Tanya O'Connor blog: "Die trane loop..."
Vanoggend toe ek Rory voed, kyk ek in sy blou ogies en wonder wat sou Catherine Joan Winifred sê van hom?
My ma was altyd so trots op haar rits name. Dit is vandag haar verjaarsdag, sy sou 70 jaar oud gewees het. Sy is nou al 19 jaar nie meer hier nie.
Op Hallmark is daar ‘n "trailer" van Mamma Mia, die fliek oor musiek van Abba as ek dit so kan beskryf. My ma se gunsteling-liedjie was , "I have a dream". Die woorde weergalm vanoggend in my kop, en die trane dam op binne in my brilraam!
"I have a dream, a song to sing, to help me cope with anything, if you see the wonder, of a fairytale, you can face the future" . . . . sy kon nie "cope" nie. Ek het met ‘n ma grootgeword wat aan depressie gely het vandat ek 11 jaar oud was.
Ek kyk by die venster uit, soek haar agter ‘n sipres boom in die tuin, die hoop beskaam nooit nie, al weet ek sy kan nie daar wees nie. Sy leef voort in my hart, ek mis haar as dinge goed gaan en dit is 99% van die tyd in my lewe.
Vandag is ‘n dag van dankie sê, dankie dat ek haar my ma kon noem en dat ek deel van haar lewe kon wees, al was sy siek vir die grootste tyd wat ons mekaar geken het.
My oë gly oor my "ma", my skoonma se lappies gebreide kombers, dit vou my toe vandag met liefde en "toemaar huil maar my kind" soos sy vanoggend vir my gesê het.
Ek glimlag, ek het weer ‘n ma gekry. ‘n Ma wat soggens opstaan en met wie ek kan gesels. Ek kan die twee nie vergelyk nie, ek weet net dat ‘n grooot venster van geluk het weer oopgegaan toe ek weer ‘n ma gekry het.
Hoe was dit om saam met haar te leef? Ek kan dit beskryf soos slaptjips en roomys, saam op een bord, met ‘n hele chilli opgekerf en bo oor hierdie gereg gestrooi. Soet en eina saam. Die roomys - hoop van my ma wat gesond sou word was altyd daar.
Soggens is ek skool toe met ‘n vrees, sou sy leef as ek by die huis kom? Sy het drie maal probeer selfmoord pleeg, die derde keer het sy geslaag. Twee keer in my matriekjaar probeer.
Ek het middae na skool by haar gesit, probeer gesels, met haar gedeel wat by die skool gebeur het. Ek het maar net voort ge"yap", my ma het haar rug op my gedraai en ek het met ‘n bondeltjie bene gepraat. Haar gewig het gedaal tot 45 kg, sy was nie lus vir kos of vir die lewe nie!
Ek kon nie ‘n eier bak of ‘n automatiese wasmasjien aan die gang kry nie, my ma het my nooit geleer nie! Sy was ‘n perfeksionis, sy wou die wêreld skoonmaak en regpak, regruk en in orde kry, sy kon nie!
Depressie het so skielik in ons lewens ingesluip, een dag was sy nog ‘n raakvat ma en die volgende ‘n niksvat ma.
Is ek kwaad vir haar ? Is ek bitter oor my kindertyd ? Sou ek my lewe wou oorhê ? Die antwoord is NEE op al hierdie vrae. My verlede laat my die hede meer waardeer, my verlede het my ‘n sterker mens gemaak. My verlede het my laat besef hier en nou is wat tel.
Ek glimlag, vee die trane af, hulle sal seker later weer terug wees, maar ek KAN glimlag, ek kan nou glimlag. Ek kan weer haar gunsteling-liedjie op iTunes kies, saamsing met "I have a dream", lekker diep asemhaal en dankie sê dat ek geen verwyte het nie. Ek het vir haar blomme van "all shapes and sizes" gegee toe sy gelewe het!
Rus in Vrede my dierbare dierbare MA!
Verwante artikels
-
Tanya O'Connor blog: ""Hoe saag jy ‘n boom af?"
SARIE - Oktober 2010
Dit is Maandag en die Kaapse Dokter laat al van hom hoor van vroegoggend. "His Nibs" (ou Ingelse sêding gelykstaande aan "sy Hoogheid") lê heerlik en slaap in sy ouma se verrassing.
-
Tanya O'Connor blog: "Kraaines"
SARIE September 2010
Ek wil 'n "mobile" vir Rory ophang, en ek soek vislyn. Ek is seker daar was 'n rolletjie in die derde laai van die kombuiskas, maar nee, ek is verkeerd.
-
Tanya O'Connor blog: "Rory is hier!"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 6
Dis net ná vyf, die son het nog nie opgekom nie en die oseaan is êrens daar onder, onder my kamervenster.
-
Tanya O'Connor blog: "Van Swart na Grys na Wit"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
Ek worstel met my boek se voorblad, hoe beskryf jy HALLO LEWE? Jy kan dit voel, jy kan dit sê , jy kan dit elke dag leef maar hoe lê jy dit vas vir mense om te sien ?
-
Tanya O'Connor blog: "Wat sal jy koop?"
SARIE - Oktober 2010
Wat sou jy koop as jy nou, 2.07 nm, 28 September 2010 ( . . . . .vul jou eie datum en tyd in) soveel geld het dat jy nie al die nulle op jou bankstaat sou kon tel nie?
-
Tanya O'Connor blog: "Ek het NIE vir liefde getrou nie!"
SARIE September 2010
Dit is 2.22 vm, Paddy sit met Rory. Hy het hom sy bottel gegee en ek het hom gewys hoe om winde uit te vryf.
-
Tanya O'Connor Blog: "Ek stuur vir jou 'n warm toevou"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
"Baie keer is 'n oor wat luister al wat nodig is. Kry dit uit jou kop, al praat jy met jouself, al praat jy net met papier!"
-
Tanya O'Connor blog: "Hoe ruik ek?"
SARIE - Oktober 2010
Die Liewe Vader weet vir wie hy kan gee en van wie hy kan neem!
-
Tanya O'Connor blog: "Hoekom ek krampwater in my handsak gaan dra!"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 2
Baie keer is daar mense rondom jou wat jou 'n erge kramp gee maar wat jy dit liefs nie voor kan sê nie. Vir hulle gebruik 'n mens krampwater, sê Tanya
-
Tanya O'Connor blog: "Jy kan!"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 6
Dit is 2.45am, my oë kyk half oor mekaar wanneer ek my voete uit die bed neer sit, die bedliggie aansit. Ek soek my pantoffels.
-
Tanya O'Connor blog: "Kom ry saam"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 3
Ma se gebreide lappieskombers roep my. Klein Rory se ogies is toe en hy is alreeds in droomland in sy wiegie. Ek is vinnig oppad soontoe. Deesdae raak ek dadelik aan die slaap as my kop die kussing raak. Ek kuier dadelik in droomland.
-
Tanya O'Connor blog: "Oor skroewe en groewe"
SARIE September 2010
Ek rus 'n bietjie tussen skryf deur, sit en kyk net af, weerskante van my skootrekenaar sien ek die geskaafde oppervlak. Ek is self daarvoor verantwoordelik. Hierdie lessenaar kom al 'n goeie paar jaar saam met my. Dit was my oorlede man s'n, hy het hierby
-
Tanya O'Connor blog: "Rory kyk in my siel"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 6
Ek is op pad hospitaal toe! Kan nie vinnig genoeg daar kom nie, maar ek besef ook hoe kosbaar die woorde is wat ek nou op 'n skerm neersit. Vir vorentoe, vir spesiale onthou's en niks vergetes!
-
Tanya O'Connor blog: "Volstruisvere, stilleto’s en ‘n motorfiets"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
'n Paar jaar ... dit voel sooo lank gelede
-
Tanya O'Connor blog: "Wanneer dinge gebeur waarvan ek nie hou nie" (Gesprekke met EK)
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 2
Laasnag het ek 'n hele beker water bo-oor my handsak omgekeer.
-
Tanya O'Connor blog: "Wat laat jy toe?"
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Ons gaan braai by vriende Saterdagmiddag. Die landgoed is kiekiemooi, 'n wit perd kom sê onverwags hallo op die stoep.
-
Tanya O'Connor Blog: Aangename kennis, Mildred!
SARIE Augustus 2010
"...Ek het altyd robotte groen gewens, en dit vir wat? Ek het my middelvinger baie gebruik, nou waai ek vir mense wat glimlag wanneer ek verbykruip met Milly..."
-
Tanya O'Connor blog: Me Time Pecan Nut Pie Time
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 7
"Adel, kan ek my favourite tafeltjie kry, vir so tien uur?
-
Tanya O'Connor blog: “Hi Five”
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
"Mom's here!" laat Paddy hoor. Ma het al die pad van die Kaap af gery tot in Mosselbaai om te kom help met haar kleinseun.
















Kommentaar
Bernie Colyn het gesê:
Ai Tanya ek dink nie ander mense het 'n besef wat mense deurmaak met depressie en ook die mense wat met hulle moet saam leef nie. My hart gaan vandag so na jou toe uit.Ek het ook vir Catherine Joan Winifred geken en sy was vir my so 'n mooi mens. Dankie Tanya dat ek ook vandag saam met jou kan huil oor haar. Vergeet sal ek haar nooit vergeet. STERKTE en geniet die mooi onthou dinge van haar.
30ste Sep. 2010, 12:51ALMARINE het gesê:
Dis mooi Tanya! Eks bevoorreg om te se dat ek jou ma geken het! Nie soos jy nie, maar dat ek en jy oorslaap aande gehad het! En julle huis was altyd silwerskoon - 'n ware raakvat ma wat daar was! Ek dink vandag aan jou vriendin!
30ste Sep. 2010, 10:02Theresa Potgieter het gesê:
Pragtig geskryf, Tanya! Daar is niks soos moederskap om jou van jou eie ma te laat onthou nie - die lewe is bittersoet!
30ste Sep. 2010, 09:16