Tanya O'Connor blog: 'n Stoel vol Rose en ‘n Grot vol karretjies

Deur Tanya O'Connor, SARIE - November 2010

Ek is moeg. Op 42 is ma-wees nie speletjies nie! Party oggende weet ek nie hoe ek my voete uit die bed gaan kry nie. Ek weet nie hoe ek dit deur die dag gaan maak nie, maar ek doen. ‘n Mens is sterker as wat jy dink.

Ek kan nie sonder slaap nie. Jy kan enige iets met my uitrig as jy my slaap wegvat. Ek sal 'n baie goeie zombie kan speel in 'n riller-fliek, neem net my slaap weg!

Ek is nou al 'n ma vir amper drie maande. Ek kan nie kla oor my seuntjie se slaap patroon nie, maar dit is nog steeds 'n aanpassing om in die vroee oggendure wakker gemaak te word met 'n "whe" van die wiegie se kant af.

Ek maak seker dat daar niks voor my bed lê waaroor ek kan val nie. Onlangs het my voet vasgehaak aan my handsak se handvatsel en ek het amper my kop teen die wiegie gestamp.  Ek hoop maar Rory sal nie die woord onthou wat vroegoggend uit sy ma se mond gekom het nie...

Dit is elke keer wanneer ek hom uit sy wiegie lig 'n plesier, 'n hartswarm-lekkerte om hom te sien glimlag.  En dit doen hy baie.  Hy is 'n rustige seuntjie.  Skoonma sê gereeld, "my kind sit hom neer, jy het ook jou dingetjies om te doen." Of, "ma sal na hom kyk gaan geniet jy jouself." Ek geniet myself die meeste wanneer hy teen my bors lê, wanneer ek sy genotvolle suggies hoor van lekkerte om styf teen sy ma te wees. Wanneer ek wel erens heen sonder Rory gaan, bel ek 'n paar keer om net seker te maak hy is oukei.  Ek en Ouma lag baie vir onse klein Ier, sy lag veral as hy sy ma met 'n straaltjie benat.  

Vanoggend sit my ouma op die punt van my bed! Ek sien Joyce Baird met haar breiwerk, sy glimlag. Nee, ek glo nie aan spoke nie, het net 'n ryk verbeelding. En ek's geseen met 'n redelik goeie geheue.

Ouma Baird het altyd vir my 'n rottangstoel opgemaak met rose wanneer ek verjaar. Die birthday girl kon dan daarin sit net wanneer sy wil. Ek onthou nou nog die gekraak van daardie stoel, hoe klein ek gevoel het in die groot stoel.  Die geur van die rose, die skoon gesiggie en al die persente, die verjaarsdagkoek met kersies op.

My een oom het my altyd na die groot speelgoedwinkel toe geneem wanneer ek verjaar het. Dan het hy vir my 'n trollie gegee en gesê ek kan maar inlaai net wat ek wil. Ek dink nie hy sal dit nie nou waag met 'n verjaarsdag nie! Ja, ek was nogal bederf tot so op elf-jarige ouderdom met die liefde van 'n gesonde ma.  Daarna was dit 'n ander storie, ek moes maar vir myself presente gaan koop.

Ouma kyk na Rory en sien dat hy babaklere aan het wat sy nog gemaak het.  'n Gesmokte pakkie klere met 'n gebreide baadjie daarby booties wat sy met die hand gemaak het. Ja, ek is verras met 'n hele sak vol babaklere wat Ouma gemaak het.  

Sy vra my uit na my seuntjie: "Hoe slaap hy?"

"Ouma, hy slaap goed. Wanneer ek hom neerlê, slaap hy feitlik dadelik. En ek raak aan die slaap die oomblik wanneer ek sy aangename geluidjies hoor."

"My kind gaan jy hom leer perd ry?" vra sy.

"Dit sal sy keuse wees, Ouma, maar ek gaan hom beslis op 'n Yamaha tel sodra hy kan loop!"

So gesels ek met haar en die baai se liggies lê wyd voor my uit.  'n Traan dam op in my brilglase. Dit sou lekker gewees het as sy hier was. Maar waar sy ook al is, sy rus in vrede. En haar kleindogter gaan oukei wees, sy gaan nou wel nie 'n stoel met rose opmaak vir Rory nie maar sy gaan haar bes probeer om elke verjaarsdag spesiaal te maak.

Daar is 'n foto van Paddy se pa, hy kyk vanuit 'n silwer raam neer op sy kleinseun. Ek wens ek het hom geken. Hy is 'n man wat die wêreld gesien het. Hy was 'n offisier in die Royal Navy. 'n Radioloog van formaat, wat seminare wêreldwyd aangebied het. Rory het sy mond, glo ek.  Ek weet Sean O'Connor sou trots gewees het op sy kleinseun.  Ek glo hy sou sy liefde vir diere aan hom oorgedra het.  Rory se oupa het gesorg dat sy lieflinghond, Omega, al die pad van Engeland op die skip Suid Afrika toe gekom het.

Ouma-grootjie Baird en Oupa O'Connor sit en gesels, hulle kyk vir mekaar en dan vir my. "My kind, ons weet jy gaan dit maak, ons weet jy gaan 'n goeie ma wees."

PS: In die tuin is daar nog steeds 'n grot wat Paddy uitgegrawe het. Hy het daar met sy karretjies gespeel en ek is seker Rory gaan net so lustig daar in 'n wêreld van seunsgoed verdwyn.

Verwante artikels

Kommentaar

  • Liewe aarde, met sulke name en vanne, gemeng met Afrika bloed kan die jonge Rory net van krag tot krag gaan.En onthou, ek bak sy bday koek-al moet ons 'n Royal Navy koek bak!♥

    5de Nov. 2010, 14:05