Tanya O'Connor blog: Om jou lyf en jou siel aan te trek

Deur Tanya O'Connor, SARIE - November 2010

Die vraag hou my snags wakker, laat my my kaste weer en weer uit- en inpak.

Die vraag laat my op en af loop in winkels, en dit dryf my kleremaakster teen die mure uit! Vrydag gaan ek 'n BBP ontmoet, en ek wil op my beste lyk.

Dit is nie net wat ek aan my lyf gaan trek wat my kop laat stilstaan nie, maar wat van die voete en rondom die nek, ore en hals? Ek wil mos hê die hele prentjie moet goed lyk. Goed? Dit moet perfek lyk? Perfek? Dit moet asemrowend mooi wees? Hoe wil ek eintlik lyk? Ek kan nie 'n naam gee aan hoe ek wil lyk nie. Ek weet self nie.

Ek voel altyd goed in swart en boonop sny dit 15 kg weg op die plekke waar ek weet ek 'n Rubens-model se lyf verteenwoordig. Ek is versot op die ou meesters se vrouelywe, maar DIT is 'n ander dag se geskrif.

Ek trek elke dag feitlik swart aan, partykeer wel 'n grys nommertjie en, af en toe verras ek almal met 'n pienk bloes. Tanya in pienk, nou dit is 'n belewenis, en ek maak mense nog meer bang as hulle sien ek dra groen en rooi. Skoonma vra altyd: "My kind wanneer dra jy weer jou mooi lappies?" Dié mooi lappies is kleurryke sarongs waarin ek 'n gat gesny het vir my kop en 'n paar steke onder die arms gewerk het om my lyf toe te maak. Dit is die naaste wat ek aan bont kom.

Ek is net nie 'n kleurdra-vrou nie! Ek hou van kleurryke skilderye, ek hou van kleur rondom my, maar nie aan my lyf nie.

Ek wals tot by Accessorize in, op soek na iets anders - iets wat my oog tref, sal ek koop, iets anders as die gewone pêrels waarvoor ek so lief is. 'n Verandering is mos altyd goed of hoe? Ek vertoef by elke rakkie met blinkgoed, en dit is werklik mooi. Ek sal dit kan DRA! Maar helaas, ek hou van "the real thing", al is dit 'n perdestang wat 'n nekstuk geword het. Ek loop uit, en ek weet, my juwelier sal my verwurg met daardie einste perdestang-nekstuk as ek enigiets anders om my nek hang as wat hy vir my maak. 

Ek loop Somerset Mall plat, ek soek na nog 'n paar skoene. Ek het baie, baie skoene, die versameling het al goed aangegroei. Baie van die pare het nog nie die pad gesien nie. Hoekom het ek dit gekoop? Om na te kyk! Ornamente? Ja, ek koop skoene en "display" dit baie keer. Hoe kan ek skoene met fluweel en satynblomme op 'n teerpad laat loop? En hier is ek weer aan die skoene soek. Ek het juis die afgelope naweek 'n paar plakkies gekoop en hulle nog nie van my voete afgehaal nie. Hulle loop regtig lekker, en daar is goud en swart in hulle verweef, my gunsteling-kleure. Ek kry koers motor toe, sonder skoene. Ek is wel by Woolies uit met 'n wortelkoek!

Verwante artikels

Kommentaar

  • Kan nie glo daar is vroue wat nie daarvan hou om te shop nie - ek love klere en koop. Ek sal enige iets dra wat goed aan my lyk en my laat goed voel! Hou ook van swart dra in die winter. Wat bling aanbetref - ook enige iets wat mooi is al is dit nie the real thing nie het van albei in my kas. Dit is a HUGE blessing om jou eie juwelier te kan hê - You are a very intriguing Woman Tanya O'Connor!! Love your blogs!!

    23ste Nov. 2010, 10:24
  • ...en hoekom KOOP jy 'n wortelkoek?Mine is to die for,darling!:0)So mooi geskryf maar sien, my man koop gelukkig die meeste van die tyd my klere en skoene, of ek erf Kleinsus s'n - ek HAAT klerekoop!Bykomstighede is 'n ander saak, veral hoede...en ek LOVE kleur...maar swart is ook nou maar Rubens-lyf se gunsteling...♥

    13de Nov. 2010, 14:19