Tanya O'Connor blog: "Wat laat jy toe?"

Deur Tanya O'Connor, SARIE - November 2010

Ons gaan braai by vriende Saterdagmiddag. Die landgoed is kiekiemooi, 'n wit perd kom sê onverwags hallo op die stoep.

'n Sagte perdeneus in jou nek kan nogal 'n skrik afgee. Ek en perd gaan stap 'n entjie. Ek glo diere voel aan as jy lief is vir hulle, halfpad op pad hek toe kom skuur hy sy kop teen my rug. Ons loop gesels-gesels, hy in runnik-taal en ek in menstaal. Ek praat met myself en die perd luister.  
 
Ek gesels oor die mensdom. 'n Kennis, by die braai, wil hê sy vrou moet vir 'n borsvergroting gaan. Die gesprek het met 'n gelag begin, maar hy het net eenvoudig te lank op die onderwerp gebly. Ek het die trane in haar oë gesien, sy kon dit nie weglag nie, al het sy HOE probeer. Hoe meer sy gesê het sy is gelukkig met haarself, hoe meer het hy dit bevraagteken.  
 
Ek het gesien sy is gelukkig in haar lyf, maar iemand vir wie sy lief was beslis nie. Ons almal is nie dieselfde nie. Ek sou nie stilgebly het nie, maar DIT is ek. En elke situasie is verskillend van die volgende een. Ek weet ook my geliefde is gelukkig met my en aanvaar my net soos ek is.
 
Mense se opinies oor my lyf het nog nooit vir my saak gemaak nie, dit is wat ek van myself dink wat tel. Om die waarheid te sê, en ek dink nou erg diep, 'n mens het my nog niks negatiefs toegevoeg oor hoe ek van buite lyk nie!
 
Eleanor Roosevelt het gesê ons laat toe dat mense ons "inferior" laat voel. Ons laat toe dat mense ons behandel SOOS hulle ons behandel. Miskien het niemand nog die durf gehad om iets vir my te persoonlik te sê nie!  Ek wonder daaroor . . . ? Is hulle miskien bang of het ek geslaag in Eleanor Roosevelt se raad?
 
Ek luister wel na ander se opinie, maar dit is my keuse of ek gaan toelaat dat dit my ontstel of nie. Ek is ook eerlik met myself en ek weet wanneer ek "verkeerd" is, en ek werk daaraan. Maar aan dié wat my kritiseer om op te maak vir hul eie tekortkominge en wat agter die deur staan van dit waarvan hulle my beskuldig of oor kritiseer, gaan ek my nie steur nie. My vriendekring, of laat ek liewer sê, my kenniskring het ook kleiner geraak vandat ek meer bestand teen woorde geword het.
 
Daar is so baie om oor uit te brei betreffende Mev. Roosevelt se wyse woord. Party situasies oor wat ander van ons sê, is buite ons beheer, maar hoe jy dit hanteer, is wat saak maak.  Bly jy in 'n situasie waar mense vir jou sê net wat hulle wil of doen teenoor jou wat hulle wil of sit jy jou voet dwars?
 
Ek glo as jy wil, kan jy 'n verskil maak in jou eie lewe betreffende mense se woorde teenoor jou en selfs ook hul dade.  
 
Baie keer dink ek te veel aan goeie maniere en hou maar liewer my mond toe. Elke keer is ek spyt ek het dit gedoen, want dan is dit ek wat aan die kortste end trek. Ek werk hard aan hierdie een . . . !

Ja, ja, ja, die ander wang draai en so aan . . . totdat jou nek uit lit raak van juis die ander wang draai! Hoekom net altyd maar sê dis oukei, loop oor my, "spin" sommer jou wiele oor my brose gemoed ek gee nie om nie?
 
Dit is Sondagaand en ek dink aan die vrou wie se oë gister vol trane was . . . . ek hoop sy lees êrens Eleonor Roosevelt raak!

Verwante artikels

Kommentaar

  • Ja suster, om te praat of te broei.....Ek het 'n nes vol kuikens as dit by vriende kom! Maar my termostaat het sommer verby "menopause" hoogstes geskiet toe jou stukkie lees. Ek het my verbeel daardie man het 'n hoendernekkie en ek sien al die geroosterde oorgroeide verwaande hoender in die swartpot yster potjie! moet ek veel meer skets of kry jy ook sulke gedagtes? Ek ken nie eers die vroutjie nie en al my simpatie lê in haar skoot. Vanaand eet ek braai kiepie en dink aan hom dan voel ek dalk beter ek wonder of mens dit Afrikaner Voodoo mag noem?

    1ste Nov. 2010, 15:05