Martie Swanepoel blog: Reünie
Ek sluk sommer 'n groot sluk wyn en proes byna daaraan. Wat verwag jy as jy hoor die outjie wat in standerd vier langs jou gesit het, is nou 'n male stripper?
By knetterende konkas vuur staan ons en onthou met glase wyn. Jare se onthou.
Ons ruil staaltjies uit van "onthou jy dit en dat".
"Haai, waar is jou broer Danie vanaand?"
Danie se broer peins in die donkerte en kyk dan reguit na my.
"Het jy dan nie gehoor nie?"
"Wat?"
Asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is, vertel hy my hoe sy broer se kop uitgehaak het.
"Hy is nou 'n male stripper."
Ek sluk sommer 'n groot sluk wyn en proes byna daaraan.
Dis nie maklik om te hoor dat die outjie wat in standerd vier langs jou in die rekeningkunde-klas gesit het nou 'n male stripper is nie.
Ek is nie seker wat om te antwoord nie.
Sê mens: "Dis 'n interessante beroepskeuse."
"O," kry ek floutjies uit.
Ek probeer Danie in sy laerskool safari-pakkie onthou.
Die twee beelde wil net nie by mekaar uitkom nie.
Vertroulik vra ek later die aand vir Karel of hy weet van Danie want hulle was maats.
"Jissie, eendag is ek op 'n kongres in Kaapstad en ek gaan maak 'n draai by Barrie vir 'n bier. 'Wag,' sê hy vir my. 'Ek moet jou iets gaan wys'."
Hy vertel hoe Barrie hom na 'n male stripper bar geneem het.
Karel is een van daardie ouens wat op skool goddeloos stout kon wees. Hy en Barrie. Maar Danie was die soet stil een.
"Jong, ek vra hom toe of hy seker is ons is op die regte plek? Ek en Barrie in 'n male stripper bar. Verbeel jou! Maar Barrie sê hy moet my iets wys.'"
Karel rek die storie oudergewoonte bietjie uit vir die gewenste spannende effek. Ek hang aan sy lippe.
"Ons gaan sit nogal heel voor."
Sy storie vang 'n paar draaie voor die show in die bar begin.
"Toe die outjie begin wikkel en dans en sy klere laat waai, stamp Barrie aan my. 'Toe? En wat sê jy nou?'"
Karel vertel in kleur en geur wat hy daar op die verhoog gesien het, maar dis nie wat Barrie wou hê hy moes sien nie.
"Kyk man! Wie sien jy?" por hy aan Karel wat steeds net 'n kaal ou sien wat dans.
"Nogal 'n mooi geboude ou. Sulke spiere," beduie hy vir my.
"Dis Danie man! Kan jy nie sien nie?" vertel Barrie hom. "Danie van skool! Kyk mooi."
Karel bieg hoe moeilik dit was om op die dansende Adonis se gesig te fokus.
"Jou waaragtig, daar sien ek toe dit is Danie. Ek moes 'n double daarna bestel. Dis nie aldag wat jy 'n laaitie saam met wie jy albasters gespeel het, sy klere op 'n verhoog sien uittrek nie."
Lank na die samekoms pla die ding van Danie my.
Danie was 'n dierbare goeie ou.
Ek maak my skool-albums oop en kyk na Danie in sy safari-pakkie.
Ek kan nie onthou wat dit was wat hy graag eendag wou word nie.
"Dis na hy van die grens af teruggekom het, wat sy kop so uitgehaak het," het sy broer my vertel.
"Ja," het Karel my na sy storie gesê, "Die blêrrie grens..."
(*Name is verander weens die sensitiwiteit van die onderwerp)
Verwante artikels
-
Martie blog: "Meetsnoere van genade"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Daar moet iets met my verkeerd wees, dink ek. Hoekom sien ek die mens agter die situasie so maklik raak? Is ek dan 'n sucker vir oortuiging? Of het ek al 'n les geleer?
-
Martie blog: Ek kan in Frans hoes
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek kan omtrent Mevrou Spogbuurt se duur krone op mekaar hoor klap. Haar mond is die eerste keer in ’n uur toe.
-
Martie se blog: "Vlieg soos ‘n arend"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
Soms sê ek vir my kinders: “Kyk of julle McDermot sien ...” Dan maak ek ‘n onwettige U-ie in die middel van een van Parys se nou strate wat die verkeershoof stil sal skok.
-
Martie Swanepoel blog: "Stakers beduiwel rekord-eksamen"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 5
Die geluid van vuvuzela's het nie vanoggend dieselfde uitwerking op my as tydens die Wêreldbeker nie. Ek voel bietjie soos 'n gek.
-
Martie Swanepoel blog: Blogband
SARIE Augustus 2010
Ian Roberts kyk my nuwe digitale bandopnemertjie verdag aan.“Nou hoe weet ons dit wat ons nou praat, is in daai dingetjie?”
-
Martie Swanepoel blog: Destruction before creation
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 5
Hoe om jouself reg te ruk en die lewe ten volle aan te pak
-
Martie Swanepoel blog: Dink-siekte
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 4
Die dokter het blykbaar nie ’n sin vir humor nie en is geskok. Ek dink hy oorweeg dit om die foon op te tel en die mense met die straight jackets te bel.
-
Martie Swanepoel blog: Ek kaap’n vliegtuig
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Iets in my het geknak en ek het besluit die vlug na Dar es Salaam gaan nié sonder my vertrek nie.
-
Martie Swanepoel blog: Gebed op 'n teerpad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die man wat op die motorsitplek worstel om asem te kry, is iemand se geliefde. Die sweet stroom van sy gesig af en dit lyk of hy besig is om 'n epeleptiese aanval te kry.
-
Martie Swanepoel blog: Hartskok
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek staan tussen die twee hospitaalbeddens in die harteenheid se intensiewe waaksaal. Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor.
-
Martie Swanepoel blog: Mevroutjie val toe weer
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 10
Ek kry myself geweldig jammer. Ek wens iemand kon 'n lawende lappie vir my voorkop bring. Ná 'n halfuur bel ek op my sel my kind in haar kamer...
-
Martie Swanepoel blog: Rissie-wrap!
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 4
In die aroma van rissie en knoffel lê ek soos ’n chorizo-worsie wat in glad wrap toegewikkel is – en ek voel behoorlik hoe die vet wegsmelt.
-
Martie Swanepoel blog: Tuin van hoop
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Ek weet nie of die een of ander wyse hom al daaroor uitgespreek het nie, maar ek glo elkeen wat deur 'n diep lewenskrisis gaan, behoort 'n tuin te plant.
-
Martie Swanepoel blog: Verraad
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 3
Die dag as jy besef die man wat jy op die hoogste troon gesit het omdat hy jou stukkende hart weer kom laaf het, is ’n verraaier... daardie dag bars jou lewe soos ’n helium ballon.
-
Martie Swanepoel blog: Vier kerse
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 4
“Die kepe langs my mond word al dieper. As ek myself in ’n spieël vang en ek sien daai kepe, wil ek huil. Maar dis die mond van ’n vrou wat al genoeg suurlemoene geëet het.”
















Kommentaar
Nolene Verwey het gesê:
Wat is fout met 'n male stripper? Hoekom is mense tog so homofobies?
20ste Aug. 2010, 19:24