Nataniël se dilemma
Foto’s: Clinton Lubbe Galery
So ’n paar weke gelede het ek ophou kook, heeltemal.
Ek was opgewonde aan die foto’s neem vir ’n nuwe kookboek, ook resepte vir ’n webwerf en spyskaarte vir kosdemonstrasies. En toe, oornag, kom alles tot stilstand. Ek was paniekbevange, die soort paniek wat ek net beleef voor ’n openingsaand.
Die probleem was dat ek skielik besef het ek weet niks van kos nie. Dis net die teenwoordigheid van engele wat gesorg het dat ek nog niemand vergiftig het of uit my lewe verdryf het nie, ek het nie ’n benul van watter smake hoort saam, watter teksture of temperature aanvaarbaar is of nie, ek ken nie die voornaam van een organiese verskaffer nie, ek is nie persoonlike vriende met ’n kruiekenner nie en vlieg nie twee keer per jaar Frankryk toe vir ’n wynveiling nie. Ek kan ook nie soos enige goeie kok slangvleis, haas, konyn, sebra, krimpvark, seekat of afval berei sonder om op te gooi of flou te val nie.
Ná tien jaar skei my jogurtkoek se beslag nog steeds elke derde keer, ek bied ’n kosklas aan voor honderde mense en verbrand dieselfde aand ’n gevriesde pizza in my oond. En ek het hierdie week eers uitgevind ’n mens koop olyfolie net in baie klein botteltjies, want dit verloor smaak elke keer as dit in aanraking kom met suurstof.
Kos is nie my loopbaan nie, ek het geen formele opleiding nie, ek het nie tyd vir nonsens as ek honger is nie, ek woon nie naby ’n gesogte winkel wat net behoorlike vars produkte aanhou nie en ek is heeltemal te moeg vir rondskarrel op ’n plaasmark. MAAR: Ek besit honderde kookboeke, ek lees honderde tydskrifte, ek eet gereeld aan huis van die opwindendste gasvroue, ek is vriende met van die land se beste sjefs en kosskrywers. Wat is fout?
Eerstens, my selfvertroue. Rondom Kersfees was daar ’n paar oomblikke vir televisie. Ek het gesit en kyk hoe oorsese sjefs krewe vermoor en voorsit met vanieljeroom, quiche maak met pienk blomkool, poffertjies optoor uit tweeduisend bestanddele, vriende raak met ’n vark voor hulle hom slag en verklaar dat ’n spesifieke winkel in Parys (Frankryk) die enigste eiers ter wêreld aanhou wat werklik eetbaar is.
Op een program het ’n driftige Italianer gegil dat ’n mens nooit kaas saam met vis voorsit nie. Net daarna het ’n advertensie van ’n plaaslike maatskappy verskyn, hul nuutste produk is visfilette gevul met kaas. Ek het van kanaal verander. ’n Beroemde sjef het gewys hoe risotto onmiddellik geëet moet word nadat dit berei is. Net daarna het ’n veel beroemder sjef gewys hoe risotto eers moet rus voor dit geëet word.
Raadop is ek na my boekrak. Die heel eerste boek wat ek gryp, is deur die Australiese koslegende Gay Bilson, wat rondspeel met die idee dat daar te veel kookboeke op mense se rakke is, g’n mens op aarde, van ’n huisvrou tot ’n professionele sjef, het meer as 10 kookboeke nodig nie. Dieselfde tegnieke en reëls word oor en oor opgedis. Sekere cuisines, soos dié van Italië, China of Indië, gebruik al vir honderde jare dieselfde beginsels.
Ek het na my kookboeke gekyk (daar is honderde) en besef ekself gebruik minder as 10 op ’n gereelde basis: Entertaining (Martha Stewart), Dear Francesca (Mary Contini), Under The Sun (Caroline Conran), Kook en Geniet (S.J.A. de Villiers), Traditional Cakes & Pastries (Barbara Maher), R.S.V.P. (Nan Kemper), Neither Fish Nor Fowl (Sarah Beattie) en Larousse Gastronomique. Dis dit.
En wat leer hulle my? Tegniek, logika, geskiedenis, variasie, eenvoud, varsheid en slim koop. Ek hoef nie groenteskuim, gansmousse, seewiersop of sjokoladetulpe voor te sit om met kwaliteit te leef nie. In sy nuutste boek sê Richard Corrigan ’n mens moet kook wat jy wil eet. Jou spyskaart word bepaal deur dít wat vars en beskikbaar is. Dit gaan uiteindelik net oor twee dinge: goeie bestanddele en goeie smaak.
Vir my is dit dus soos musiek, modes, kuns en leesstof, ek moet my instinkte vertrou, my neus volg en weet dat ek my tyd hieraan bestee omdat dit my onskatbare plesier verskaf.
- Grimering Lyn Kennedy
Verwante artikels
-
Dilemma: As ek mismoedig is wil ek net eet!
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 1
Ek weet ek moenie my troos in kos soek nie, maar as ek terneergedruk voel of ontsteld is, gryp ek dadelik na iets soets.
-
Dilemma: Sy kinders behandel my stief
SARIE - Februarie 2010
"Ek en my man is nou al vier jaar getroud. Sy twee kinders wil my nie aanvaar nie. Hulle lag agteraf vir my..."
-
Niemand hou van haar nuwe kêrel nie!
SARIE - Desember 2009
'n Baie goeie vriendin gaan uit met 'n man wat niemand in ons vriendekring kan verdra nie.
















Kry jou SARIE oral, enige tyd