Tanya O'Connor blog: "Kom ry saam"

Deur Tanya O'Connor, SARIE September 2010

Ma se gebreide lappieskombers roep my. Klein Rory se ogies is toe en hy is alreeds in droomland in sy wiegie. Ek is vinnig oppad soontoe. Deesdae raak ek dadelik aan die slaap as my kop die kussing raak. Ek kuier dadelik in droomland.

Ek moet stop vir 'n rooi lig en langs my hoor ek die gebrul van 'n motorfiets. 'n Kaalkop biker kom glimlag vir my.

"Jou lanklaas gesien," sê hy.
"Ja, ses jaar gelede om presies te wees, op Valentynsdag. Toe wou ek opklim en saam met jou wegry, waarheen jy my ookal sou vat. Ek wou wegry van hartseer, ek wou hê jy moes nooit stop met my nie, net aanhou ry."
Hy vra: "En nou? Ek sien jy glimlag, jy is gelukkig, nê?"
Ek antwoord: "Ja ek is, ek lag weer en ek ry weer self motorfiets, ek ry weer self die lewe."  

Die droom het ongelukkig nie aangehou nie, ek kon die "biker" nog baie vertel het. Van ses jaar se groei, en leer om die lewe elke dag meer te waardeer.  

Op 14 February 2004 het ek regtig hierdie droom in die werklike lewe beleef.  By 'n robot het ek gestop in my cabriolet, die trane het geloop en 'n biker het langs my kom stop. Ek dink hy was op 'n Harley Davidson, hy het gevra of hy my trane kan afvee en of ek wil saamry.  Ek het deur die trane hom gevra om versigtig te ry en toe slaan die lig groen. My lewe het ge-eindig en weer begin as gevolg van twee wiele.   

Ek het op die motorfiets van die lewe geklim, en ek het haar gery en dit geniet. Baie dae het ek die reëndruppels op my boude gevoel teen so 200km per uur, en dit het gebrand. Ek het deur stadswoude gery, party dae gevoel ek sien nie die son nie. Ek het baie keer die fiets sommer net parkeer, 'n vuurtjie aangesteek en na die sonsondergang gestaar.  Gedink die son gaan nie weer opkom nie maar dit het.  

Ek kyk om my, ek glimlag.  Chivas, my labrador het op die bed geklim, klein Rory se een handjie is in die lug. 'n Duimpie steek uit, so asof hy sy ma die "thumbs up" gee. Paddy is 'n rukkie gelede werk toe.    

Ek kan hierdie woorde neerskryf met 'n glimlag, ek kan terugkyk en dankie sê vir die lewe se soet en se suur.  Ek kan elke dag sê Hallo Lewe!   PS: Tony, lekker ry daar tussen die wolke, gee daai engeltjies 'n harde tyd!            

Verwante artikels

Kommentaar

  • awesome, just awesome

    11de Des. 2010, 09:59
  • Tony weet natuurlik alles, en hy's sielstevrede om te weet jy't daai dag survive en dat jy so goed doen. xx

    27ste Sep. 2010, 13:26
  • Soos gewoonlik pik ek n traantjie....lyk my die traankliere werk oortyd vir my....dis pragtig Tanya...dankie...ek kan SO assosieer met jou skrywe...die son skyn helder!!

    27ste Sep. 2010, 13:18