Tanya O'Connor blog: "Van Swart na Grys na Wit"

Deur Tanya O'Connor, SARIE Augustus 2010

Ek worstel met my boek se voorblad, hoe beskryf jy HALLO LEWE? Jy kan dit voel, jy kan dit sê , jy kan dit elke dag leef maar hoe lê jy dit vas vir mense om te sien ?

Ek dink terug, ek dink hoe ek elke dag "come what may" maar net moes vasgryp, na jare se gryp het ek dit nogal bemeester om vas te hou en nie te laat los nie.  Want die lekker en die seer het nou saamgeloop.  Hoe gaan jy in elke geval weet wat is lekker voor jy seer ervaar het ?

Ek het twee baie goeie terapeute, eintlik drie, die een se naam is Dr Mont Blanc, die ander Dr Appel en die derde een is Dr Skoon Canvas.  Ek het al agtergekom dat as daar iets is wat bly vassteek in my kop kan een van die drie my help, na gelang van waar ek is.  Onlangs was ek vir vyf maande in die Kaap, gekuier by skoonma terwyl my man daar gewerk het.  Dit was kosbare tye. Sy het Dr Canvas ingenooi op haar toegeboude dek, en gesorg dat ek elke dag met hom gesels totdat die skilderye vir my uitstalling klaar was.

En toe dit klaar is was ek hartseer . . . . al die canvas was vol kleur en die tafel was leeg.  Toe ek die hele versameling na die wynkelder karwei waar dit uitgestal word het ek dit met 'n traan gedoen.  Dit was so 'n antiklimaks, wat volgende.

En toe begin ek dink aan Hallo Lewe se voorblad, eintlik liewer aan Hallo lewe vir elke dag.  

Ek het gedink aan 'n vrou wat die son verwelkom met ope arms, aan 'n vrou wat in 'n rooi rok uitstyg bo donker wolke van hartseer, alleenheid, verlies en seerkry.  Die vrou het ingestap tussen wit wolke van geluk, hoop, liefde, verstaan en aanvaar, van vergewe en laat gaan, van elke dag sê Hallo Lewe.

Ek het haar begin verf, selfs hier en daar 'n silwer randjie om 'n wolk geverf.  En toe is ek op 'n roll, die vrou wat met haar rug na die wêreld staan, die vrou wat vorentoe kyk en haar arms oopmaak vir die lewe!

Ek hoop julle geniet haar saam met my en sê elke dag Hallo Lewe!

PS Ek het haar vir my uitgewer gegee, want hy gaan Hallo Lewe laat leef! Die voorblad is nog in wording, 'n voorblad wat gaan LEEF!

Verwante artikels

Kommentaar

  • Wonderlik kan nie wag om dit te sien nie.

    23ste Aug. 2010, 14:16