Nataniël: Kaalkop saamsleep
Daar was ’n vrou, taamlik bekend in sekere kringe, wat blykbaar net nie uitgepraat kon raak oor die feit dat sy geskei is nie.
Daar was ’n vrou, taamlik bekend in sekere kringe, wat blykbaar net nie uitgepraat kon raak oor die feit dat sy geskei is nie. Die dag toe mense uitvind ek moet saam met haar aan ’n projek werk, het almal my gewaarsku, sy gaan heeltyd praat oor haar egskeiding, watch maar.
Hoe lank is sy al geskei? het ek gevra. Dalk was die seer net te groot om te ignoreer.
Twintig jaar, het almal gesê.
Goeiste, het ek gedink. Dis lank terug. Het niks anders intussen met haar gebeur nie?
Uiteindelik het ek haar ontmoet. Sy het haar hand uitgesteek en haar naam gesê.
Aangename kennis, het ek gesê. Ek is so opgewonde oor hierdie projek!
Vandat ek geskei is, raak ek maar min opgewonde, het sy gesê.
Hulle het toe nie gelieg nie, dink ek by myself.
Die res van die dag het dit só geklink: Vandat ek geskei is, drink ek nie meer suiker in my tee nie. Voor my egskeiding het ek minstens een keer per week gaan fliek. Ag, vandat ek geskei is, kook ek nie eintlik meer kos nie. Weet jy, vandat ek geskei is,
doen ek nie meer moeite met aantrek nie. Wie wil vriende wees met ’n geskeide vrou?
Ek het besef dat dít is hoe sy uiteindelik haarself verklaar, verpak en aanbied, die enigste geskeide vrou op aarde. Voorheen was sy dalk te gewoon en sonder ’n aanknopingspunt. Al wou almal in die vertrek haar later by die venster uitgooi, het
almal haar verduur, selfs bejammer. En ek vermoed dis hoe ons mekaar se bagasie hanteer, versigtig en met simpatie. Nie dat almal se bagasie emosioneel is nie, sommige sleep dinge saam met oë, ore en neuse.
Ek ken iemand wat haar twee dik dogters, albei uitgegroei, uitgevreet en werkloos, orals saamneem. Sy weet jou tafel het net ses stoele en jy het vier ander vriendinne ook genooi, maar sy sal opdaag met die twee dowwe reuse en hulle sal rondskuifel totdat dié wat wel genooi is hul stoele aanbied en vertrek. En eendag, eendag, trek jy ’n streep deur haar foonnommer.
Nog ’n dame is vas oortuig haar troeteldiere word deur die ganse samelewing bemin. Dit maak nie saak hoe vinnig en uitasem jy by haar aanklop nie, hoe haastig jy mag wees nie, op ’n stadium is daar ’n hond teen jou wang, ’n kat op jou skoot en ’n foto van ’n kleinkind in jou hand. En wanneer jy dan gril-gril en vol hare terugsluip na jou motor, besluit jy hiérdie vrou kry nooit weer beskuit nie, al is die oorlog vyf jaar aan die gang.
Dan is daar die vreemdste verskynsel van almal, die gegomde egpaar, die vrou wat orals opdaag met haar man, ongeag die geleentheid. Hy is die enigste man by die damesoggend, die enigste man by die kombuistee, die enigste man by die vroue-biduur. Dis nie dat hy ’n ginekoloog of ’n haarkapper is, of dat die tweetjies ná al die jare steeds smoorverlief is nie, hy is vasgeplak. Die vrou sal nooit haar hart kan uitstort by ’n viendin of alleen onderklere en grimering in ’n winkel uitsoek nie, daar’s ’n ding aan haar arm.
Daar is min onder ons sonder ’n sleepsel. Ekself kan nie ’n gesprek voer sonder om elke twee minute oor my gewig te kla nie, ongeag van hoe swaar of lig ek op daardie stadium mag wees, ander weeklaag daagliks oor die misdaad, sommige daag orals op in die klere en kleure van ’n sportspan waarvan hulle nie deel is nie.
Is ons bang of skaam vir onsself? Of voel ons kaal en vervelig sonder ’n las? Is ons iewers geboelie oor ’n eie identiteit? Tensy ons mekaar help, tensy ons mekaar se name uitroep en vra dat die ware persoon opstaan, vir eens en vir altyd loshande bly
staan, sal ons nooit uitvind nie.
Verwante artikels
-
"Een van my stokperdjies is huil" - Nataniël
SARIE - April 2010
-
Eksklusief! Agter die skerms met Nataniël
SARIE - Maart 2011 | Kommentaar: 4
-
Nataniël oor kragonderbrekings
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 1
-
Nataniël oor laatnag-rituele
SARIE - April 2011
-
Nataniël: "Ek het op daardie oomblik geweet hoe ek myself aan die wêreld gaan wys."
SARIE Augustus 2010
-
Nataniël: Kaalkop sonder krag
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 2
Twee van my gunsteling-goed op aarde is bome en reën. Albei bring lafenis en skoonheid.
-
Nataniël: Kopskoot
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
Ons kook ook kos, ons ontwerp ook slim goeters, ons skryf ook liedjies, waar’s ons miljoene?
















Kommentaar
Janette Cilliers het gesê:
O Nataniel, net jy kan dinge se soos jy dit se. In die spieel is die raaisel. Jy waag dit om terug te kyk. Hard en eerlik. Jy sien sommer die ganske mensdom ook daar. Jou kommentaar is hard en eerlik en waar. Jy maak dit bietjie makliker vir die minder gewaagdes om soms ook hard en eerlik in hulle tuis-spieel te kyk. Verstommend hoe eerlikheid jou vrymaak...... Jy's "fabulous!"
30ste Jun. 2011, 13:38