Nataniël skryf oor troosdinge
Foto’s: Clinton Lubbe Galery
'n Troosding is soos 'n blink aandrok of 'n plat maag, tydelik maar treffend...
Een van my gunsteling-tydskrifte is geografies van aard, die navorsing en aanbieding is verstommend, elke uitgawe word gebêre vir die peetkinders. Op skool was aardrykskunde beslis die verveligste halfuur van elke dag. Hoe werk laagwater? Waar kry 'n mens lemoene? Watter land is die platste? Deesdae moet ek weet wat is aan die gang en hoeveel suurstof is nog oor. Te oordeel aan die afgelope jaar se hoofberigte is daar nie meer veel oor van enigiets nie.
Die wêreld se kos is op, Venesië se inwoners het almal verkas, die planeet se bome word opgesaag, honderde spesies is aan die uitsterf, al Egipte se skatte is gesteel, kulture is aan die verdwyn, menseregte is nog steeds afwesig, gesonde verstand word al hoe skaarser en goeie maniere is nêrens te vind nie.
Alle nuus kom nie net uit die tydskrif nie. Te oordeel aan hoe daar tans op ons paaie gery word, is alle geduld ook daarmee heen. Te oordeel aan gesiguitdrukkings is alle hoop tot niet. Te oordeel aan gesprekke is alle geld op. Te oordeel aan hoe laat ek hier sit en tik, is daar ook nie meer tyd nie.
Dalk is dit net hierdie tyd van die jaar. Elke jaar, soos ek November nader- of binnestrompel, moet ek hou en klou om heel te bly. Te vinnig, te veel, te vol, dis die afgelope jaar. Kersfees is 'n blydskap, geen geleentheid is groter en my energie is sonder perke, maar die tydjie vooraf, die klaarmaak en opruim aan die einde van nog 'n siklus bly eenvoudig - soos ons familie dit noem - moord en doodslag.
Ek het al mildelik hieroor gefilosofeer, planne beraam en strukture geskep, ek het myself en ander al telkemale aangespreek, probleme en prioriteite geidentifiseer en weer voor begin, dis alles tevergeefs. Honderd keer per week sak ek neer in 'n stoel en sug: Dis die laaste keer. Maar dis nooit. Dinge gaan nooit verander nie. Die lewe is kort, oorlewing is voltyds, verpligtinge is volop en ek is laat.
Al wat oorbly, is 'n troosding, 'n kortstondige lafenis wat alle goeie en gesonde situasies oproep en 'n pleister plak oor dit wat pyn. 'n Troosding is soos 'n blink aandrok of 'n plat maag, tydelik maar treffend. Dis die paar oomblikke wat jou laat asemhaal en wegvoer, die smaak of reuk wat alle kwaad verdryf of die plekkie wat jou vir 'n wyle laat verdwyn.
'n Troosding los geen probleme op nie, draai jou geen rat voor die oë nie, verander niks en is nie 'n beloning nie, dis net die herinnering dat die wêreld geskape is met alle goeie moontlikhede, ons het net 'n klein bietjie ontspoor. 'n Troosding is (meestal) bekostigbaar en binne bereik, dis 'n klein gebruik of gebaar, dis 'n redding of 'n roetine, geen grote wysheid of diepe gedig nie, net 'n blaaskans.
Ek oorhandig vinnig 'n kroontjie aan die paar dinge waarsonder ek lankal in die rondte sou geloop het:
| Die bed. Ek slaap min en lig. Op 'n oorlogsdag is 'n paar ekstra minute in 'n stil kamer die enigste genade. Laken oor die kop, die aarde staan stil. Bonus: 'n luuksehotelkamer met 'n Bly Weg-bordjie teen die deur. |
| Beskuit. Beskuit maak vet, is kliphard en nie mooi of elegant nie. Dis perfek. |
|
Bach. Die lot voor en ná hom het maar gesukkel, dit was vroeë tye, maar die engele was naby toe hy sy musiek geskryf het. Lig die siel. |
| Tee. Die Engelse weet van die begin af dis die mees beskaafde oplossing vir elke krisis. Gebruik altyd 'n mooi teepot. |
| Koemkwatkonfyt. Elke koemkwat op aarde word nog steeds gepluk, geprik, gespoel en gekook deur my ouma. Niks is méér luuks nie. |
| Skoene! Niks is regtig ontstellend of uitputtend as jy fantastiese skoene aan het nie. Aaklige skoene lei tot 'n aaklige tyd. Dis hoe dit werk. |
| Toebroodjies. Gevul met iets romerigs, iets krakerigs, gesny in driehoekies. Die lewe is goed. |
Verwante artikels
-
Nataniël se wens vir die nuwe jaar
SARIE Januarie 2010
















Kommentaar
Nita Pieterse het gesê:
Wow, dis so goed gese. Ek kan aan soveel troosdinge dink... Rode Fudge, Pannekoek met kaneelsuiker, beslis 'n nuwe paar skoene (hoef nie duur te wees nie) ... en natuurlik, 10 minute by die werk afknip om gou Nataniel se waarhede te lees - kos vir die siel!
24ste Nov. 2009, 14:38