Tanya O'Connor blog: “Hi Five”

Deur Tanya O'Connor, SARIE September 2010

"Mom's here!" laat Paddy hoor. Ma het al die pad van die Kaap af gery tot in Mosselbaai om te kom help met haar kleinseun.

"Heaven sent," ek is soo dankbaar sy is hier. Ek voel sommer beter. My man moet weer teruggaan werk toe, was vir twee weke by die huis en in daardie twee weke het ek net liewer geword vir hom. Dit was twee weke vol erge pyn, my maagspiere het gevoel 'n smeulende kooltjie word daarin verweef vir 'n paar dae ná my keisersnee. Ek het soms gevries terwyl ek uit die hospitaalbed geklim het van seer. En net hy kon my help. Hy was party dae 24 uur daar.  

Ma het besluit sy kom help, ek het nogal gedink ek sal dit alleen kan maak, ek was verkeerd. Rory het gister huis toe gekom en laasnag het ek en Ma drie vuil doeke omgeruil en drie keer sy hoogheid gevoed.

Ná elke doek omruil, het ons mekaar ge-''hi five"! Vir ons was dit 'n viering van ons HET dit gedoen. EK het dit gedoen, en sy het gehelp. Ons is 'n span. Vanoggend het ek my tjint self gebad, daar was maar 'n paar goeie skreeue, maar Rory lê nou salig en slaap in sy wiegie en Ma is gou winkels toe. Ma het vanoggend die huis vinnig reggeruk, vloer gewas en gehelp om my omgewing nog meer babavriendelik en gemaklik vir my te maak. Ek sit nog in my pajamas en is nog steeds in verwondering oor die klein wonderwerk waarmee ons geseën is. Ek het myself letterlik al blou geknyp, dit kan mos nie waar wees nie? Maar dit is, my blouoogseuntjie lê knus en warm, handjies uitgestrek bo sy koppie, in droomland.

In hierdie paar dae het my skoonma net dieper in my hart gekruip. Vanoggend het ek vir haar uit "Hallo Lewe" voorgelees. En ek het begin huil. Ek het gelees van die afgelope nege maande, my lewe tot hier, van hartseer en einas, van geluk, liefde en vrede. Ek het gehuil uit dankbaarheid vir die lewe en wat die lewe my gegee het en elke dag gee.  

Ek sal als weer wil oorhê, want als wat oor my pad gekom het, het my die lewe meer laat waardeer. Ek kyk terug en sê met vrymoedigheid "Hallo Lewe"!

Verwante artikels

Kommentaar

  • Ag wonderlik. Dink terug aan die eerste aand nadat ek met my seun by die huis gekom het. Dit bly maar net die grootste wonderwerk. Bly ma het kom help mens het maar hulp nodig. Jy is regtig geseen , vriendin en dankie dat jy dit met ons deel jy laat my ver terug dink en net weer laat besef hoe wonderlik dit is om moederskap te kon beleef.

    10de Sep. 2010, 10:42