Peter Veldsman kos-blog: Blondines, Mosambiek en meer
Lees wat hy oor blondines, Mosambiek en Marlene van der Westhuizen se nuwe kookboek in die nuutste inskrywing van sy blog te sê het.
Lekkerkry verby
Die eerste blog het my stoutste verwagtinge oortref! Sestien jaar het verloop sedert ek kosredakteur by SARIE was. Ná so 'n lang tyd het ek gedink die mense het al van my vergeet. Die spreekwoord lui tog uit die oog, uit die hart. En toe laat julle van julle hoor! Heelwat mense het my uitnodiging vir 'n geselsie hier by my restaurant aanvaar en kom kuier. Daar was selfs versoeke vir resepte en nostalgiese herinneringe. Baie dankie.
Marlene se nuwe boek
Marlene van der Westhuizen het my gevra om die bekendstellingstoespraak by die verskyning van haar eerste boek, Delectable, te lewer. Twee jaar gelede het ek by dié geleentheid gesê dat sy 'n onmiskenbare eie styl het. Toe vra sy my weer om die mense toe te spreek vir haar tweede boek, Sumptuous. Die boek bevestig die verdieping in haar styl en tog is dit gemakliker en, o, so mooi!!! Gerda Genis se foto's dra daartoe op verkwiklike wyse by. Die boek neem jou op 'n Franse reis na die hinterland van Frankryk, na die suidpunt van die Kaap en eindig met 'n Bolandse draai. Maklike resepte, sonder opsmuk.
Twee blondines
Terwyl ek besig was om hierdie te tik, sit twee blondines in Emily's. Hulle het die sop, waaroor ek in die vorige blog geskryf het, bestel. Die een proe aan die ander een se sop en verklaar: "Joune smaak nes myne." Het sy dan gedink iets wat uit dieselfde pot kom, gaan anders smaak?!
Op pad noorde toe
Die voortbestaan van ballet in Johannesburg is in die weegskaal. Die regering wil nie finansiëel bydra nie. Toe besluit Arnold Tanzer om iets aan die saak te doen. Hy vra twee Kaapse sjefs, Ruben van Franschhoek en Emily's se Johan, om hand by te sit en 'n ete vir 500 mense te kook. Teen R2 000 per kop sodat die balletmense 'n volle miljoen kan kry. Ek tree op as Johan se assistent en vertrek douvoordag die volgende oggend om teen tien uur die dames van Middelburg toe te spreek.
Mosambiek toe
Verlede week was ek Mosambiek toe. Vir Adelaide en Mark se troue. En wat 'n avontuur was dit nie. Deur sandvelde en voetpaadjies tot Kosibaai se wildekus en 'n swemmery met dolfyne (ek het uitgesit!) tot die huweliksbevestiging op die strand. Maar so amper-amper het dit nie gebeur nie. Adelaide hou daarvan om dinge op groot skaal te doen. So pak sy 'n reuse-vervoerwa met stoele, eetgerei, silwer, blomme, geskenke vir die gaste, selfs spesiaalontwerpte handdoeke vir die gastekamers, en haar trourok. Deeskant Colesberg is die vragmoter in 'n ongeluk en alles brand uit. Twee dae voor die troue met allerlei BBP's. Haar ma sit hand by en die twee verken Durban, huur die nodige en sorg dat alles piekfyn verloop. Dit wil gedoen wees. Amper vergeet ek: 'n Kaapse modeontwerper moes dag en nag werk om 'n nuwe trourok binne 24 uur te maak en dié moes 'n vriendin saambring. Met trourok en al sit die vriendin (Jenny Morris) toe in 'n verkeersknoop (paaie uit die Kaapse middestad was vir ses ure gesluit) en kan nie by die lughawe uitkom nie. Jenny hou kop en ná meer as 'n uur se slakkegang van die Tuine tot by die Waterfront huur sy die plesiervlug-helikopter om haar lughawe toe te vlieg! Adelaide was 'n stralende bruid.
Kos wat vertroos
Dit is nou maar eenmaal so: Daar is kos en dan is daar kos wat draaie met jou loop. Ria Olivier het my daaraan herinner. (Sien haar kommentaar op die eerste blog). Sy praat van my resep vir kerriesult.
KERRIESULT
(12 porsies)
2,5 kg beesskenkels, gewas
1 beespoot, gewas
2 varkpote, gewas
4 lourierblare
20 peperkorrels
3 vet knoffelhuisies, gekneus en geskil
3 groot uie, oorlangs (in die lengte) gehalveer, geskil en gekap
30 ml olie
50 ml matige kerriepoeier
375 ml asyn
gemaalde peper na smaak
10 ml fyn koljander
20 ml sout
10 ml borrie
30 ml sagte bruinsuiker
30 ml appelkooskonfyt
1. Plaas die skenkels en pote in 'n groot kastrol, bedek met koue waster en verhit tot kookpunt. Blansjeer die vleis en pote vir drie minute, verwyder en druk droog. Gooi die blansjeer-water weg.
2. Skep die vleis en pote in 'n groot kastrol en bedek met koue water. Voeg lourierblare, peperkorrels en knoffel by. Verhit tot kookpunt, verlaag hitte, bedek en prut 3-4 uur of totdat alles sag is. Laat afkoel, skep vleis en pote uit en laat koud word. Behou die vloeistof.
3. Braai uie in olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Strooi kerriepoeier bo-oor en roerbraai vir 2-3 minute. Voeg asyn bietjie vir bietjie by sodra dit lyk of die kerriepoeier wil aanbrand. Roer elke keer goed deur. Voeg die res van die bestanddele by, verhit tot kookpunt, verlaag hitte en prut 5 minute lank.
4. Verwyder bene, sny die vleis kleiner of kap of maal dit fyn, na gelang van hoe grof of fyn jy van jou sult hou. Skep die vleis by die kerriemengsel en voeg van die behoue vloeistof (waarin die vleis gekook is) by sodat die vleis net-net met vloeistof bedek is. Prut een uur lank en roer af en toe deur. Indien nodig, kan nog van die behoue vloeistof bygevoeg word.
5. Giet die mengsel in 'n ge-oliede vorm, bedek met kleefplastiek en bêre in die yskas om te stol.
6. Keer die sult uit en sny dit in skywe. Sit voor met 'n tamatie-en-komkommer-sambal, slaphakskeentjies en lekker vars brood.
Die rotte op die solder
Ek moet eers Ladismith toe vir my ma se verjaardag. Ná 'n eeu is die ou girl nog op en soms wakker. Sal volgende keer die sensasionele einde van die storie met julle deel! Tot dan, groete van my af en onthou: Julle is altyd welkom by Emily's in die Kloktoring. Kom kuier op 'n Saterdag laatmiddag.
Peter.
Verwante artikels
-
Blog jy al? Deel 2
SARIE - November 2009
Dis een van die warmste geselsmiddels op die internet. Van heinde en verre word daar geblog, nou ook op sarie.com. En in SA is die meeste bloggers vroue!
-
Eksklusief! Peter Veldsman blog vir sarie.com
SARIE - Augustus 2009 | Kommentaar: 4
Hy's 'n oud-kosredakteur van SARIE en 'n meester op sy gebied. Peter Veldsman blog ekskusief vir sarie.com. Maak seker jy mis nie sy kosstories, spesiale resepte en al die lekker kos-gesels nie
-
Ons gesels met Namibiese kosskrywer Antoinette de Chavonnes Vrugt
SARIE KOS Lente 2009 | Kommentaar: 6
"Kook is nie vir my 'n issue nie." Toe die eerste Februarie-reëns vrugte baar in volronde omajovas het koskenner en Namibiese "braaikoningin" Antoinette de Chavonnes Vrugt die eerste blaaie van My hungry heart sien gebeur...
-
Peter Veldsman
SARIE - September 2009
-
Peter Veldsman blog oor kluitjies + hy gee 2 resepte
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 1
Ontdek hierdie winter die eenvoudige waarheid van boerekos. Dis eg en eie aan ons aard. Peter gee twee heerlike resepte en vertel hoe kluitjies regoor die wêreld smaak...
-
Peter Veldsman blog: "In die sop"
SARIE Julie 2010
Gegroet, liewe blog-lesers! In Sarie Kos Winter 2010 is 'n foto van drie geslagte kosredakteurs van die tydskrif: Die aantreklike jong Herman, Barbara en die uwe. En 'n klompie geregte uit my kombuis.
-
Peter Veldsman blog: Sous-vide, Sannie Smit en varkfilet - die Franse manier
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 8
Vanoggend kyk ek na 'n televisie-kosprogram. Dit gaan oor sous-vide, die nuutste "hype" in koskringe.
-
Peter Veldsman-blog: Gedagtes rondom Kersfees
SARIE - Desember 2009 | Kommentaar: 1
Van 'n strandpiekniek, tot gevulde hoender, basiliekruidroomys en 3 lekker kookboeke. Peter inspireer met 'n paar idees.
















Kommentaar
Koos Pretorius het gesê:
Dit is my vraag ook. Kan mens sult vries?
30ste Des. 2010, 12:31Monica het gesê:
Hi Peter, ek hoop jy kan my help. Ek is nog 'n groentjie met die Kook en Geniet styf onder my arm vas geklem. Ek het 'n vraag oor SULT, kan dit gevries word??. Of moet die verkieslik net in 'n yskas geberg word, net in 'n lug digte houer??
7de Mei. 2010, 09:12Errieda het gesê:
Net so heerlik soos om by Emily's te eet, so bederflik lekker is Peter se skrywes. Hierdie Kaapse kos-raconteur is immers 'n legende. Dankie Peter.
31ste Okt. 2009, 08:41black hattitude het gesê:
hello, thanks for the great quality of your blog, every time i come here, i'm amazed. black hattitude.
21ste Okt. 2009, 04:17Elzabè Prinsloo het gesê:
'n Plesier om weer Peter Veldsman te lees Grootgeword met Sarie en jou resepte. Het gehelp om die groot liefde vir kosmaak en avontuur in kook te skep Volgens al my vriende, familie en ander 'eters' maak ek die lekkerste Beef Stroganoff.... natuurlik jou resep! Dankie vir hierdie geselsies met die lesers
22ste Sep. 2009, 15:10Peter veldsman het gesê:
Kom gerus weer Emily's toe. Al is die hare wit, die voete kan nog loop. Ai, hoe verlang ek na Laurika Rauch.
18de Sep. 2009, 20:39Petro het gesê:
So 2 jaar gelede het ek en my man, by Emilys gaan eet, en wat 'n belewenis!!! Peter het selfs vir my kom vra of ek koud kry, en of hy 'n baadjie kan bring. My grootste wens is om my Ma eendag daar te laat eet,aangesien sy my van kleintyd af geleer het van Peter Veldsman. Ongelukkig bly ons in Empangeni, so dit is baie ver. Maar 'n mens moet droom.
17de Sep. 2009, 12:26Petro het gesê:
So 2 jaar gelede het ek en my man, by Emilys gaan eet, en wat 'n belewenis!!! Peter het selfs vir my kom vra of ek koud kry, en of hy 'n baadjie kan bring. My grootste wens is om my Ma eendag daar te laat eet,aangesien sy my van kleintyd af geleer het van Peter Veldsman. Ongelukkig bly ons in Empangeni, so dit is baie ver. Maar 'n mens moet droom.
17de Sep. 2009, 12:26Marietjie van de Wall het gesê:
Is u seker hierdie blondines is blond en nie grys nie, jy weet dit is altyd donker in 'n restaurant?
5de Sep. 2009, 16:33