Tanya O'Connor Blog: Het jy al 'n fout gemaak?
My man sê baie kere vir sy aweregse, driftige vrou: "Honey, we are not all the same." Daardie eenvoudige sinnetjie sit my gewoonlik aan die dink.
Het jy al 'n fout gemaak ?
23 Julie 2010
Hierdie sepies soggens vroeg op TV laat my trane loop. Ek huil deesdae maklik, niks wat pla nie, net die hormone wat die sluise oopmaak.
'n Meisietjie raak op 'n plaas weg en almal soek na haar. Sy was in die sorg van een van die vroue en dié vrou het haar verloor. 'n Misverstand ontaard in lelike woorde wat gesê word en diep seermaak. Gelukkig, soos wat gebeur in sepies, word die misverstand uitgestryk en daar word jammer gesê.
Die sepie laat my dink aan foute, ons almal maak hulle. Ons almal jaag so aan dat ons erg spyt kry daaroor. Ek wou al 'n groot uitveër vat en net uitvee wat ek verkeerd gedoen het. Ek het myself al teen die kop geklap, my eie hande gepiets, maar wat het dit gehelp? NIKS! Ek gaan tog êrens weer 'n fout of twee maak.
Niemand hou van foute maak nie. Sommige maak hulle gedurig en leer nie uit hul foute nie. Elkeen hanteer sy misstap op 'n ander manier. Party erken dadelik hul fout, ander probeer dit toesmeer. Ander trek net hul skouers op en het 'n "never-mind attitude".
Feit bly staan, ons is mense en ons sal foute maak. Ons kan mekaar help wanneer ons 'n fout maak, maar om 'n oordeel te vel is eintlik onregverdig, want die persoon wat dit doen, het ook al foute gemaak.
My man sê baie kere vir sy aweregse, driftige vrou: "Honey, we are not all the same." Daardie eenvoudige sinnetjie sit my gewoonlik aan die dink. Dis só waar, ons is almal uniek.
Sommige foute kan ons regmaak, ander nie. Sommige kan ons op verbeter, party maak 'n goeie verskil in ons lewens, ander foute bly 'n leeftyd saam met ons.
Dit begin vir my klink na 'n verloor-verloor-situasie al die pad - die fout-makery. Maar dit is nie, solank ek leer uit my foute, solank ek dink voor ek praat - wat vir my maar vrek moeilik is. Baie keer weet jy voor jou siel jy maak nou 'n fout, maar jy hou maar duimvas en doen so voort.
Ons is net mense met foute en mense wat foute maak. Wanneer jy te streng is met jouself, laat dit jou net verder in wanhoop wegsak. Dit is nie te sê jy moet jouself op die skouer klop en sê welgedaan as jy 'n fout maak nie, maar vergewe jouself vir die foute wat jy maak. Ek glo dan kry 'n mens meer berusting.
Nou maar genoeg van dit . . . ek het 'n fout gemaak om vanoggend al drie-uur aan my boek te begin skryf. My gewrigte is nou erg seer, maar ek gaan die fout nou-nou regstel. Ek en die liewe Hester wat my pyne wegvryf. Sy gaan ook gewrigstutte aan my vasbind, en dan weet ek gaan ek oukei wees. Toegerus vir die volgende vroeg-wakker-word-skryf se eina-fout!
Ns. Vergewe jouself nou vir jou foute! Sê jammer vir jouself vir jou foute en die jammer en vergewe gaan soveel makliker kom wanneer jy dit vir jou medemens sê!
Verwante artikels
-
Tanya O'Connor blog: "Van Swart na Grys na Wit"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
Ek worstel met my boek se voorblad, hoe beskryf jy HALLO LEWE? Jy kan dit voel, jy kan dit sê , jy kan dit elke dag leef maar hoe lê jy dit vas vir mense om te sien ?
-
Tanya O'Connor blog: "HALLO LEWE hier en nou!"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
Ek staan op die houtdek en kyk uit oor die see, kan nie glo daar is soveel asemrowende skakerings van grys nie.
-
Tanya O'Connor blog: "Volstruisvere, stilleto’s en ‘n motorfiets"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
'n Paar jaar ... dit voel sooo lank gelede
-
Tanya O'Connor blog: Me Time Pecan Nut Pie Time
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 7
"Adel, kan ek my favourite tafeltjie kry, vir so tien uur?
-
Tanya O'Connor blog: Om te gesels met Fransmanshoek
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 4
Ek waai elke oggend vir Fransmanshoek van die dek af. Ek sien hoe die seeperde daar galop, spring oor rotse, terugkeer see toe om net weer te pronk met hulle wit pluime.
-
Tanya O'Connor blog: Wat my kind my leer
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 7
Ek kan nie slaap nie, my maag is in die pad.
















Kommentaar
marie het gesê:
Die probleem met foute maak is net dit...dis soveel makliker om ander te vergewe...nie so maklik om jouself te vergewe nie!
23ste Jul. 2010, 20:21