Tanya O'Connor blog: "Hoe ruik ek?"

Deur Tanya O'Connor, SARIE - Oktober 2010

Die Liewe Vader weet vir wie hy kan gee en van wie hy kan neem!

Ek is vas oortuig daarvan. Klein Rory gee sy ma al vroegoggend 'n gekruide doek, en net daarna is ek stoep toe om my ander kinders se plassies ensovoorts ook te gaan optel. Ek stap vuilgoeddrom toe met 'n gewigtige sakkie poooh! Ek kan nie meer ruik nie, nou al vir 19 jaar is my reuksintuig nie meer met my nie. Dit lê êrens op 'n klipperige Karoopad waar 'n perd gesorg het dat ek dit agterlaat.  
 
My laaste ruik-maaltyd was 'n toebroodjie met tamatiekonfyt, vroegoggend voordat ons gaan perdry het. Ek en Karin het in die kombuis gestaan en smul aan 'n toebroodjie en 'n beker koffie en toe is ons vort. Dit was 'n asemrowende mooi dag, ek kon die vars Karoobossies ruik. Ek moes op 'n drom staan om op die perd te kon klim. Ons het deur 'n kampie met volstruise gery, toe die perd die grondpad voor hom sien, het hy gedink hy hardloop die Grand National. Ek kon hom nie beheer nie, die gebit was nie tussen sy tande nie. My laaste woorde aan Karin was, "hierdie perd gooi my vandag". Daarna was alles swart. Ek het beheer verloor en die perd het my aan my voet gesleep oor 'n klipperige pad. Die stiebeuel het gelukkig gebreek en ek het bly lê, vol bloed met 'n paar krake in my skedel. Karin het my gehelp tot by die bakkie en my huis toe gevat. 'n Breinoperasie het gevolg en 'n jaar van my lewe is weg in 'n waas.
 
 Van toe af moes ek myself maar verbeel wat ek eet. Ek kan wel een "iets" op 'n slag proe, maar 'n gemengde dis soos byvoorbeeld quiche proe na niks. Rooiwyn, donkersjokolade, en dan natuurlik vreemde Hilda-tipe kombinasies saam is heerlik op die tong. Roomys en slaptjips en ek kan so 'n skootjie tamatiesous ook bysit en dan smaak dit eers lekker.  
 
Terwyl ek nog koerante neersit vir die viervoetiges vang my oog Tom Ford se aangepaste gesig voor op 'n ou Sondagkoerant-tydskrif. Ek het gehoor sy parfuum is "to die for"! Hoe beskryf jy 'n geur? Ek het gewoonlik 'n vriendin of twee saamgeneem wanneer ek parfuum koop. Dit het nie goed gewerk nie, want dan het ek soos hulle geruik en boonop kon ek myself nie ruik nie.  
 
Om 'n vreemdeling by 'n parfuumtoonbank te vra is ook nie van nut nie, hulle kyk my snaaks aan, neem 'n botteltjie en druk dit onder my neus. "Jy MOET hierdie kan ruik!" sê die persoon gewoonlik en staan in ongeloof as ek nie een oomblik van genot vir die ruikie toon nie. Ek het opgehou met daardie ritueel. Parfuum het stadig weggesterf uit my lewe. My gunsteling toe ek nog kon ruik, was Yves Saint Laurent se Paris, die botteltjie het my aandag getrek. Dan was daar ook Poison van Dior.  
 
Om nie te kan ruik nie het beslis meer voor- as nadele, wel vir my. Ek kon die Dierebeskermingsvereniging se hokke gaan skoonmaak sonder 'n sweem van siesa, dit stink. Ek was later ook bestand teen dit wat my begroet het op 'n Saterdag se skoonmaaksessie, dit wat ek kon sien en met 'n graaf opgetel het.
 
Om stalle skoon te maak toe ek nog kon ruik, was 'n onaangename taak, die reuk van 'n perd in 'n beperkte spasie is nie aangenaam nie. Ek het lanklaas stalle skoongemaak, maar soos ek nou hier sit, kan ek onthou hoe 'n goeie oefensessie dit was vir my hele lyf. Die bo-arms was omtrent ferm van bale optel en perdemis op hopies vee en wegkarwei met 'n kruiwa.
 
Ek kan nog sien, en hoor en praat, ek kan nog myself verbeel na wat sekere goed ruik of hoe dit proe. Ek kan Rory vashou en wonder oor daardie babareuk wat ek vaagweg kan onthou van ander babas.  
 
Ek kan nog soveel doen en soveel beleef dat om te ruik nie meer belangrik is nie. Die probleem kom nou wel wanneer ek wonder oor sy doek. Dan voel ek maar en lag vir myself wanneer ek besef NOU is dit tyd vir doek ruil!

Verwante artikels

Kommentaar