Tanya O'Connor Blog: "My prokureur se wyse (gratis) raad"
"Woede en haat gaan sit in jou klere vas, dit bly daar totdat jy besluit om dit uit te was, of selfs om sommer die klere weg te gooi! Help dit om te haat? Dit is tog iets wat jy elke dag met jou saamdra en JOU ongelukkig maak..."
Rory het my kop kom deurmekaar krap, of laat ek liewer sê, die klein mannetjie het al die skoene uit my kas uitgegooi en nou moet ek weer als terugpak en regpak. Maar, dit is ook oukei.
Ek wonder vanoggend oor woede, oor haat en vergifnis. Ek gaan kyk tussen my geskrifte, tik die woord 'vergifnis' en 'vergewe' op my Appeltjie se "search" in. Die twee woorde kom baie keer voor, en die slim stukkie metaal sou my seker kon vertel het hoeveel keer as ek presies geweet het hoe sy werk?
My wyse Ier sê altyd: "Honey, we are not all the same" en ek het nou al geleer om daardie sinnetjie vele kere op 'n dag te herhaal wanneer ek vra hoekom kan ander nie dink of doen soos ek nie. Eerlike woorde wat ek hier neerskryf, want niemand hou daarvan om betwyfel te word nie. Ek glo daaraan om dit wat ek glo te staaf met logiese feite en ondervinding, maar nog steeds nie een mens kan voel soos die ander een nie.
My oorlede man sit een oggend op die gras buite, Chivas, die Labrador, kom sit langs hom. Dit raak stil, ons altwee kyk na die mooi rondom ons, die laventelbosse, die rankende jasmyn en die groeiende bos klein tamatietjies wat ons begin het deur 'n vrot tamatie in die aarde te druk.
Ons begin gesels oor die lewe, ons sê dankie ons het mekaar gevind. Ewe skielik kyk hy intens na my, hy sit sy arm om Chivas en sê: "Tanya, I don't need a son, I've got this dog."
Ek kon nie 'n woord uitkry nie en is ook bly ek het nie. Hy het 'n onsmaaklike en onaangename egskeiding gehad, twee jaar voordat ons getroud is. Sy seun het net kom kuier wanneer hy iets wou hê.
Ek het gesorg dat hy ons elke tweede naweek besoek om te kyk of daar nie 'n beter verhouding tussen pa en seun kan wees nie. Ek was verkeerd deur 'n verhouding en liefde te forseer.
Sy woorde het my laat besluit om te laat gaan, om hom nie meer te forseer om aan 'n verhouding met sy seun te werk nie. Dit het my ook laat besef ons elkeen hanteer hartseer, haat, woede, watter emosies ook al op 'n ander manier.
Wat het hom beweeg om daardie eerlike woorde te sê? Ek het sy privaatheid eerbiedig en nie gevra nie, net die feit dat hy dit teenoor my kon uiter, het my laat besef hoe gemaklik hy met my voel.
Om jou diepste eina vir iemand te vertel vat baie moed, jy deel dit wat jou die seerste maak. Maar deur dit te deel, al deel jy dit net op papier, al erken jy dit net aan jouself, sit jou op die pad om jouself vry te maak.
Ek glo woede en haat keer jou om te vergewe. Ek glo hy het daardie dag homself vry gemaak van woede, haat, teleurstelling en dit wat hom die seerste gemaak het. Dit was sy manier van vergewe.
Woede en haat gaan sit in jou klere vas, dit bly daar totdat jy besluit om dit uit te was, of selfs om sommer die klere weg te gooi! Help dit om te haat? Dit is tog iets wat jy elke dag met jou saamdra en JOU ongelukkig maak.
Die ander persoon wat jy haat, is selde bewus van hoe intens jy haat. Maar jy koester die haat, jy gee dit kompos en water elke keer as jy dit in jou gedagtes toelaat en dit groei mooi totdat dit jou verwurg. Dit vou om jou toe soos bobbejaantou, 'n plant wat my oupa se plante altyd aangeval het. Ek het bobbejaantou sien groei en die plant betrokke het later gevrek van die verwurg van daardie tou.
Wat weet hierdie vrou? Weet sy van my woede, weet sy al wat in my lewe gebeur het? Hoe durf sy sê ek moet vergewe, my vry maak van woede en haat? Wat jy doen, is jou besluit, maar gaan jy toelaat dat iets wat gebeur het, iets wat jy NOU niks aan kan doen nie, jou lewe beïnvloed?
Ek het sowat (en nou MOET ek mooi dink) ses mense vergewe. Waarvoor het ek hulle vergewe? Gee my 'n paar minute, ek moet dink . . . komaan, Tanya, dink! Al wat ek kan onthou, is wie hulle was en regtig net vaagweg waarvoor, twee van hulle was betrokke by die ongeluk wat my man gehad het.
Te dik vir 'n daalder? Ek glo teen hierdie tyd behoort jy, die leser, te weet ek steek niks weg nie en dat eerlik skryf al manier van skryf is vir my! Hoekom terughou, ek sal mos, as ek nou regtig opinie gesoek het, die seer beskryf het. Die woede tot in detail op papier neergesit het of hoe? Ek het woede en haat vrygemaak, ek het besluit dit gaan nie deel wees van my lewe nie. Hoe kan ek voortgaan met leef as dit nog oor my hang of my verwurg, elke dag?
Ek sê nie jy MOET vergewe nie, ek sê ook nie jy MOET nou jou woede en haat net so wegvee nie. Die keuse is JOUNE! Maar hoekom toelaat dat dit jou lewe regeer en jou terughou van totale vryheid en lewensvreugde?
Woede en haat hou jou terug van totale vergifnis, dit hou jou terug van vryheid en van elke dag se lewensgenietinge. DIT HOU JOU TERUG . . . maar weer eens, dit is jou besluit of jy dit gaan toelaat of nie!
Die persoon teenoor wie jy dit voel, oorheers net elke dag verder jou lewe en maak jou ongelukkig! My prokureur het altyd gesê: "Tanya, jy sit negatiewe energeie in jou lyf in as jy woede en haat toelaat in jou binneste." Wyser woorde is daar nie!
Verwante artikels
-
Sarie.com-blogger, Tanya O'Connor: Wat ek my kind gaan leer
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 14
"Ek wonder oor ma wees? Ek wonder hoe 'n ma ek gaan wees?"
-
Tanya O'Connor blog - "Dag-tot-dag"
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 6
Kom élke dag terug vir nog inspirasie.
-
Tanya O'Connor blog - "Ek het besluit om my vrees in die gesig te kyk"
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 3
"Ek het besluit om my vrees in die gesig te kyk, blad te skud, saam 'n glasie wyn te gaan klink."- Sarie.com-blogger, Tanya O'Connor skryf oor haar grootste vrees
-
Tanya O'Connor blog - "My man het in my arms gesterf"
SARIE - Mei 2010
"My man is amper ‘n week gelede dood, ek gaan vandag sy as haal.
-
Tanya O'Connor blog: "HALLO LEWE hier en nou!"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
Ek staan op die houtdek en kyk uit oor die see, kan nie glo daar is soveel asemrowende skakerings van grys nie.
-
Tanya O'Connor blog: "Hallo, Lewe!"
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 17
Tanya O'Connor se man is in 2004 in haar arms dood. Sy't in net 'n paar jaar haar ma, pa en ouma ook aan die dood afgestaan. Sy's weer getroud en nou swanger met 'n seuntjie. Lees haar blog.
-
Tanya O'Connor blog: "Volstruisvere, stilleto’s en ‘n motorfiets"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
'n Paar jaar ... dit voel sooo lank gelede
-
Tanya O'Connor blog: Me Time Pecan Nut Pie Time
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 7
"Adel, kan ek my favourite tafeltjie kry, vir so tien uur?
-
Tanya O'Connor blog: Om te gesels met Fransmanshoek
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 4
Ek waai elke oggend vir Fransmanshoek van die dek af. Ek sien hoe die seeperde daar galop, spring oor rotse, terugkeer see toe om net weer te pronk met hulle wit pluime.
-
Tanya O'Connor blog: Wat my kind my leer
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 7
Ek kan nie slaap nie, my maag is in die pad.
-
Tanya van Graan stel haar eerste solo-album bekend
SARIE - Junie 2010
Tanya van Graan het al 'n bietjie van alles gedoen.
















Kommentaar