Michélle se gunsteling-SARIE-voorblaaie nóg
Foto’s: Johan Wilke Galery
Hoeveel voorblaaie, vra ek myself, het ek al aan gewerk vandat ek by tydskrifte is? Te veel om te noem, net te veel om te onthou.
Behalwe ’n paar.
Ons eerste maandtydskrif in Junie 2002 met model Bernice Dodd op die voorblad – die rooi een en steeds my gunsteling omdat ek tóé besef het dís ’n waterskeidingtyd vir SARIE as Afrikaanse vrouetitel in die nuwe SA.

Ek dink aan Nataniël se 2006-Kersuitgawe met goud op die agtergrond en hy wat breed glimlag, iets wat hy nie maklik doen nie! Dit was die eerste keer in 23 jaar dat SARIE dit met ’n man op die voorblad gewaag het nadat akteur Richard Gere van American Gigolo-faam glad nie ons SARIE-lesers beïndruk het soos hy met die res van die wêreld se vroue gemaak het nie! Maar met Nataniël was dit anders.

Daar verkoop hy toe byna soveel soos ons top-verkoper van dieselfde jaar, Anna-Mart. Háár vele voorblaaie onthou ek een vir een, en daar was baie, omdat sy nog altyd SARIE se Nr. 1-voorbladgesig was.

Elma Postma van 7de Laan. Vir haar laaste voorblad het Fanie Cronjé, ons styl- en sosiale redakteur, silwer by die Picas verower vir Voorblad van die Jaar nadat hy “Dezi” oortuig het om haar hare kort en donker te dra. Vir haar was dit traumaties, maar sekerlik het ek haar nog nooit mooier gesien nie.

Dan’s daar die voorblaaie wat nie beplan word nie, maar as binnefoto so treffend is dat ons al ons planne omkeer om dit ’n voorblad te maak. Dink aan die foto van Diaan Lawrenson (Paula van 7de Laan) en haar slapende Olivia Rose met die sagte engelvlerkies teen haar vasgedruk wat die fotograaf Leana Clunies-Ross geneem het.

En hoe sal ons ons onlangse CharlizeTheron-voorblad kan vergeet? Kalmmooi in ’n kraakwit hemp. Die foto wat ons eers gehad het, toe nie gehad het nie en waarvoor ons toe moes baklei van hier tot in Parys, Doebai en Los Angeles totdat Charlize self vir SARIE die jawoord gegee het. Met net minute oor voor ons fabriek-spertyd kon daardie rolperse genadiglik begin draai. Dáár het ek besef
SARIE hét senuwees van staal.

Nadia Valvekens van Binneland met haar sagte blou oë en snoesgrys trui het ons só geïnspireer dat ons die hele tydskrif om haar beplan het. Moeilike voorblaaie is daar ook, want dis ’n ingewikkelde ding om reg te kry, maar dis ’n storie vir ’n ander dag . . .

So, wat maak ’n goeie voorblad? Baie verskillende dinge. Dis die oë, dis die kleure, dis net ’n gevoel. Dis selfversekerdheid, uitbundigheid, vroulikheid, sensualiteit. Goeie balans en sinergie. Soms ’n sagtheid, soms ’n weerloosheid.
Vandeesmaand se voorblad is van die heel mooiste waaraan ek nog gewerk het. Die foto het my asem weggeslaan. Alrie Velleman van Port Elizabeth, wenner van ons Voorbladgesig-wedstryd, wat meer as 3 000 inskrywings landwyd getrek het, is ’n voorbladgesig duisend. Daar’s ’n heilsaamheid en eerlikheid. Sy’s sensueel, maar ook the girl next door. Dis daai wonderlike bos hare, mooi mond en oë wat sê: Ek’s SARIE, kom ons gesels! Vir ’n beter ambassadeur kon ons nie gewens het nie.

Ek glo daar’s nog baie voorblaaie daarbuite vir SARIE. So, maak gereed – volgende jaar is dit dalk net jý!

























Kommentaar
Sandra het gesê:
Sonder twyfel Diaan en Olivia!! Dit het my asem weggeslaan!!
8ste Nov. 2011, 08:57Jakki het gesê:
Ja ek mis ook vir Margaret Gardiner. En Anna-Mart doen dit ook vir my!!
7de Nov. 2011, 15:36Cornette het gesê:
Die een met Diaan en klein Olivia Rose dit is so so mooi!
7de Nov. 2011, 13:08PETRO het gesê:
ALRIE VELLEMAN - DEFNITIEF -
7de Nov. 2011, 12:54Marianne Crowe het gesê:
Ek kan 'n voorblad met Anna-Mart en natuurlik ook Nataniël nie weerstaan nie. Ek het nou nog my 2006 Nataniël uitgawe!
7de Nov. 2011, 10:45Lizel van Zyl het gesê:
Derinitief Charlize!!! Sy sal altyd die oog trek.
7de Nov. 2011, 10:41Lettie Breytenbach het gesê:
Nie hier ingesluit nie is Margaret Gardener. As sy op die voorblad kan ek dit nie weerstaan nie, en natuurlik Nataniël. Waak net teen eksploitasie van beroemde gesigte ( soos Anna Mart) 'n mens word moeg om hulle kort-kort op voorblaaie te sien. Jammer , maar Alrie doen dit nie vir my nie.
7de Nov. 2011, 09:47Susan Daniels het gesê:
Nataniel
7de Nov. 2011, 09:45Magdie Raats het gesê:
Ek was mal oor Charlize se cover! You brought her home! Dankie vir die ongelooflike inspirasie elke maand hoe die Art Director kleure bymekaar sit! Ek koop die Sarie vir sy kleure en mooi van elke bladsy!
7de Nov. 2011, 09:35Anna-Marie Barnard het gesê:
Ek kry nie genoeg van Charlize Theron se asemrowende skoonheid! Die mees perfekte gelaatstrekke al ooit gesien!
7de Nov. 2011, 09:28Tania het gesê:
Definitief die een met Elma Postma (Dezi) Dit was vreeslik striking gewees en ek wou dadelik gaan en my hare so knip.
7de Nov. 2011, 09:28Veronica het gesê:
Die een van Nadia Valvekens op die voorblad was mooi, saam met 'n paar ander, maar..... Ons eie Port Elizabeth meisie, Alrie Velleman. Sy het net daai IETS!!! Pragtige meisiekind!! Kyk baie keer rond in die Sentrums of ek haar nie gewaar nie. Maar sy's seker baie besig nou. Sal aanhou kyk.xxx
7de Nov. 2011, 09:16Tania het gesê:
My heel gunsteling was nog altyd die een van Elma Postma met haar kort donker hare! En ek is ook mal oor Alrie Velleman se voorblad.
7de Nov. 2011, 09:11Liana van Aswegen het gesê:
Die Junie 2002-voorblad met Bernice Dodd trek en hou 'n mens se oog - dalk te danke aan die mooi rooi of haar bloue oë! Hy is ook vir my mooi skoon - nie so besig met geskryf weerskante van die foto nie. Junie 2010 s'n met Nadia Valvekens op is ook mooi.
7de Nov. 2011, 09:08Julia-Ann Rossouw het gesê:
Ek hou baie van Nadia Valvekens se voorblad, dink omdat sy so nederige mens is, maak dit haar uitstaan vir my op die voorblad!
7de Nov. 2011, 09:01Amelia Ireton het gesê:
Al julle voorblaaie is pragtig , dit is meeste van plaaslike kunstenaars en sterre en mensies en ek moet julle komplimenteer dit is totally stunning ,ek moet se `n blou of ligblou grys en turqoise agtergrond is altyd `n wenner want mens sien dit gou raak , selfs die geel een is stunning, blou en turqoise is juis so in die mode nou , dit is maar net uit my oogpunt gesien maar dit is totally stunning, dankie vir top tydskrif !
7de Nov. 2011, 08:43Anna het gesê:
Definitief die een met Anna-Mart!! Mens kyk altyd 2 keer as sy op 'n voorblad is-syt net daai 'iets'
7de Nov. 2011, 08:43