Tanya O'Connor blog: Om te gesels met Fransmanshoek

Deur Tanya O'Connor, SARIE Augustus 2010

Ek waai elke oggend vir Fransmanshoek van die dek af.  Ek sien hoe die seeperde daar galop, spring oor rotse, terugkeer see toe om net weer te pronk met hulle wit pluime.

Ek vat myself soheentoe, my kleintyd-, tienertyd-plek waar ek oesters sit en eet het op die rotse. Sommer so uit die see. Ek het geklouter waar ek dit beslis nou nie soheentoe sal maak nie, gewapen met 'n skroewedraaier en 'n banksakkie vol gemaalde swartpeper. 'n Suurlemoen is ook saam as ek 'n broek gedra het met sakke.

Ek was onlangs weer daar, ek en Paddy. Terwyl hy die rotse gaan verken het, het ek bly sit op 'n houtbankie, daarop gegraveer "she enjoyed this view", net dit. Ek het net ''gewees'', altans ek het probeer. En daar leer Fransmanshoek vir my 'n goeie les. 'n Les van kop skoonmaak en van net wees. Terwyl ek sit en uitkyk oor die oseaan het my "to do"-lysies deur my kop geflits, ek het gedink aan wat ek als die komende week moes doen. Ek het gewonder wat maak dié en wat maak daardie vriendin, ek het gedink aan of als reg is vir Rory se koms. Ek het gewonder waar 'n sekere boek was, en in my kop die hele huis deurgesoek daarna. Ek het probeer onthou hoeveel woorde ek nog moes skryf vir my boek, en wou tot 'n notaboek nader trek om lysies te maak van waaroor ek nog wou skryf. Totaal verwyder van die ongelooflike skoonheid rondom my.

Totdat daar 'n brander naby my neergeplons het en my teruggeruk het tot die oomblik. Tanya, Tanya, Tanya, hoekom kon jy nie die oomblik geniet nie, het ek vir myself gevra? Die gedruis van die see, die klipdassie wat amper teen jou voete kom son soek het? Die groen mos oral om jou, die woelende blou waters en die strand sonder een voetspoor. Ek het myself teruggehou van die oomblik se geniet, ek het myself teruggehou om die oomblik in tyd weg te bêre in my hart. Ander onbenullighede het in my kop ingesluip, onbenullighede wat die oomblik kom versuur het al was dit hoe belangrik.
Ek het net begin kyk, kyk na die see en dit wat om my was, die kleur van die rotse. Die bankie waarop ek gesit het, ek het gedink aan die "she" wat die uitsig waardeer en geniet het. Ek het my naam sonder 'n potlood of pen langs die sin neergeskryf. Tanya enjoyed this view!

Fransmanshoek het met my gesels, hard met my gepraat met sy branders en ongerepte skoonheid. Sy varsheid, sy lewe en sy oomblikke van net wees. Elke dag is daar sulke oomblikke, sulke plekke. Ek verloor dit soms, dit raak weg in my gedagtegang van "what to do". Wat om te doen vra ek myself soos ek hier skryf, ek moet doen wat vir my goed is en ek moet elke spesiale oomblik vashou tussen my hande en dit teen my bors sit waar dit gaan insink in my hart.

Verwante artikels

Galery

  • Fransmanshoek
  • Die bankie...
  • Tanya O'Connor

Kommentaar

  • Pragtig soos altyd . Ja, Fransmanshoek is 'n baie spesiale en so mooi plek. My man vang graag daar vis (hy noem die hengel want die vang is nie altyd so groot sukses nie). Dan sit ek maar daar by hom op die rotse en as dir Walvis tyd is so lekker. Maar dit is waar ons gun ons self nie die tyd op net af te skakel en te geniet nie. Gaan dit volgende keer net vir myself doen.

    16de Aug. 2010, 12:39
  • Pragtig soos altyd . Ja, Fransmanshoek is 'n baie spesiale en so mooi plek. My man vang graag daar vis (hy noem die hengel want die vang is nie altyd so groot sukses nie). Dan sit ek maar daar by hom op die rotse en as dir Walvis tyd is so lekker. Maar dit is waar ons gun ons self nie die tyd op net af te skakel en te geniet nie. Gaan dit volgende keer net vir myself doen.

    16de Aug. 2010, 12:39
  • Soos gewoonlik geniet ek jou les!!! en ek let nogaals op innie klas!!!

    16de Aug. 2010, 10:35

Web Development by FormFunction