Martie Swanepoel blog: "Olyfhemp"
Ek het vanoggend weer die versnipperde hemp, wat die hospitaal vir my gegee het, onderin my kas raakgekyk en probeer dink wat noem mens ‘n item waaraan jy so klou? Want dis nié ‘n troosbersie nie.
Ek gaan haal pos by die poskantoor. Twee pakkies wag by die toonbank.
‘n Uitgewer het vir my ‘n boek, Stories van Hoop, gespos waarin ek ‘n bydrae gemaak het.
Helené Bester het vir my twee groen draadharte gestuur om dankie te sê vir die storie wat ek oor haar troue vir Lééf geskryf het. Aan die harte is olyfgroen linte vasgebind. “Hoop dit gaan voriwind!” skrywe sy vir my op die poskaart waarop sy en Jacques glimlag op die eerste dag van hulle huwelikspad saam.
Ek sorteer deur rekenings, kennisgewings en gemorspos. Die koevert herken ek dadelik aan die adres agte rop.
‘n Vreemde ironie. Dat dit arriveer so saam met die harte en boek vol hoop. Op die dag wat die swart hond weer die hemp voor my voete kom neersit het.
Ek skeur die koevert nie oop nie. Ek vlug boekwinkel toe.
Town & Country Cat van Lynn Holyn het skilderye deur Robert Goldstrom. ‘n Pragboek geskryf in kalligrafie. Dit vertel verhale van katte met uitdagende geaardhede en van die wat jou hart kan aanraak.
Dis wat ek vandag nodig het. ‘n Aanraking van die hart.
By die huis sluk ek ‘n pienk pil saam met tee en skryf ‘n stuk oor die vier pilare van gesondheid. Genadige navorsingswerk sonder emosie.
Etenstyd gaan sit ek met my tee en katboek in die sonkol op die stoep. Tequila kom klim met haar te-groot-vir-‘n-skoothond-lyf op my skoot. Sy lek oor my hande en ek voel haar warm tong vinnig oor my souterige wang. Haar gesig rus op my bors.
Sy staar na my.
“Ek wil lees.” Lig ek haar in. Sy bly lê.
Vir ‘n rukkie sit ons twee so stil. Ek voel my hond se hart klop teen my lyf.
Vriend Cokes SMS my: “Jy is stil. Gaan dit goed?”
Kobus SMS en vra of ons kan ontmoet vir koffie.
Ek tel Tequila van my skoot af. “Ek moet nou gaan werk.”
In my kantoor hang ek Helené se harte teen my venster.
Ek begin vertaal aan ‘n stuk oor ‘n vrou wat ‘n kookboek oor koeke geskryf het.
All the worlds a birthday cake, so take a piece, but not too much.
Maar vandag is nié ‘n tjoklitkoek-dag nie, besluit ek.
Vandag wil ek nie ‘n slice van die lewe hê nie.
“Martieeeee!” Gil iemand van die voordeur af.
Dis my vriendin, die skilder. My hart sak.
Ek voel soos Gretha Garbo... I just want to be alone.
“Ek het gevoel ek moet na jou toe kom. Ek sal koffie drink.”
My vriendin is oorweldigend, mens stribbel nie teë nie.
“Is jy besig? Kom ons gaan sit op die stoep. Hoekom bel jy nie? Ek het jou die naweek kom soek. Waar was jy?”
Sy wag nie vir antwoorde nie.
“Nou toe, wat gaan met jou aan?”
“Ek is bietjie besig...” keer ek.
Wat is dit vandag met alles en almal so aan my karring?
Sy is een van daardie mense wat jou tot oorgawe dwing.
Vir ‘n kunstenaar kan sy baie prakties wees. Sy gee nie drukkies nie. Net ‘n spul instruksies oor hoe ek die situasie moet hanteer.
Toe sy by die hek uitry, draai sy haar venster oop en gee nog opdragte.
Sy wag nie vir my antwoord nie en trek met ‘n spoed weg.
Ek gaan sit by my lessenaar en skeur die koevert oop.
Dear Mrs Pieterse
Estate late: J Pieterse
We refer to the above estate.
We advise as follows.
We are busy collecting proceeds from Samlam upon receipt, we will proceed to do the statement of assets and liabilities.
Please always quote the reference.
Our further advice will follow in due course.
Martha Mabunda
Estate Services
Ek sal die hemp verbrand en die as onder een van my olyfbome inspit. Dalk sal ek een van Helené se harte aan die boom hang.
Verwante artikels
-
Aletté-Johanni Winckler se weeklikse blog: My pad terug na 'n grootte 34 ná swangerskap
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 31
Aletté-Johanni Winckler, voorkomskonsultant en vrou van sanger Heinz Winckler, blog weekliks eksklusief vir sarie.com oor hoe sy beplan om weer ná die geboorte van hul eersteling, Lian, in haar nommer 34-broek te pas.
-
Martie blog: "Ons merries verstaan mekaar"
SARIE Augustus 2010
Ek weet nie hoeveel suikerklontjies Versigtig op 'n middag eet nie, maar met elke soetigheidjie kyk ons mekaar betekenisvol in die oë. Ons merries verstaan mekaar.
-
Martie se blog: "Vlieg soos ‘n arend"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
Soms sê ek vir my kinders: “Kyk of julle McDermot sien ...” Dan maak ek ‘n onwettige U-ie in die middel van een van Parys se nou strate wat die verkeershoof stil sal skok.
-
Martie Swanepoel blog: "Ipekonders"
SARIE September 2010
Pomp pomp pomp. My arm raak lam van die druk. Shhhhhhhh, blaas die bloeddrukarmband af ... “Haai vrou, leef jy nog?”
-
Martie Swanepoel blog: Blogband
SARIE Augustus 2010
Ian Roberts kyk my nuwe digitale bandopnemertjie verdag aan.“Nou hoe weet ons dit wat ons nou praat, is in daai dingetjie?”
-
Martie Swanepoel blog: Hartskok
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Ek staan tussen die twee hospitaalbeddens in die harteenheid se intensiewe waaksaal. Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor.
-
Martie Swanepoel blog: Mevroutjie val toe weer
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 10
Ek kry myself geweldig jammer. Ek wens iemand kon 'n lawende lappie vir my voorkop bring. Ná 'n halfuur bel ek op my sel my kind in haar kamer...
-
SARIE-joernalis blog uit haar ‘kantoor’ in Parys
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 7
Ek is gemoisturiseer en ge- Jean Paul Gaultureer-geparfumeer. (Ek smeer nie lipstiek aan op 'n deadline nie, dit vlek my keyboard as ek hom soms byt.) Nou moet daai mannetjie vir wie ek al 'n duisend boodskappe en e-posse gelaat het my net terugbel.
















Kommentaar
Judy het gesê:
Plant 'n splinternuwe olyfboom op 'n spesiale plekkie en begrawe die hemp daar as jy reg is daarvoor. Jou nuwe hoofstuk het klaar begin, jy moet nou die ou hoofstuk afhandel.
28ste Jul. 2010, 13:13Ben Engelbrecht het gesê:
Die ou lewe het soms 'n manier met 'n mens. Hou daardie hemp styf vas, en ruik al die goeie herhinderinge wat tussen die snye kop uitsteek...
25ste Jul. 2010, 16:38Susan het gesê:
Martie, soos altyd, kan jy met woorde mens intrek sodat dit voel of dit mensself is wat die hemp sien, en die koevert oopskeur.
23ste Jul. 2010, 09:02Kobus het gesê:
Sjoe, Martie. My hart huppel sommer. Diep aangrypend. Ek sms jou vir koffie!!! x
22ste Jul. 2010, 08:42Christiana het gesê:
Dis vandag so 'n dag hier by my ook. Net, ek het geen hond, kat of kind om teen my te skuur en te dwing tot verantwoording teenoor iets of iemand anders nie. Hier is niemand wat my ken en gou kan inloer nie, my SA-selnommer werk nie hier nie. Dus geen smssie om my met die res van my vriendekring se gedagtenisse te verbind nie. Maar ek weet dat die wat weet, daar is op hul pos en dat ons vir mekaar kersies opsteek - in die hart. Soos ek vir jou, Martie. En: "Our further advice will follow in due course". Met Parys hier om die draai, dag ek ewe... Vanoggend besef ek "Martie is alive and well and living in Parys"!
22ste Jul. 2010, 08:42Lynette het gesê:
Jy is een van die min mense wat "selfterg" tot 'n kuns verhef!! Sooooooo voorreg om jou vriendin te noem. Ek glo Johan sal die olyfboom-rusplek waardeer...
22ste Jul. 2010, 08:24Lynette het gesê:
Hi Martie, ek sou soos Tequila, jou op so 'n swarthonddag wou troos. Jy kan darem so lekker uit die hart skryf en ander harte aanraak.
22ste Jul. 2010, 01:44Nelda het gesê:
Ek is bly jy het 'n vriendin soos 'kunstenaar' in jou lewe.
21ste Jul. 2010, 22:05Tanya O'Connor het gesê:
Ai Martie . . . ek voel eks daar saam met jou soos ek hierdie lees. Ek is sprakeloos, jy weet ek het ook sulke oomblikke gehad. My hart is by jou!
21ste Jul. 2010, 20:21