Nataniël: "Dalk is dit omdat ek in die verkeerde tyd gebore is"

Deur Nataniël, SARIE - Oktober 2010

"Die foto hierbo is geneem in Oktober 1864. Ek was 'n gas van baron en barones Finney op hul landgoed Ickworth naby Suffolk."

Ons het die hele dag in die woude gaan jag met tientalle perde en nog meer honde. My jassie was 'n bietjie helder en die jakkalse kon my myle ver gewaar, dus is daar op dié dag nie 'n enkele een geskiet nie. (Die vorige week het koningin Victoria my twee keer tydens 'n teeparty gevra waar ek my klere laat maak, maar ek het net geglimlag en gesê sy lyk op haar beste in swart of bruin - sy was toe reeds 'n paar pond stewiger.)

Ná die onsuksesvolle jagtog het ons almal verklee en opgewonde na Melford Hall vertrek. Lady Ann Clopton se Franse sjef het daarop aangedring dat sy disse geëet moet word met vurke met VIER tande! Lady Ann het 'n stel uit Frankryk laat kom en ons sou dit dié aand met 'n spesiale banket inwy. Bid jou aan!

Ek was so opgewonde, ek het amper my handskoene vergeet!

Watter ongelooflike era was dit nie. Soveel ontdekkings, soveel eerstes. Vinniger motorkarre, luukse treine, gloeilampe, skerppuntskoene, bekostigbare porselein, klaargemaakte meubels wat net so by 'n handelaar gekoop kon word, roomys, stofsuiers, posseëls, telefone, naaimasjiene, telegramme en die eerste uitrustings sonder korsette.

Ja, ek is mal oor minimalisme, plat motors, moderne meubels, papierdun televisiestelle en die nuutste modes, maar ek bly leef in die verlede. Ek bly wonder oor die eerste keer wat iets gedoen, ontwerp of ontdek is. Ek bly jaloers oor die groot opwinding wat beleef is oor die kleinste wonderwerke, die eerste lepel, die eerste kam, die eerste skoen.

Wie het besluit ons skryf van links na regs, van bo na onder? Wie het besluit as jy 'n klippie skuur en vryf, word dit 'n diamant? En wie het toe besluit dit is gesog en waardevol? Wie het besluit 'n vrou se enkel is skandalig en moet bedek word, en wie het toe later besluit dis aanvaarbaar, gebruik minder lap? En hoekom? Wie op aarde het besluit dis pret om 'n balletjie heen en weer te slaan met 'n spaan, en hoe het dit toe 'n gewilde sport geword waarmee fikse mense vandag miljoene verdien?

Hoe op aarde het die rykes van die vorige eeue met hul pruike en oordadige klere dit uitgehou in 'n paleis met duisende kerse wat elke aand moes brand? Het die gesweet en gestink hulle nie mal gemaak nie? Hoe het hulle mekaar aantreklik gevind en omhels sonder om flou te val?

Wie het grimering uitgedink? Wie het besluit 'n paar potblou ooglede is modieus? Hoekom kon mans paradeer in stywe, stywe broeke - selfs kouse - en vroue in wye uitskoprokke? En hoekom is dit vandag andersom? Deesdae vind ek dat ek net na twee kanale op televisie kyk, BBC Knowledge en The History Channel. In 'n boekwinkel storm ek dadelik na die geskiedenisrak en strompel uit met boeke oor die Medici-familie, die ontstaan van braille, die juwele van Wallis Simpson, die sluipmoorde wat die wêreld verander het, die eerste vroue wat regeer het en die gevolge van die Franse Revolusie.

Dalk is dit omdat ek in die verkeerde tyd gebore is, dalk omdat ek wou deel wees van 'n samelewing waar privaatheid, magiese elemente, fantasie en verwondering nog nie verwoes is deur tegnologie nie, heel waarskynlik omdat 'n mens slegs 'n verhaal kan verstaan en waardeer as jy die begin daarvan ken.

Op skool het ek geskiedenis verpes. As jong kind is ek bang gemaak met ossewaens, slawe, krygsgevangenes en skepe met lelike name. Waar was die opwinding? Waar was die skoonheid en uitvindsels? Dalk het my juffrou of meneer lelik aangetrek en het ek nie geluister nie. Maar as ek toe geweet het wat ek nou weet, was my lewe en loopbaan vandag heeltemal anders. Nou moet ek berus in my herrineringe aan tee met Victoria.

Verwante artikels

Kommentaar

  • Laat weet as jy weer in Suffolk kom.Ons woon in Ipswich.

    28ste Des. 2010, 22:28
  • Ek is absoluut mal oor Nataniel wens ek kon hom beter op persoonlike vlak leer ken elke artikel wat hy skryf voel vir my asof dit my denke en my skryf werk is.

    25ste Nov. 2010, 08:39