Nataniël: Kaalkop Job

Deur Nataniël, SARIE September 2010

Nataniël: Kaalkop Job Foto’s: Clinton Lubbe Galery

In my lewe gebeur alles op ’n Dinsdag.

Ek het selfs al ’n boek geskryf met dié titel en voor ek eendag my laaste asem uitblaas, sal die verpleegster langs my bed se naam seker ook Dinsdag wees.

Só hardloop ek op ’n Dinsdagoggend om 10:25 by ’n regeringskantoor in. Ek moet my nuwe paspoort gaan haal, daarna moet ek iewers my aansoek om ’n visum indien en daarna moet ek betyds op die lughawe wees vir my vlug Kaapstad toe. Ek het reeds ’n paar weke vantevore vir ure in ’n ry gestaan om vir die paspoort aansoek te doen, dit behoort nou ’n minuut te neem om dit te ontvang.

’n Vrou agter ’n lessenaar staar die verte in en stoot ’n papiertjie rond met haar vinger. Aan die oorkant sit ’n ry verdwaasde mense teen die muur. Die vrou agter die lessenaar staan op en gee een tree van 45 cm tot by die tafeltjie langs haar. Sy buk en tel vyf paspoorte op. Sy gee weer haar tree tot by die lessenaar en gaan sit. Vir twee minute staar sy weer die verte in. Toe asem sy in en hyg vyf name. Vyf mense ontsnap van die muur en gaan haal hul paspoorte. Ek stap nader en gee my papiertjie.

Gaan sit maar, sê die vrou.

Ek sit nie, sê ek, Ek soek net my paspoort.

Sit, sê die vrou, Ek moet vyf name hê.

My paspoort lê reg langs jou! sê ek.

Vyf name, sê die vrou.

Ek is haastig, sê ek, My vliegtuig wag.

Die vrou staar my aan.

Het jy ’n vliegtuig? vra sy.

Ja, sê ek en skrik. Maar ek kan myself nie keer nie. Hulle wag vir my, sê ek, Ek gaan ’n nier skenk.

 

Hulle wag vir my, ek gaan ’n nier skenk."

 

Haai siestog, sê die vrou en steek haar arm uit. Sy gryp my paspoort. Hardloop, sê sy.

Ek voel vreeslik sleg toe ek in my motor klim. Ek het twee keer gelieg. Maar is dit nie beter as die moord wat ek sou pleeg as ek teen die muur moes sit nie? Het ek nie alreeds die helfte van my lewe verloor omdat ek ure, dae, weke moes wag vir papiere, kontrakte, inligting, antwoorde, betalings of diens nie – voor die hand liggende oplossings, reaksies of gebare wat weens luiheid, onnoselheid,  slordigheid, swak maniere, onopgevoedheid, agteruitgang en gebrek aan respek of selfrespek eenvoudig nie gebied of gelewer word nie?

Onlangs, tydens ’n ete, het my vriendin Marion uit die bloute haar vurk neergesit en gesê, Jy’s darem baie geduldig met mense, veral dié met wie jy werk.

In twee sekondes het honderde tonele voor my afgespeel, al die tegnici op wie ek gegil het, ontwerpers wat in trane kostuums vir die vyfde keer uitmekaar moes torring, kelners wat ek by gesellighede agter potplante verwurg het en musici wat ek honderd keer om verskoning moes vra ná ’n geweldige uitbarsting.  Dan is daar die stadige lughawepersoneel, die halfdood bankklerke en die windstil winkelassistente wat gereeld onder my te vinnige tong deurloop.

Nee, rêrig, sê Marion, Ek het al gesien hoe jy jou vuiste bal om nie te ontplof nie, maar jy bly geduldig totdat hulle dit regkry.

Dis wel waar in sekere gevalle, maar ek kan glad nie verklaar volgens watter maatstawwe ek my geduld behou of verloor nie. Hoekom sal ek op ’n onthaal een werker onthoof oor ’n vetkol terwyl ek ’n ander help skoonmaak nadat sy veertig glase gebreek het?

Geduld, kortliks, is die paar genadige (en skaars) oomblikke waartydens ’n spontane reaksie uitgestel word en wysheid of liefde intree.

Geduld is dít wat gesorg het dat die paar leiers wat ons bewonder, hulle doel sonder geweld bereik het.

Geduld is dít wat gebêre moet word wanneer iets of iemand uiteindelik vasgevat moet word om ’n ramp te voorkom.

Dit bly net so vreeslik, vreeslik moeilik om gereeld ’n vinnige maar goeie keuse te maak.

Verwante artikels

Kommentaar

  • Op deeske aarde, maar jy slaan die spyker so op sy kop!! Hierdie hedendaagse houding van "alles is te veel moeite' of "dis nie in my work assignment" nie maak my ook LAM. Ek kry die indruk dat almal so min as moontlik wil doen vir soveel as moontlik geld. As ons land teen hierdie tempo voortgaan staan alles een van die dae morsdood, bot stil...

    3de Apr. 2011, 20:54