Skoonheid

Dié klein verandering maak ’n gróót verskil aan jou vel

Met een klein verandering aan jou velsorgroetine kan jy ’n vaal vel, vergrote porieë, donker vlekke, ’n veluitslag (break-out) en droogheid dramaties verbeter. Al wat nodig is, is om jou vel twee tot drie keer ’n week af te skilfer.

Soos jou vel nuwe selle vorm, beweeg dooie selle na die oppervlak. Hoewel jou vel natuurlik van hierdie selle ontslae raak, word dié proses al hoe traer soos ons ouer word. Deur gereeld af te skilfer raak jy van die dooie selle ontslae. Die gevolg is ’n gladder, stralender tekstuur. Jou vel is ook meer bevog omdat velsorgprodukte beter absorbeer word – daar is nie ’n laag dooie selle wat die produkte “blokkeer” nie. Afskilfering kan selfs help om hiperpigmentasie (donker vlekke) oor tyd ligter te maak, sê Carmen Seechuran, nasionale opleidingsbestuurder van die skoonheidshuis Clinique.

 

Hoe om af te skilfer

Met ’n korrel-afskilferaar (granular exfoliator):

1. Gebruik dit net twee tot drie keer ’n week nadat jy jou gesig gewas het. As jy te veel afskilfer, kan dit jou velwand beskadig en jou vel aan bakterieë, sonskade en besoedeling blootstel, sê Carmen.

2. Maak ook seker die korrels in die produk is nie te grof nie. Toets ’n paar produkte in die winkel op jou hand en kies een wat sag op jou vel voel, stel sy voor.

3. Gebruik daagliks ’n sonskerm.

Met ’n chemiese afskilferaar:

1.’n Chemiese afskilferaar bevat bestanddele soos sure (salisielsuur, glikoliese suur, melksuur) of vrugte-ensieme wat jou vel liggies afskilfer wanneer jy dit aanwend. Sommige moet jy ná ’n paar minute afwas en ander moet jy die hele dag of aand aanhou.

2. Omdat jy die produk oor jou hele gesig aanwend, skilfer dit jou vel mooi egalig af.

3. Daar is ’n groot verskeidendheid van dié tipe afskilferaars beskikbaar, almal met verskillende konsentrasies sure en ensieme. Vra ’n velsorgterapeut om die regte produk vir jou veltipe voor te stel.

Vermy afskilfering as jy…

… met velprobleme soos rosacea en ekseem sukkel. Dit kan dié probleme vererger, sê Carmen.

Probeer dié produkte:

Clinique Clarifying Lotion 3 (R240 vir 200 ml)

Dié verfrisser wat jy daagliks kan gebruik, skilfer ook jou vel af. Dit is vir ’n olierige vel ontwikkel.

Kiehl’s Clearly Corrective Skin Brightening Exfoliator (R650)

Dit bevat superfyn korreltjies wat dooie selle op die veloppervlak verwyder.

Placecol Gentle Exfoliating Treatment (R350). Beskikbaar by Placecol-salonne

Alfahidroksisure skilfer jou vel sagkens af en help om die vervaardiging van kollageen aan te wakker.

African Extracts Rooibos Purifying Pore-Clearing Face Scrub (R65)

Dit bevat fyn korrels én salisielsuur om veral 'n probleemvel te behandel.

Mario Badescu Botanical Exfoliating Scrub (R499). Besoek www.mariobadescu.co.za

Dié korrel-afskilferaar bevat ook aalwyn om jou vel te kalmeer.

Lees nou

Dís hoekom jy jou hare twee keer moet was

5 stappe en verloor gewig