Tanya O'Connor Blog: Aangename kennis, Mildred!

Deur Tanya O'Connor, SARIE Augustus 2010

"...Ek het altyd robotte groen gewens, en dit vir wat? Ek het my middelvinger baie gebruik, nou waai ek vir mense wat glimlag wanneer ek verbykruip met Milly..."

Ek het vanoggend in my 1952-Nash Metropolitan geklim en gewonder, hoekom ry ek jou, ou "girl"? Ek kan haar nie sommer net 'n  "girl" noem nie. Sy is ouer as ek, en sy het baie meer van die lewe gesien as ek. 58 jaar van haar lyfie aanmekaar hou en "still going strong".
Ek stel julle graag voor aan hierdie besonderse wiele.
Om Mildred, aan die gang te kry vat baie geduld. Jy moet eers die petrolpedaal 'n paar keer pomp, dan die sleutel draai en die aansitknoppie druk. Partykeer moet jy selfs die "choke" en die knoppie saam manipuleer, dan eers kom sy aan die gang. Maar as hierdie ou statige dame haar stem dik maak, is daar geen keer nie.
Mildred het geen luukshede nie, maar haar statige manier van ry, bring kalmte en vreugde elke keer wanneer ek inklim. Sy laat my besef dat daar baie meer aan die lewe is as om te jaag van punt A na punt B.
Mildred beskik oor die fenomenale 0 - 60 kilometer per uur in dertig sekondes!
Daar is meer aan "motoring" as spoed. Sjoe, het ek daardie woorde gesê? Tanya wat foto's neem van haar motor se spoedmeter, dit dan MMS na die handelaarshoof en byskryf: "Ja, Garth die Coupe kan daardie spoed bereik." Wat het met my gebeur?
Ek het spoed en luuksheid agtergelaat die dag toe ek Mildred begin ry het. Sy gee my elke dag nuwe oë om deur te kyk, met haar stadige maniere laat sy my die mooi om my meer waardeer. Sy is so stadig ek kan selfs die blare van 'n boom in detail bewonder wanneer ek verbyry. Ek sien die verskillende skakerings van die blou lug, die wolke se patrone meer raak as ooit tevore.
Ek het altyd robotte groen gewens, en dit vir wat? Ek het my middelvinger baie gebruik, nou waai ek vir mense wat glimlag wanneer ek verbykruip met Milly. Ek ry stadig en beleef hoe dit moes gewees het 60 jaar gelede. Dinge het stadiger gebeur, daar was meer tyd vir jou medemens. Selfone, rekenaars al die goed wat ons lewens net meer gejaagd maak, het nie bestaan nie. Mense het nog briewe geskryf, pieknieks gehou, na die wireless geluister. Ek weet die lewe het verander, ek het verander, maar ek sê dankie vir hierdie liewe motor wat my laat dink om stadiger te loop en tyd vir myself te gee. Dinktyd, terwyl ek in haar ry.
Die week lê voor, uitdagings en sperdatums. Lysies wat afgemerk moet word, 'n mens raak so vinnig verstrengel in 'n gejaag. Probeer vandag net 'n bietjie stadiger beweeg, miskien sien jy iets raak wat jou deur die dag sal dra !

PS. Ek moes lag . . . in plaas van luister na my iPod het ek vandag na Mildred se enjin geluister!

Verwante artikels

Kommentaar