Nataniël oor geskenke: "Dis die gedagte wat tel"

Deur Nataniël, SARIE Desember 2011

Nataniël oor geskenke: "Dis die gedagte wat tel" Foto’s: Clinton Lubbe Galery

Al ons goed, die miljoene en miljoene goed op Aarde, waar moet dit heen? Dié gedagte los jou nie gou nie.

Ek voel fantasties! Die afgelope week het ek soos ’n malle te kere gegaan, weggegooi, weggegee, weggepak en weggery! My huis is weer skoon, skoon, skoon, leeg, netjies, splinternuut en so mooi! Ná byna twee jaar kan ek weer die bed in die onderste slaapkamer raaksien. Hy was die hele tyd
toe onder boeke en geskenke – sommige het ek ontvang, maar kon nie pakplek opspoor nie, ander het gewag om toegedraai en oorhandig te word.

Personeel, vriende en vreemdelinge het hope klere uitgedra, broeke waarin ek nooit weer sal pas nie, skoene wat in ’n oomblik van waansin aangeskaf is, kostuums wat nie deel was van ’n merkwaardige hoofstuk nie, slaapklere wat ek nie eens in die noodeenheid sal dra nie en skeppings wat op ’n onverklaarbare wyse hul pad na my tuiste gevind het.

Die pakkamers is verlos van borde, koppies en pierings wat nog nooit ’n maaltyd meegemaak het nie, genoeg teestelle om ’n klein landjie te laaf en blompotte wat nog nooit aanvaarbaar was nie. Nooit weer sal ek toelaat dat ek en my veilige hawe so belas word met onnodighede nie. Ek is verlos en begin voor. Ek voel soos ’n jong bruid in ’n duur hotelkamer.

My fantastiese gevoel gaan wel saam met ’n kwelling wat my nie wil los nie. Ek kon nie hierdie hope besittings laat verdwyn nie, ek kon dit nie ongedaan maak nie, alles is bloot net verskuif, sommige dinge gee dalk nou eers plesier aan ander, maar hulle bestaan nog wel. Ek droom snags van berge en berge rommel en ’n klein planeetjie wat saam met sy inwoners besig is om te versmoor en te verdwyn. Elke ding wat ek tot dusver aangeskaf het, lê nog iewers rond; die vuilgoedlorrie is nie ’n toormasjien wat iets laat verdwyn nie, hy neem dit net na daar waar ek dit nie sien nie!

En nou is Kersfees op pad. My beste, beste tyd, my tyd van verrassings en linte en blinkers en mooi versierings en duisende pakkies. Wat gaan ek doen? ’n Kersfees sonder geskenke? Tot sulke eenvoudigheid sal ek nooit daal nie. Elke mens op aarde, hoe slim, ryk of vindingryk ook al, het iets nodig – die geheim is om uit te vind wát. Dis die oplossing. Om te koop met verstand, om te beplan, te herkou en weer te beplan. Om rond te vra, uit te vis, wakker te lê, na te lees, na te vors, te bel, dop te hou.

Ek wil nog steeds my glas sjampanje in twee slukke leegmaak, só opgewonde om almal gek van afwagting te sien, maar sonder om hul toekoms en hul leefruimte te vernietig. Hierdie jaar staan ek lank voor die rak – ek gee geskenke wat my vriende op hul oudag nog sal gebruik.

Vandat ek my eie winkel het, gebeur dieselfde ding elke jaar. Ek skaf items aan wat vir my persoonlik baie slim of baie mooi is. Dan sê my personeel dit sal nooit verkoop nie, dis te weird, dis te duur. Maar op 24 Desember, ’n uur voor toemaaktyd, storm die desperates die winkels binne, bereid om enige ding te koop teen enige prys, net om iets onder die Kersboom te gaan neergooi. Hierdie jaar preek ek vir hulle.

Die uitdrukking “Dis die gedagte wat tel” word so vieslik deur al die luies misbruik. Uiteindelik begin dit vir my sin maak, dit lui nie “Dis net die gedagte wat tel” nie, dit sê nie, Ek gee jou niks, maar ek dink aan jou nie. Dit sê wel, Ontvang my geskenk, ek het lank gedink en seker gemaak en ek gee dit met vrymoedigheid.

Kommentaar

  • Welgedaan - wees bly daar is nie kinders by betrokke nie - na 'n sodanige huis skoonmaak sessie - ek het verlof geneem vir 'n week - het my dogtertjie met trane in haar oe voor my gestaan en gevra: Het jy my stickers gesien?....................................

    22ste Des. 2011, 20:00