Tanya O'Connor blog: "HALLO LEWE hier en nou!"

Deur Tanya O'Connor, SARIE Augustus 2010

Ek staan op die houtdek en kyk uit oor die see, kan nie glo daar is soveel asemrowende skakerings van grys nie.

Fransmanshoek is geverf daarin. Ek wonder wat doen die dassies daar? Slaap hulle nog? Ek dink aan die rotse waarop geen menslike voet nog getrap het nie. Ek wonder oor die houtbank, sit daar nou iemand daarop? Die loodregte kranse en die see wat daarteen baljaar is ingeëts in my gedagtes. Ek sê dankie vir hierdie oomblik van hier en nou se kan teug aan my Milo. Stapeldrank al vir 'n hele paar maande.

Rory het sy ma aan die hand kom vat, vanaf die eerste dag dat ek van hom geweet het, hy het my op 'n avontuur gevat, sy ma genooi om saam met hom op 'n veldfiets te klim en net te ry. Ek lê snags met hom en gesels, ek deel met hom my hartsgeheime, wel, hy weet dit seker al, want hy lê onder my hart.

My klein seuntjie laat my elke dag dink, hy maak my oë oop en vee die slaap daaruit. Hy sorg ook dat my bril skoon bly sodat ek kan sien en nie deur newels kyk nie. Hy sorg met 'n vuisie onder my hart dat ek nie net sien wat ek wil sien en my blind staar teen wat regtig voor my is nie.

Rory het my geleer van reguit en eerlik skryf, hy het gesorg dat ek my diepste gedagtes, my ék op papier en 'n rekenaarskerm skryf. Ek wens net ek kon vinniger skryf, want om met 'n inkpen te skryf is so goed vir die siel. Om die woorde droog te blaas en weer daarna te kyk onderstreep my oortuigings. Om dit weer te lees en 'n woord net gedeeltelik te sien, die res 'n blerts, is 'n oorwinning. 'n Traan het op die woord geval en dit nog meer betekenis gegee toe die ink daardeur loop. Ek skryf my boek vir my kind, ek skryf ook my boek vir my. Die eerste dag toe ek hom voel skop, het my boek se naam in my kop kom nesmaak. HALLO LEWE, hallo, nuwe lewe, hallo, ek skop jou, Ma. Hallo sê wat op jou hart is en deel jou lief, leed en lewensondervinding. Hallo, elke nuwe dag en elke nuwe gedagte, hallo, kyk na die lewe met ander oë. Hallo waardeer die lewe elke dag meer met my oë se oopgaan.

Wat kan ek en jy in elk geval doen as OM elke dag te sê HALLO LEWE? Al gebeur wat ook al, ons leef, ons haal asem en ons is hier en nou!

Verwante artikels

Galery

  • Tanya O'Connor
  • lewe.jpg

Kommentaar

  • Jy gaan nog saam met klein Rory die lekkerste avonture ervaar.

    19de Aug. 2010, 16:10
  • Pragtig dankie dat ons almal saam met jou en Rory op julle reis kan gaan en dankie dat jy MY weer leer om elke dag as ek opstaan te kan se Hallo Lewe. Sterkte vir die laaste reis van jou swangerskap.

    19de Aug. 2010, 15:12