Nataniël: Kaalkop sonder krag

Deur Nataniël, SARIE - Junie 2010

Twee van my gunsteling-goed op aarde is bome en reën. Albei bring lafenis en skoonheid.

Maar in die buurt waar ek woon, is die twee saam ’n krisis. Hier is baie bome, majestueuse goed wat reik na die wolke, ou  goed wat geslagte lank al hul takke sprei. Dit reën ook baie, hierdie jaar meer as tevore. En ná elke reënbui stort nog ’n groot boom neer, die grond is eenvoudig te nat en te sag om die wortels vas te hou. Elke keer as nog ’n boom sy staanplek verloor, is dit ’n ramp, vir almal en alles op hierdie planeet. Maar in my buurt is dit ’n dubbele ramp. So ’n groot boom vang met die tuimel altyd ’n kragdraad en die volgende oomblik is dit pikdonker, ons sit sonder elektrisiteit.

Ek het al ’n roetine, sodra die eerste druppel val, steek ek elke kers in die huis aan. Dan sit ek die ketel aan en vul elke houer met kookwater vir die res van die dag of nag se behoeftes. Nog voor dit hard reën, skakel ek die munisipaliteit se  elektrisiteitsafdeling. Sodra die aaklige liedjie op hul skakelbord begin speel, sit ek die gehoorstuk langs die foon en berei vinnig aandete. Tien minute later is daar ’n dowwe slag en die donkerte vou my toe, die krag is af, die agttiende eeu is terug. Ek gaan sit langs die foon. Die aaklige liedjie speel nog steeds. Ek beweeg nie, ek sit en broei.

Ná twee uur stop die musiek.

Hallo, sê ’n stem. Morsdood. Geen emosie.

Ek gryp die gehoorstuk.

Ek kan dit nie meer vat nie!

O, dis weer u.

Doen iets! My lewe gaan verby! Julle weet mos dit reën! Ons het nie meer tegnici in die aand nie, die burgemeester het dit gestop, sy sê dis te duur.

Sy’t duidelik nog nooit ’n boom gesien nie! Stuur iemand!

Asseblief!

U verwysingsnommer is 1. (Dis altyd 1, ek bel altyd eerste.)

Ek sit die gehoorstuk neer. Ek haat hierdie plek, sê ek kliphard. (Ek bedoel dit nie, maar ek moet dit sê.)

Doelloos dwaal ek deur my huis. Geen televisie, geen rekenaar, geen mikrogolf, geen musiek, geen veiligheidsligte, geen straatligte, net woede, beelde van sluipende figure, inbrekers en moordenaars. Ek wil nie weer op die landlyn praat nie, die weerlig slaan my raak, ek wil nie op my selfoon praat nie, ek kan hom nie weer laai nie, dis net ek en die stilte en die kerse.
Uiteindelik klim ek in die bed met ’n boek en my koplamp. (Dié het ’n vriendin vir my gegee, sy’t duidelik meer geweet as ek.) Iewers in die nag raak ek aan die slaap, vies, uitgeput en gefrustreerd.

Onlangs stap ek in ’n historiese opstal net buite die stad. Ek is op soek na ’n geskikte agtergrond vir ’n fotosessie. Die massiewe huis is gevul met honderde kunswerke, meubels met die fynste borduurwerk, tafels met kristal, olielampe, kershouers, boeke gebind in leer, silwerhouers met skryfbehoeftes, mandjies met antieke gereedskap vir handwerk en talle houtkissies met speletjies, legkaarte en onbekende voorwerpe vir raaiselagtige stokperdjies.

Ek besef dat daar in hierdie huis gekuier is, gewerk, gespeel, geskep, gelees, geleer en gesels. Daar was geen elektrisiteit of apparaat vir breinlose tydverkwisting nie. Die familie in hierdie huis moes werk, dink, beplan en aktief deelneem aan geselskap.

Hulle moes aan tafel eet en mekaar in ag neem. Hulle moes briewe skryf met die hand om kontak te behou. Daar moes voorraad wees van kerse, olie of hout vir wanneer die koue of donker kom. Daar moes gedebatteer of gefilosofeer word en eie opwinding veroorsaak word. Tyd was kwaliteit.

Dis eers nou, ná jare, dat ek weet die reën val sodat alle hedendaagse onnodigheid kan wegspoel, bome val sodat ek kan groei en die donker kom sodat ek myself en my vermoëns kan herontdek, anders bly ek – elektrisiteit en al – sonder krag.

Verwante artikels

  • Nataniël oor laatnag-rituele

    Nataniël oor laatnag-rituele

    SARIE - April 2011

  • Nataniël: Dis net 'n oomblik

    Nataniël: Dis net 'n oomblik

    SARIE KOS Winter 2010

    Hulle sê dit neem net 'n oomblik. 'n Enkele oomblik om van rigting te verander, om wakker te word, om verlief te raak, om iets ingrypends te beleef, 'n lewe te verander, 'n verskil te maak,'n skat te ontdek, die waarheid te leer ken of 'n tydlose herinnering te skep.

  • Nataniël: Kaalkop saamsleep

    Nataniël: Kaalkop saamsleep

    SARIE Julie 2010

    Daar was ’n vrou, taamlik bekend in sekere kringe, wat blykbaar net nie uitgepraat kon raak oor die feit dat sy geskei is nie.

  • Nataniël: Kopskoot

    Nataniël: Kopskoot

    SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1

    Ons kook ook kos, ons ontwerp ook slim goeters, ons skryf ook liedjies, waar’s ons miljoene?

Kommentaar

  • Wat geniet ek jou humoristiese vertellings!!!! Hierdie gerondsluip in die donkerte nadat die gevalle boom wéér die kragdrade getref het en die daaropvolgende telefoongesprek had my in trane!! Doe so voort - ek is een van jou grootste 'fans'

    15de Aug. 2010, 20:46
  • Ek is mal oor jou skryfstyl en dink jy is een van die beste wat SA het. Ek bly in QUEENSTOWN in die Oos-Kaap en ongelukkig het ons nie veel reen die jaar gekry nie so ons het nie die probleem wat jy ondervind nie, maar hier is dit baie droog en ons bid vir reen. Baie liefde Karin Manthe

    7de Aug. 2010, 12:18