Nataniël: Kopskoot
Ons kook ook kos, ons ontwerp ook slim goeters, ons skryf ook liedjies, waar’s ons miljoene?
Net gister bel ’n vriend my.
Wat van koffie so vieruur?
Ek sê, Ek kannie, ek het ’n repetisie.
Wat van ’n glas wyn môreaand?
Ek sê, Ek het ’n show in Johannesburg.
Kom ons gaan eet slaai Dinsdagmiddag.
Ek sê, Ek is Dinsdag by die fabriek, ons maak nuwe badmelk.
Nou maar dan sien ek jou seker nooit weer nie.
Ek is jammer! sê ek. Die meeste van ons moet werk, weet jy?
Hierdie vriend is in sy dertigs, lank, aantreklik, dierbaar en vreeslik lojaal. Ek ken hom al tien jaar. Hy is talentvol en energiek.
Maar hy’t geërf. Miljoene. Soveel soos die sand in ’n groot woestyn, soveel geld lê in sy skatkis. Hy werk nie meer nie. Hy reis, oefen in die gimnasium, kleur sy wimpers, ontvang masserings en ander luukshede met duur olies en sagte musiek. Hy is aktief in sy gemeenskap, doen skenkings waar nodig, beoefen sport, gee sy tyd aan liefdadigheid, gaan kerk toe, eet uit, fliek gereeld, slaap genoeg en kan nie onthou wat bekommernis is nie.
Ek het nog ’n vriend. Hy is ’n sjef. ’n Baie aantreklike sjef met ’n donker kuif wat enigeen met oë in ’n slaaf kan verander. Ná baie jare in wrede hotelkombuise en luidrugtige restaurante het hy uiteindelik genoeg gespaar vir ’n vakansie. In Griekeland staan hy en sy kuif op die lughawe en wag vir die bagasie. Iemand sien hom raak en vra hom wat sy beroep is. Vandag is hy die hoofsjef op een van die luuksste seiljagte ter wêreld. Hy verdien sakke vol goud, sien die wêreld en vry met rolprentsterre.
’n Vriendin vervies haar eendag vir haar stoeptafel wat altyd wikkel op die sementvloer en ontwerp ’n poot wat korter of langer kan word net deur ’n eenvoudige draai-aksie. Sy leen haar man se rekenaar op soek na ’n vervaardiger en tik uiteindelik iemand raak in Duitsland. Vandag besit sy huise in vier lande en dra net ontwerpersklere. En in die ganse Europa is daar nie meer een tafel wat wikkel nie.
In die heuwels buite Los Angeles staan daar huise so groot soos winkelsentrums met swembaddens in die vorm van kitare en lyfwagte met sonbrille wat heen en weer loop voor die skrikwekkende tuinhek.
Hierdie huise behoort aan mense wat lankal reeds vergete is. Hulle was dertig, veertig jaar gelede deel van ’n sanggroep of orkes wat een enkele treffer op die radio gehad het en daarna verwyn het in ’n wolk van goue kettings, wit pelsjasse en duur whiskey. Met daardie één treffer het hulle soveel verdien (en nadat ’n jonger kunstenaar die liedjie laat herleef het, stroom die miljoene steeds in!) dat hulle vir ’n leeftyd kan terugsit.
En die res van ons werk. Ons werk dat die sweet ons aftap en die trane rol. Ons kook ook kos, ons ontwerp ook slim goeters, ons skryf ook liedjies, waar’s ons miljoene?
Waar’s ons wêreldreise, masserings, lyfwagte, vroeë aftredes en oorsese eiendomme?
Noem dit wat jy wil, gelukskoot, kolskoot, jackpot, meevaller, einde van die reënboog, pot vol goud, ons hou aan soek.
Ons werk dat die sweet ons aftap en die trane rol!"
Ons krap kaartjies vir die lotery, ons SMS antwoorde na kompetisies, e-pos ons foto’s
en lewensverhale na agente, dobbel deur die nag, staan tou by oudisies, pos Kerskaartjies na ryk oumense, vul blokkiesraaisels in, enigiets vir ’n prys.
En wie kwalifiseer vir hierdie groot oomblik? Wie verdien ’n oornag-sukses? Is dit regverdig? Wie het so besluit? Wie is uitverkore vir die beloning? Wie is die gelukkige paar? En wat van ons ander? Hoe oorleef die res?
Ek weet nie. Maar ek weet die Skepping was baie slim, die natuur is ’n ongelooflike masjien, elkeen is toegerus met vele wapens en gereedskap, binne bereik van die tipiese (wonderbaarlike) menslike fasiliteite: inisiatief, trots, depressie, vreugde, teleurstelling, vriende, hartstog, energie, toewyding, waansin, humor, tevredenheid, gemoedsrus, dryfkrag, geloof, uithouvermoë en dankbaarheid.
En steeds bly ons hoop.
Verwante artikels
-
Eksklusief! Agter die skerms met Nataniël
SARIE - Maart 2011 | Kommentaar: 4
-
Nataniël oor kragonderbrekings
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
-
Nataniël oor laatnag-rituele
SARIE - April 2011
-
Nataniël vra: "Is ons bang of skaam vir onsself?"
SARIE Julie 2010
-
Nataniël: "Ek het op daardie oomblik geweet hoe ek myself aan die wêreld gaan wys."
SARIE Augustus 2010
-
Nataniël: Kaalkop Job
SARIE September 2010
In my lewe gebeur alles op ’n Dinsdag.
-
Nataniël: Kaalkop saamsleep
SARIE Julie 2010
Daar was ’n vrou, taamlik bekend in sekere kringe, wat blykbaar net nie uitgepraat kon raak oor die feit dat sy geskei is nie.
-
Nataniël: Kaalkop sonder krag
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 2
Twee van my gunsteling-goed op aarde is bome en reën. Albei bring lafenis en skoonheid.
















Kommentaar
swaeltjie het gesê:
ai, dankie Sarie vir die plaas van hierdie wonderlike skryfgoed van onse Nataniel! Nie veel Afrikaanse mense kan mens vasvang soos hy kan nie!
27ste Aug. 2010, 17:09