Tanya O'Connor blog: ""Hoe saag jy ‘n boom af?"

Deur Tanya O'Connor, SARIE - Oktober 2010

Dit is Maandag en die Kaapse Dokter laat al van hom hoor van vroegoggend. "His Nibs" (ou Ingelse sêding gelykstaande aan "sy Hoogheid") lê heerlik en slaap in sy ouma se verrassing.

Ouma het 'n hele nuwe kamer ingerig vir Rory, met 'n slee-wiegie, kleurryke "mobiles" en foto's van drie geslagte O'Connors. Ouma Maggie (ooo, ek gaan nog baie oor haar te sê hê) kyk ook neer op haar agterkleunseun.  
 
Ons is uiteindelik in die Kaap en vandag word ons trek afgelewer. Ek en Ma is al van vroeg besig om plek te maak vir alles. My lessenaar kom op die toegeboude stoep, en ek kan nie wag om te begin skryf nie. Die uitsig is absoluut asemrowend mooi, ek kan Gordonsbaai se ou en nuwe hawe sien en wanneer die Helderberg met 'n duvet wit wolke toegegooi is, kan ek myself daarin verlekker.  
 
Hier kan jy net wees, jy kan buite staan en net tuur, oor die berge en die see. Jy kan wonder oor wat nou daar in die berg gebeur, jy kan jouself die stilte voorstel en jou indink hoe 'n familie bobbejane die buitelug geniet.
 
Ma kom kyk wat maak Rory, "my kind, hy is darem maar mooi", tipiese ouma, en ek kry so 'n lekker warm gevoel in my bors. Rory gaan sy ouma ken, soveel tyd moontlik met haar spandeer. Ek is dankbaar daarvoor.  
 
"Nou weet ek hoekom Padraig gister daardie boom wou afsaag," deel sy my mee. "Hy wou plek maak vir die hondehok, onder by die braai."
 
Ek stap saam met haar af, miskien kan ons 'n ander plan maak met die hok. Ek sien die boom en die tak, skoonma staan nader met die saag en voor ek kan keer, begin sy saag.  "Nee ma, ek sal," en ek vat die saag by haar, ek kan sien sy is moeg. Maar ophou, nie sy nie!
 
Ek begin saag, probeer eers met die regterhand, maar besef nee wat, ek maak geen hond haaraf nie. En toe met my linkerhand, dit moet mos beter werk, ek skryf dan links.
 
Ma hou die boom vas en ek saag en saag, en hoe meer ek dit doen, hoe lekkerder word dit. Sy wil nog keer, "nee, my kind, wat van jou steke?" My steke is lankal uit, maar dit is minder as ses weke ná my keisersnee, maar ek saag en ek geniet dit.
 
My eerste boom wat ek afsaag! Vir my is dit meer as net 'n boom, vir my is dit 'n bewys dat ek enigiets kan vermag as ek regtig wil. Dit is 'n streep trek, hou net aan, jy kan 'n verskil maak, moet nooit dink iets is onmoontlik nie!
 
Elke dag in my lewe kry ek boomsaag-oomblikke, die lewe rondom my daag my uit om dit te geniet en die  beste daarvan te maak. Ek kan nooit sê 'n boom se stam is te dik of te taai nie, die saag is te stomp of te kort of te lank of te wat ook al nie!  
 
Ek het geen verskoning om nie enige "boom" af te saag nie!  
 
PS Toemaar, dit was 'n dooie boom, en ouma het nou net gesê ons moet nou 'n boom plant vir Rory!

Verwante artikels

Kommentaar