaklige zits op jou neus. Sal jy wil hê die fotograaf moet dit uit photoshop?
Of gaan jy daarop aandring om sommer ook jou spatare te vertoon?
Is dit die ware jy?
I rest my case.
Verwante artikels
-
Martie Swanepoel blog oor Aardklop-kunstefees: "Mieliewoede"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 7
Ek wou eintlik net 'n grys broek kom koop. Ek was nie voorbereid op 'n heruitbreek van die Boere-oorlog in een van Aardklop se tente nie.
-
Martie Swanepoel blog: "Balanseer-toertjie"
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 1
Hoe lank kan jy op ‘n tou balanseer? Ek praat van die tou van die lewe wat gespan is tussen punt A en punt B. Soos hoog in die dak van ’n sirkustent. Mens loop treetjie vir treetjie. Jou hande klem om jou balanseringstok.
-
Martie Swanepoel blog: "Ipekonders"
SARIE September 2010
Pomp pomp pomp. My arm raak lam van die druk. Shhhhhhhh, blaas die bloeddrukarmband af ... “Haai vrou, leef jy nog?”
-
Martie Swanepoel blog: "Kantelende seën"
SARIE - Januarie 2011
Ek staan langs die swembad en staar na my dak. Hoe langer ek kyk, hoe groter word die gapende gat in die middel van my huis.
-
Martie Swanepoel blog: "My strykyster verstik"
SARIE - Oktober 2010
By die huis gaan sit ek die klip wat sê ek moet die lewe aangryp in die tuin neer. "Ja, oukei, oukei ... ek verstaan nou jou boodskap!" praat ek met die klip. Koos kyk my aan asof hy dink ek het nou finaal my varkies verloor.
-
Martie Swanepoel blog: Die Bar op De Aar
SARIE - Desember 2010 | Kommentaar: 3
Almal weet daar is 'n bar op De Aar. Maar daar is ook 'n Toyota stasiewa. En ek en inspekteur Dirk soek sy eienaar.
-
Martie Swanepoel blog: Dink-siekte
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 4
Die dokter het blykbaar nie ’n sin vir humor nie en is geskok. Ek dink hy oorweeg dit om die foon op te tel en die mense met die straight jackets te bel.
-
Martie Swanepoel blog: Ek kaap’n vliegtuig
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Iets in my het geknak en ek het besluit die vlug na Dar es Salaam gaan nié sonder my vertrek nie.
-
Martie Swanepoel blog: Gebed op 'n teerpad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die man wat op die motorsitplek worstel om asem te kry, is iemand se geliefde. Die sweet stroom van sy gesig af en dit lyk of hy besig is om 'n epeleptiese aanval te kry.
-
Martie Swanepoel blog: Gunste en gawes
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Die vrou rammel aan en ek probeer keer dat my mond nie verder oophang nie. Toe my ken net duskant my décolleté is, kry ek 'n woord in...
-
Martie Swanepoel blog: Haasmoord
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 1
Amazing grace, how sweet the sound ... Selina se stem kom uit die tuin aangesweef. 'n Effense spot tussen die gewyde woorde. Dan volg 'n ontstelde onderonsie tussen haar en Lieneke.
-
Martie Swanepoel blog: Koffie soapie
SARIE - Maart 2011 | Kommentaar: 2
Die hunk van 'n akteur sit reeds vir my en wag in die koffiewinkel. Hy sien my, staan op en omhels my.
-
Martie Swanepoel blog: Maak oop
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 1
Watter gastroënteroloog sal jy in jou jy-weet-wat laat loer: ’n Aantreklike of ’n befoeterde een?
-
Martie Swanepoel blog: Maureen se laaste Kersfees
SARIE - Desember 2010
Ons het Kersmiddag by Maureen gaan kuier. Ek en Ma Tina het haar hande en voete met room gesmeer en parfuum aan haar gespuit.
-
Martie Swanepoel blog: Nagsluiper
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Ek het lank 'n stryd teen ontwykende slaap gestry voor ek aanvaar het ek is 'n nagdier en die wondere van die nag ontdek het.
-
Martie Swanepoel blog: Ons MOET trou!
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 12
“En nou vir ’n bomskok, ek dink ons moét trou ...” Daar in die Mimo’s om elfuur die oggend op ’n Donderdag staar ek vir die man oorkant my.
-
Martie Swanepoel blog: Reine gedagtes
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 6
Wat het ons hier? Die Warrior Pose? Ek wonder hoe Judas sal voel as ek voor hom in dié pose gaan staan ... (Hy sal waarskynlik dink ek is stapelgek! But who cares?)
-
Martie Swanepoel blog: Tuin van hoop
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Ek weet nie of die een of ander wyse hom al daaroor uitgespreek het nie, maar ek glo elkeen wat deur 'n diep lewenskrisis gaan, behoort 'n tuin te plant.
-
Martie Swanepoel blog: Verraad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die dag as jy besef die man wat jy op die hoogste troon gesit het omdat hy jou stukkende hart weer kom laaf het, is ’n verraaier... daardie dag bars jou lewe soos ’n helium ballon.
-
Martie Swanepoel blog: ’n Lewer vir Anci!
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 3
“Anci is nou in die teater. Skenker lewer is jonk en spotless ...”
















Kommentaar
Muggie het gesê:
Martie, ek het nie spesifiek na Sarie verwys nie, soos ek seker is die blogskrywer van Rapport ook nie het nie. Jy het gevra of ons jou moeg met 'n zit wil sien, en dis my antwoord daarop, ongeag vir watter publikasie. Die dubbelken et al was as voorbeelde gebruik, hoewel ek 'n baie bekende persoon gesien het 'n paar weke na 'n voorblad vir 'n ander tydskrif geskiet is - ek weet dit neem amper 3 maande voor dit die rak tref - en van die dubbelken wat almal weet sy het, was daar geen teken nie. Ekself het 'n dubbelken, en ek weet daar is maniere wat 'n professionele fotograaf jou kan afneem om dit weg te steek, tesame met professionele grimering. My antwoord was egter oor voorblaaie in die algemeen - ek lees nie net Sarie nie. Maar ek gee Sarie dit ter ere dat mens wel plooitjies sien, en dis reg en goed so. Veral onder die Engelse vrouetydskrifte wat erg modegefokus is, is dit 'n tendens om erg te photoshop, en dit is waar die onrealistiese verwagtinge ens vandaan kom. Maar dan moet ek ook sê ek dink die deursneevrou is nie so simpel dat sy dink dis die werklikheid nie.
15de Okt. 2010, 14:27Martie Swanepoel het gesê:
Muggie, as jy kan bewys SARIE gee voorbladmense wangbene en skerp kenne gee ek jou my Krismisbonus! Ek sit met Lianie May se voorblad voor my en ek sien haar lagplooitjies en die moesie op haar lip duidelik. Kyk na Diaan se voorblad, kan jy die plooitjies onder haar oë sien en die sproete op haar skouers? Kyk na haar foto's binne-in. Sien jy die vlekkies op haar arms? En veral op bl 45 en 48 die lekker lagplooitjies? En Jody se plooie op nl 52? Kyk gerus na Michelle se lagplooitjies en kyk weer mooi na Marita van der Vyver se foto! Ek weet nie of ons twee dieselfde tydskrif lees nie.
15de Okt. 2010, 13:43Nelda het gesê:
Ek dink nie dit is bloot 'n keuse tussen photoshop en geen photoshop nie. Ek stel voor dat 'n middeweg gevolg word. Wat mense DOEN is meer inspirerend as hoe hulle LYK. Dink aan Dalene Matthee. Ek het onlangs 'n tydskrif voorblad gesien waar die vrou so erg gephotoshop is dat sy soos 'n geisja gelyk het. As ek nie wil hê dat mense my spatare, vetrolle en selluliet sien nie, trek ek so aan dat hulle dit nie kan sien nie. Bekendes kan dieselfde doen.
15de Okt. 2010, 12:49Muggie het gesê:
Ek het nie 'n probleem as 'n zit of lelike vlek bietjie gephotoshop word nie, maar ek dink daar is 'n fyn lyn wat soms te ver gestrek word. As mens weet iemand is al in die 60, en jy haar in lewende lywe al gesien het, hoekom moet sy met 'n babagladde vel op die voorblad pryk? Nee, sy hoef nie a la naturel te gaan nie, maar om skielik wangbene te hê, 'n skerp ken as jy nie het nie, en nie 'n enkele lagplooitjie nie is te erg. En ek sien meeste tydskrifvoorblaaie maak hulle aan hierdie oormatige photoshoppery skuldig. Kom ons wees net realisties tesame met die aspirasie.
15de Okt. 2010, 09:50