Tanya O'Connor blog: "Oor skroewe en groewe"

Deur Tanya O'Connor, SARIE September 2010

Ek rus 'n bietjie tussen skryf deur, sit en kyk net af, weerskante van my skootrekenaar sien ek die geskaafde oppervlak. Ek is self daarvoor verantwoordelik. Hierdie lessenaar kom al 'n goeie paar jaar saam met my. Dit was my oorlede man s'n, hy het hierby

My lessenaar is een warboel van deurmekaar! Daar is 'n porseleinbeeldjie van 'n seuntjie wat op 'n potjie sit, 'n miniatuur teepot met twee beertjies voor die deur en Bababeer wat langs die kant van die pot speel.
Daar's 'n foto van my man en een van my seun! Sjoe, dit klink darem maar mooi, "my seun"! Daar is 'n antieke blompotjie, ouer as tyd, dit kom al saam met my vandat ek verstand het. Hieroor is 'n paar armkettinkies gedrapeer, olifante in wit- en geelgoud wat net aanhou loop.

Daar is tot 'n waaier vir die koud waai as ek so driftig word - wat deesdae selde gebeur. Ek vermors nie meer energie op kwaad word nie, altans ek probeer baie hard en kry dit nogal goed reg.

'n Hele paar notaboeke en elkeen het 'n ander doel. Ek het gister 'n Baby on Board gekoop vir die Frontier wat ook nog opgesit moet word. Ek sien ook 'n rosary uit Spanje uitsteek onder die warboel van papiere en 'n perdestang-nekstuk wat my juwelier 'n paar jaar gelede vir my gemaak het.

Daar is 'n paar oorbelle, Rory se gunsteling-bling en 'n ring. 'n Botteltjie kleurlose naellak en 'n potjie voetroom. 'n Deurmekaarspul waar net ek weet wat waar is.

Ek rus 'n bietjie tussen skryf deur, sit en kyk net af, weerskante van my skootrekenaar sien ek die geskaafde oppervlak. Ek is self daarvoor verantwoordelik. Hierdie lessenaar kom al 'n goeie paar jaar saam met my. Dit was my oorlede man s'n, hy het hierby studeer. Wou later daarvan ontslae raak, maar ek het dit oorgeneem en dit 'n nuwe baadjie gegee. So een keer 'n jaar het dit van kleur verander.

Ek ken elke merk op die lessenaar se oppervlak, die lessenaar word aan mekaar gehou met 'n paar skroewe. Paddy moet nou en dan seker maak dit gaan nie ewe skielik inmekaartuimel nie. By hierdie getimmerde aan mekaar geskroefde lessenaar het ek al baie trane gestort. Ek kan dit sommer so sien lê in my geestesoog. Daar is diep sielsgroewe oopgeskryf by hierdie tafel. Daar is ook al baie gelag by hierdie lessenaar. Ek weier om 'n ander een te koop. Ek sien die groewe en ek dink aan die groewe in my hart. Die groewe sal altyd bly, net soos die merke in my hart, maar die groewe en merke herinner my aan hoe bevoorreg ek nou is. Hoe bevoorreg ek is om hier en nou hierdie woorde te kan neerskryf.

Ek sal seker weer die lessenaar een of ander tyd bykom met 'n skuurmasjien, daar sal nog groewe bykom, maar ek sal aanhou skryf by hierdie spesiale stukkie onthou waarvan die groewe net elke dag meer betekenis gee aan my bestaan.

Verwante artikels

Kommentaar