Tanya O'Connor Blog: "Ek stuur vir jou 'n warm toevou"

Deur Tanya O'Connor, SARIE Augustus 2010

"Baie keer is 'n oor wat luister al wat nodig is. Kry dit uit jou kop, al praat jy met jouself, al praat jy net met papier!"

Dit is beanie-op-die-kop-sit koud! Die tweede dag van mis by die see, ek het die skuifdeur na die dek oop vergeet en sowaar, die mis het stilweg ingesluip, amper lê gekry voor die televisie.  
 
Ek hou van misweer, ek voel lekker snoesig agter my lessenaar, beanie op die kop. My honde wat op die bed lê ... wou hulle nou net afjaag, maar vir wat? Hoekom MOET ek elke oggend bed opmaak, hoekom die oomblik bederf? Amper klim perfeksionisme in my lyf in!  
 
Ek gesels met 'n vriendin, ek dink aan haar vandag, ek voel sy kry koud, kry koud teen die wêreld. Sy is pas geskei en haar man betaal nie onderhoud nie. Dae soos vandag voel ek om 'n "hitman" te huur en die bedinges uit haar man te laat B*&^! Hoekom tree 'n man so op? Ja, ja, ek weet 'n saak het twee kante, partykeer sommer drie, maar hoekom nie net praat nie? Vertel haar ek het nie geld om onderhoud te betaal nie, so maklik soos dit. Vir my is dit seker maklik, ek is nie in sy skoene nie, maar ek glo aan eerlikheid, sê hoe jy voel, kry dit uit jou kop uit, maak jou kop skoon.  
 
Ek hoop sy voel ek gee om, ek stuur vir haar 'n gedig per e-pos, 'n gedig wat vertel dat jy jou hande nie altyd voor jou oë kan hou nie. Ek het nog nooit die luxury gehad van ag-toemaar-dit-sal-regkom nie. Ek moes dit maar self laat regkom. Is ek jammer daaroor? Is ek spyt daar was niemand toe ek hartseer beleef het nie? Nee, ek is nie, dit sou lekker gewees het, maar dit het my geleer om my eie besluite te neem, om te kies om te bly lê of om op te staan.
 
Ons almal is nie dieselfde nie, ek sê nie jy moet doen soos ek gedoen het of dink soos ek dink nie, ek deel net wat vir my gewerk het onder mislike omstandighede.  
 
Ek weet nie hoe dit voel om geskei te wees nie, ek weet nie hoe dit voel om dag ná dag te sukkel om te aanvaar dis verby nie. Ek weet nie van die seer wat 'n skeiding bring tussen twee mense nie, ook nie van die eina wat dit in 'n gesin bring nie. Al wat ek vandag vir my vriendinne kan sê, is: Julle is wonderlike vroue, julle is sterk vroue en ek weet julle gaan dit maak. En as julle wil gesels, ek is hier, ek sal fisiek met my vinger voor my mond sit as jy wil gesels. Baie keer is 'n oor wat luister al wat nodig is. Kry dit uit jou kop, al praat jy met jouself, al praat jy net met papier!
 
Vir dié wat vandag hartseer is, moedeloos voel, ek stuur vir julle warmte oor die lugweë! En ek sê opreg en ek bedoel wat ek sê, ek dink aan julle!

Verwante artikels

Kommentaar

  • jou stukkie het selfs een man soos ek wat aaan skeiding dink met een hulpelose man, geraakt. ek sit selfs in eeen verskriklikke huwelijk, die die laatste dag en maande alleen maar afdraand gaan. door skoon ouders. wie heeft raad

    14de Okt. 2010, 12:14
  • Pragtig Tanya net jy wat dit elke keer so kan raakskryf!! Waardeer jou en jou stukkies wat jy met ons deel so baie. Jy is 'n stukkie warmte in die koue!!

    6de Aug. 2010, 08:49