Tanya O'Connor blog: "Hallo, Lewe!"

Deur Tanya O'Connor, SARIE - Mei 2010

Tanya O'Connor se man is in 2004 in haar arms dood. Sy't in net 'n paar jaar haar ma, pa en ouma ook aan die dood afgestaan. Sy's weer getroud en nou swanger met 'n seuntjie. Lees haar blog.

28 Mei

Ek blaai deur die nuutste SARIE, voorwaar dit is altyd ‘n plesier om die tydskrif te koop. Veral as dit in ‘n sakkie kom, want dan is daar ‘n verrassing in, iets wat ek kan gebruik. Op bladsy ses en sewe van die Junie-uitgawe pryk Jessica Alba, sy dra ‘n nuwe lipstiffie van Revlon. Die kleur val my dadelik op, so naby aan die kleur van bloed sal jy nie sommer kry nie. Ek lees van die kleur, Revlon noem dit, “die kleur van jou lewe”. Ek wil die opskrif verander, eerder se die KLEUR VAN DIE LEWE . . .

My man is amper ‘n week gelede dood, ek gaan vandag sy as haal. Ek en my honde loop deur die tuin. My hande streel oor die laventelbosse wat hy met soveel liefde vir my geplant het. Die pers blommetjies wieg in die wind, met elke wieg voel dit of my hart nog verder verbrokkel. My gesig is gedurig nat van die trane.

Vandag is selfs die voeltjies stil, dood hang oor die huis. Ek wil hom soek agter elke boom, en ek doen, kyk hier en daar. Nog trane loop oor my wange, hy is nie meer op aarde nie. Ek moet seker begin regmaak.

Ek tap ‘n warm bad, die water vou om my koue lyf, wanneer ‘n dier in angs verkeer, seergekry het, maak  jy só ‘n dier toe. Net jammer ek moes weer uit die warmte opstaan. My trane meng met die badwater, die realiteit van die dood sny diep in my hart. 

Ek het sy dood dadelik aanvaar, ek was tog daar. Die finaliteit van die dood was voor my. Ek het die verwronge metaal-koeksuster gesien, ‘n motorfiets wat eens sy trots was. Ek het die wit beendere by sy leerpak sien uitsteek, sy bloed het oor my hande geloop, weggesypel in die grond. “I love you”, was sy laaste woorde, sy oë het glaserig geword en hy is weg. 

Die koue soos van ‘n marmerbeeld het oor my kom lê. Dood is yskoud, bang-koud, hy-kom-nie-terug-nie-koud. Alles om my was doodstil, mense het soos blare in die wind gewarrel rondom die toneel wat ek vir ewig sal onthou.

Die gesig in die spieël is nie myne nie. Wat sou Tony sê? Wanneer ons verby ‘n sement-trok gery het, het hy altyd gesê: “Go fill up your make up bottle there.” Ek het baie vir hom gelag, hy het gehou daarvan dat ek goed lyk.

Ek maak die kassie vir geen spesifieke rede oop nie, en daar staan dit. ‘n Botteltjie Revlon Nude onderlaag. Ja, Nude! Kaal, naak, sonder enige warm pashminas teen die koue van die dood. Kaal soos ek voel op hierdie oomblik, leeg en hartseer. Ek kyk na die botteltjie en ek kyk na my gesig. Trane het al diep spore gelos. Wat sou Tony wou hê ek moes doen ?

“Verf jou gesig, ou girl !” Hy is reg, van waar hy ookal met my praat, ek moet my gesig verf vir die lewe. Ek begin, pleister hier en daar. Ek begin dadelik beter voel, oogskadu en maskara volg. Die deurbraak kom met die rooi lipstiek, die naam kan ek nie onthou nie. My lippe is rooi vir die lewe! 

Die besef van ek is alleen wil-wil my oë weer laat volskiet van trane, maar ek weet ek gaan oukei wees al, is ek alleen. Ek gaan my gesig elke dag verf vir die lewe, vir my lewe en om te lewe.

Klink lekker vlak né, sy verf haar gesig en sy voel beter. Haar kop raas, sy probeer haar hartseer toesmeer. Wel as ek my hartseer wou toesmeer sou ek nie nou hierdie kon skryf nie. 

Wanneer jy (ek) jou hart al voel breek het, sal jy (ek) enige hulpmiddel gebruik om op te staan, aan te gaan. Ek het gekies om te lewe en om te oorleef.

Ek het my drie honde elkeen ‘n beskuitjie gegee, my toegevou in ‘n warm lap. In my  kar geklim en die pad krematorium toe gevat. My man se as is onseremonieel vir my gegee, in ‘n houtboksie. Ek het teruggery, die boksie op die sitplek langs my. “Tony, hierdie gesig is vir jou!”

Ek het met hom gepraat, met myself, met my kar. Ek het gepraat oor my lewe vorentoe en dat ek besluit het om te sê: HALLO LEWE!

25 Mei

Skree dit als uit ?

Ek ry tussen wingerde deur. Stellenbosch se berge troon in die verte. Ek is oppad terug van die wynkelder waar ek my kunswerke een van die dae gaan uitstal. Ek het ‘n salige glimlag op my gesig, ‘n tevrede glimlag. Ek is nog nie naby ‘n robot of stop nie, ek lag kliphard. Sal mense dink ek is van die pad af of luister na iets snaaks op die radio ? Nee ek is net sooo gelukkig, ek voel ek het iets bereik wat ek nie gedink het ek kan nie. Ek is trots op myself en ek sê dankie vir myself!Ek het baie kwashale geverf om tot hier te kom!

Dit het lank gevat om tot hier te kom, nie net in jare nie, maar ook in groei! Ek kan my lewe (tot so vyf jaar gelede)nie as lekker beskryf nie, wel hartseer en traumaties, maar ook interessant. ‘n Lewe van groei, van groen blaartjiedeur die donker grond steek. Soms het ek selfs‘n klip uit die pad gelig in die smag om die son te sien en nie net te groei nie, maar ook om te blom!

Ewe skielik begin “SHOUT” oor die radio speel, en ek dinktoe ek in matriek was. Ons het al die Engelse liedjies oorgesit in Afrikaans, byvoorbeeld: Skree Skree Skree dit als uit, hierdie is die dinge waarsonder ek kan leef, ek praat mos met jou, kom aan . . .

Om te skree, te praat, te vertel is goed vir die binneste. Dit is hoekom ek hier skryf. Wat jy gaan lees sal jy seker ervaar as hartseer, kopoopskieter gedagtes, hopelik inspirerend!Partykeer sal jy glad nie saamstem met wat ek sê nie, maar wat ek gaan deel is hoe ek die lewe tot nou ervaar het.Hoe ek die lewe vir myself beter gemaak het, en hoe ek oorleef het. Hoe ek hartseer, trauma, teleurstelling, dood, liefde, miskraam, weer trou beleef het en wat dit my als geleer het. En die leerdery hou nog elke dag aan.

In kort, oor ‘n tydperk van 12 jaar is my ma, pa, ouma en my man dood, een elke drie jaar. My ma het drie keer probeer selfmoord pleeg, die derde keer geslaag. ‘n Perd het my aan my voet gesleep en my lewe verander. Ek het getrek. My man is in my arms dood en ek moes oorleef en leef, en ek HET!

Is ek jammer vir myself ? Nee ! Het ek op ‘n hopie gaan? Nee ! Skryf ek om simpatie te kry? Nee ! Skryf ek want ek kan die verlede nie laat gaan nie ? Nee ! WIl ek raad gee, sê hoe jy moet en nie moet nie? ‘n Besliste NEE, want dit was MY ervarings, MY belewenisse en hoe EK wat ookal gebeur het hanteer het.

Nou hoekom wil ek alles met jou wat hier lees deel ? Ek hoop ek kan jou inspireer op enige manier moontlik.Ek hoop ek kan mense die lewe meer laat waardeer. Ek hoop ek kan ‘n verskil maak.

* Wil jy ook blog? Gaan na blogs.sarie.com en begin.

Verwante artikels

Kommentaar

  • vroeg oggend gryp jy my op FB en laat aand wwer, sommer vinnig help jy my lag en bring straaltjie son wat warm maak waar dit koud is en lig waar dit donker is, jy is eerlik, opreg. Jy is warm en gulhartig. Jy neem my onder jou vlerk en jy deel die pad vorentoe...rigting. Ek kan voel hoe kreukel jou kieste en hoe frommel jou lag spiere as jy die lewe stuit met sy streke en skuinsklap eenkant toe. Ek sien hoe jou gees beur en vorentoe skiet so vry... net omdat jy kan en net omdat jy wil onge-ag wie,wat waar, of hoekom. Sommernet sommer net. Ek kry dieselfde krapperigheid hier in die omgewing van asprisgeid ek wil ook en ek gaan wraggies probeer.... hier kom ek...dalk nie so sterk of vinnig nie, maar tog wel. Dierbaar mens jy,jy is lewe

    8ste Jun. 2010, 14:13
  • Jy is voorwaar 'n inspirasie vir almal van ons! Jy weet van die pyn van die lewe en van smart. Ek wroeg al jare met soveel dinge, my man en my beste vriendin het my verkul en 5 jaar daarna het hy my gelos omdat hy nie kwansuis kon hanteer dat ek heeltyd vra waar hy is of met wie hy praat nie! Ek was stukkend, maar na 'n jaar het hy teruggekom en ons het weer die stukke opgetel, ons is weer getroud maar die seer is in my diepste hartkamer toegesluit. Baie min mense weet hiervan maar die seer knaag soms kwaai. Hoeveel kan ek nie by jou leer nie Tanya? Dankie en jy is 'n inspirasie vir my! Groetnis Sonnette

    2de Jun. 2010, 12:39
  • Ek weet nie wat om te tik nie , maar ek tik want ek weet Tanya moet hoor hoe INSPIREREND sy is . Ek dink my daaglikse uitdagings is moeilik - liewe jimmel , jy is deur soveel meer. Ek sien uit daarna om te leer my jou . Ek is 20 en jy is 'n mentor vir jong dames soos ek .

    1ste Jun. 2010, 22:03
  • Dankie vir jou wonderlike woorde, dit het die seer van 24 Oktober 1990 laat bedaar - en alles daarna wat uit Marie se onbesonne dade gespruit het. Die laventel bosse wat wieg in die wind het aan my hart geraak en ek het daardie seer saam met die wind gestrooi en sal van nou af vorentoe kyk, vergeet sal ek nooit maar miskien sal aanvaarding nou makliker kom. Dankie Tanya ek waardeer dit!

    1ste Jun. 2010, 12:32
  • Tanya, Met groot respek en opregte jammerte vir die seer wat jy deur moes maak het ek gelees van alles wat met jou gebeur het. Jy is 'n inspirasie vir elke vrou en veral vir my. Ons elkeen het 'n kruis wat ons dra en of dit iets is wat steeds by ons spook of dit nou 'n dierbare is wat weggeneem is of watookal....... jy weet hoe om die situasie op te som en ons elkeen weer moed en asem vir die toekoms te gee! Dankie vir jou woorde, dit het my seer beter gemaak en my laat besef dat ek nie die enigste bloeiende siel is nie! Sanet - Boksburg

    1ste Jun. 2010, 12:28
  • Hi jy, so lekker om van jou te lees. My man, my ma en my pa binne 1 jaar aan die dood afgestaan, ek ken daai gevoel van allees wees, al het ek toe 'n dogtertjie van 7 jaar oud in my lewe gehad. SOms verstaan ons nie al die seer en teleurstellings nie, maar LIEWE JESUS heel al die wonde....

    31ste Mei. 2010, 14:27
  • Sjoe Tanya.....dis wonderlik om te sien hoe mens deur soveel trauma heel aan die ander kant kan uitkom, hoe mens die negatiewe in positiewe kan verander. Jy is vir my ñ inspirasie!!! Ek besef ook net weer vandag dat dit van ons elkeen afhang of ons die positiewe gaan kies en wat ons met die negatiewe gaan maak. Ek hoop dat die babatjie wat daar in jou magie groei vir jou net vreugde sal verskaf!!

    31ste Mei. 2010, 13:24
  • BAIE BAIE dankie.... my man is 20 maande terug op die GSChallenge ook in motorfietsongeluk dood. Ek het ook sy as teruggekry en koud en leeg gevoel. Om nuwe moed en hoop te he beteken nie dat mens nooit hartseer is of verlang nie!! Ek is nogsteeds alleen en moet nogsteeds wonder waar ek geld gaan maak om 3 mondjies te voed, maar hy het so baie in ons lewens ingebou dat ek hoop het om die mooi in die lewe raak te sien....Hoekom en waarom trek jou af, hoop en glimlag bou, daarom sit maar die sement aan en verf die wimpers, as dit mens beter laat voel!!

    31ste Mei. 2010, 13:21
  • Marguerite van Wyk Tanya, jy is `n ONGELOOFLIKE inspirasie, jy skryf so mooi. Ek het nie besef jy is deur soveel hel nie. Om jou man en jou ma en pa te verloor. Dis baie baie erg.Jy is sommer `n wonderlike mens en dis HEERLIK om als te lees wat jy skryf!!!!!!!Sien uit om nog baie lank te lees wat jy skryf.

    28ste Mei. 2010, 15:00
  • Tanya. Wat kan ek se my soulsister? Ek is so bly jy is deel van my lewe, elke dag! Wat sal 'n dag sonder Tanya wees? Vroegoggend in die chatbox se ons nog deur die slaap goeiemore, deel ons ons gedagtes, deur die dag verneem ons hoe dit met mekaar gaan, laataand wens ons mekaar soete drome toe. Ons stap al 'n lang paadjie en ons ontmoetinge is kosbaar. Ons deel ons hartseer, ons suksesse, ons wense, ons drome. Ons inspireer mekaar, debatteer, lig ons menings en stem nie altyd saam nie, maar dit is wat ons vriendskap so uniek maak. Ons is volwasse genoeg om te erken dat ons nie altyd saamstem en net 'n ja-broer verhouding het nie. Jou verfkwashale is ook in my huis om altyd deel van my dekor uit te maak en wanneer ons ver is, sien ek jou daar! My vriendin, my soulsister, you make a difference, nie alleen in my lewe nie, maar die kommentare hierbo spreek vanself. Ons lief jou!

    27ste Mei. 2010, 07:24
  • Tanya ek sien baie uit na die reis saam met jou. Jy is vir ons almal 'n inspirasie.

    27ste Mei. 2010, 05:46
  • Dit is baie ware woorde, dis nie lekker om deur al die trauma en teleurstellings in die lewe te gaan nie, dis baie harde woorde. Al wat ek kan se is 'n mens kry krag om elke dag aan te gaan en elke dag net beter te hanteer, al is dit hoe moeilik soms. En dankie vir jou wat vir my so baie inspirasie gee om elke dag met 'n nuwe gemoed aan te pak. !!!!!

    25ste Mei. 2010, 20:38
  • Tanya, ek glo elkeen van Sarie se lesers sal met my saamstem dat hulle baie daarna uitsien om jou blogs te lees. Ek het al en dit was vir my elke keer 'n heerlike belewenis. Jy het die vermoe om die lewe so fyn waar te neem en weer te gee en ons met humor en soms ook nostalgie deur die lewenspaaie te begelei. Jou verhaal is so uniek en ons as lesers sien uit daarna om met jou op reis te gaan ...

    25ste Mei. 2010, 18:00
  • Ek het vanoggend met iemand gepraat met wie dit laasjaar verskriklik sleg gegaan het. Maar sy het met 'n glimlag (soms 'n glimlag-masker) aangegaan met die lewe. Sy vertel my hoe mense (lees smartvrate) in supermarkte na haar gekom het en haar "simpatiek" aan die skouer gevat het met 'n :"Hoe gaan dit?" Party wou regtig weet hoe dit gaan, maar 'n hele paar wou net die juicy detail kry van hoe dit gaan. Hulle wou nuuskierig hoor hoe sy swaarkry en huil en krepeer van hartseer. Sy vertel sy kon sommer sien hoe sak party gesigte van teleurstelling as sy antwoord: "Baie goed, dankie!" Sy het ervaar dat sommige mense daarvan hou om in smart rond te ploeter. Dis vir mense soos Celest wat jy skryf, Tanya. Mense wat kan opstaan en aangaan. En jy doen dit so goed!

    25ste Mei. 2010, 17:31
  • Ai, Tanya jy gee 'n mens so baie dinge om oor te dink. Dankie dat jy dit met ons deel en so uit jou hart skryf. Sien uit na die volgende blok.

    25ste Mei. 2010, 16:36
  • Tanya jys 'n ster! My kleintyd skooltoe loop vriendin! So lief vir jou! 'n Inspirasie elke dag!

    25ste Mei. 2010, 16:07
  • Ek het jou op FB leer ken, as die eksentrieke kunstenaar, die funny een met die anderster uitkyk op die lewe. Maar hoe meer ek van jou leer ken het, hoe meer het ek van jou gehou. Jy is 'n inspirasie vir baie, en ek glo dat jy met die blog defnitief ook nog meer mense se lewens kan aanraak met jou besliste sielsgelukkige uitkyk op die lewe. Daar kom tye in mense se lewens wat hulle nie weet hoekom, waarom en waarom dinge juis met hulle moes gebeur het nie. Maar dit is tog so belangrik om te besef, dat jy wel die negatiewe kan omskep in die positiewe! En dit is beslis wat jy gedoen het!

    25ste Mei. 2010, 15:29